BO-OOR

Verlede Donderdag middag parkeer ek weer op my self toegeëiende spasie tussen twee bome by die gym.

Voor die informele parkeerplekke by die gym is daar 4 tennisbane. Die belofte van reën in die lug was waarskynlik die rede waarom niemand besluit het om die middag te kom tennis speel nie.

Twee Kiewiete het egter die kans aangegryp om die onbenutte tennisbaan naaste aan my te betree. Seker maar uit nuuskierigheid.

Hulle nuuskierigheid was egter gou bevredig want toe wou dié twee weer uitkom. Soos ‘n roofdier in ‘n hok het een van die Kiewiete egter heen en weer aan die binnekant van die ogiesdraad gestap, al soekende na ‘n uitkomplek. Tevergeefs. Hy kon die bekende grond en plantegroei aan die anderkant van die draad sien, maar het net nie geweet hoe om daar uit te kom nie. Die ander Kiewiet het die situasie ongeërg gadegeslaan.

Terwyl ek kopskuddend na die Kiewiet staar, deel die Heilige Gees my dat ek verniet die Kiewiet so moet oordeel, want ons maak ook maar so.

Ons bevind ons ook soms in ‘n ongewenste situasie/plek, hetsy deur ons eie toedoen of deur omstandighede buite ons beheer, net om dan ook nie te weet hoe om daar uit te kom nie. Ons wil uit.

Ons weet hoe die plek lyk waar ons wil wees (vrede, vreugde, geluk, voorspoed, gesondheid, ens.), maar ons gedagtes gaan heen en weer sonder dat ons vorentoe beweeg. Kan daar net nie maar ‘n deur oopgaan sodat ek doodsluiters kan deurstap na my plek van melk en heuning,  vreugde, voorspoed en vrede nie?

Terwyl ek na die Kiewiet staar word ek herinner aan Rom 12:3 – dat ons elkeen ‘n mate van geloof gegee is (al is dit so groot soos ‘n mosterd saadjie – wat steeds genoeg is). Jesaja 40:31 kom ook by – Dat as ons op God vertrou, Hy ons sal versterk sodat ons met arendsvlerke kan vlieg en nie moeg word nie.

God maak inderdaad deure oop wat niemand kan oopmaak nie, maar dit is nie hoe ons daaglikse bestaan werk nie. Daarvoor het ons geloof nodig.

Vir die Kiewiet moet hy glo dat sy vlerke sterk genoeg is hom bo-oor die tennisbaan se omheining te kan neem. Die Valk se vlerke is nog sterker sodat hy hoër kan vlieg om sy prooi vanuit die lug waar te neem en die Arend se vlerke stel hom in staat om nog hoër te kan vlieg, daar waar hy op die rug van die lugstrome vrylik kan sweef op soek na kos en sy nes in die kranse.

Die oorwinning wat Jesus aan die kruis behaal het, bemagtig ons om as oorwinnaars bo ons omstandighede uit te styg. Dit vereis dat ek daagliks my geloof prakties moet uitleef.

Soos ‘n spier wat stelselmatig sterker en sterker word met gereelde oefening, moet ons geloof ook groei met gereelde oefening. Oefening deur tyd in die Woord te spandeer, die Woord te glo en dan te doen (Jak 1:22-23).