Boarms om op trots te wees

0
68
boarms.jpg

Niemand van ons hou van hangende boarms nie. Maar hoe kry jy jou arms gevorm sonder ure se oefening in die gim? Hier is Linda Kriel se manier.

As daar nou een oefening is wat jou arms vinnig ferm maak, is dit hierdie een! Jy het geen gewigte nodig nie en net een minuut van jou tyd. Probeer die oefening doen vir so lank as wat jy kan, maar hou op net voordat jy voel jou arms gaan afbreek.

linda_kriel_oefening_1.jpg

Stap 1

Die oefening verstewig die spier aan die agterkant van jou boarm, daardie deel wat so wapper as jy vir iemand waai. Staan regop of sit op ’n bankie. Strek jou arms reguit kant toe en draai hulle vorentoe sodat jou handpalms boontoe wys. Jou duime wys nou na agter.

 

linda_kriel_oefening_2.jpg

Stap 2

Beweeg jou arms na agter. Hou hulle reguit en so hoog moontlik agter jou rug opgelig sonder om te ver vooroor te leun. Handpalms wys boontoe. Beweeg nou jou arms in klein polsbewegings na mekaar asof jy wil hê jou hande moet mekaar agter jou rug raak. Moenie jou elmboë buig nie. Pols vir 30 tot 60 sekondes. Jou arms bly heeltyd reguit.

 

linda_kriel_oefening_3.jpg

Stap 3

Sluit die oefening af met ’n strek. Plaas jou linkerhand onder jou regterelmboog en stoot dit agtertoe oor jou kop totdat jy die strek agter in jou regterboarm voel. Hou die strek vir ten minste 30 sekondes. Herhaal met die ander arm. Probeer die oefening 3 keer deur die loop van die dag doen.

 

Watter tipe oefening het die grootste invloed op jou metabolisme?

Oefening verhoog jou metabolisme sodat jy meer kan eet en nie gewig aansit nie. Onmiddellik ná ’n oefensessie is jou metabolisme hoër, aangesien energie vinniger verbrand word. Die tipe en intensiteit van die oefeninge sal hoofsaaklik bepaal hoe groot hierdie invloed op die metabolisme is. Oefeninge met gewigte sal jou metabolisme langer hoog hou as aërobiese oefeninge, waarskynlik omdat eersgenoemde die adrenalienvlak verhoog. Dit veroorsaak dat jou liggaam vinniger energie verbruik. Sommige wetenskaplikes glo dit kan ook te doen hê met die feit dat die spierweefsel na ’n oefensessie met gewigte heelwat meer energie nodig het om te herstel as na ’n aërobiese sessie.

Rondte-oefening (circuit training) is ’n uitstekende manier om jou metabolisme te verhoog én heelwat energie te verbruik. Dit behels kort sarsies aërobiese oefening, byvoorbeeld op een plek draf, afgewissel met kort sarsies spieroefeninge.