Boelies leer my om kritiek te hanteer

0
417
willie_esterhuizen.jpg

Willie Esterhuizen is alombekend in Suid-Afrikaanse vermaaklikheidskringe. Hy gesels oor sy dae as ’n kelner, balletdanser en hoe boelies hom geleer het om kritiek te hanteer.

Wat het jy gedoen voordat jy ’n rolprentmaker geword het?

Ek was ’n kelner by die Spur. En ek was ’n balletdanser! Ek is mos lekker kort, en dit het in my guns getel. Maar jy kan net ballet doen tot jy 35 is. Dus het ek gekies om eerder drama in Engeland te gaan swot en rolprente te maak vir ’n lewe. Tot vandag toe is ek nie spyt daaroor nie. As ek my lewe kon oorhê, sou ek weer dieselfde keuse maak.

Van lengte gepraat, was dit ooit vir jou ’n probleem?

Ek was in ’n skool waar ouens op 14 al harde baard gehad het. Hulle het gedink hulle sal my kan rondstoot omdat ek kort is, ja. (En omdat ek vir die skool se swakste rugbyspan gespeel het ás ek gelukkig was!) Toe kom ek genadiglik agter dat ek net die regte lengte is om my vinger lekker diep in hulle neus te druk as hulle my kop afdruk. Die res is geskiedenis.

Klink my jy het só jou innerlike krag gevind!

Elke keer as die ouens my probeer rondstamp het, het ek net nog méér vasberade geraak om myself te laat geld. Ek moes vir myself uitkyk, anders was dit neusie verby! As ek handdoek ingegooi het, sou hulle my goed opdons. Min het hulle geweet dat ek “hardnekkig” gebore is, en dat hulle “hardhandigheid” my net dikvelliger maak. Dit wat hulle as ’n flaw gesien het, het ek tot my voordeel gebruik.

As jy terugkyk, wat het die stoppelbaarde jou nog geleer?

Om nie te gaan lê en jammer te voel vir jouself as iemand jou kritiseer nie. Dat ’n mens selfs “negatiewe” emosies, soos om briesend te word vir iemand wat jou vlak kyk, positief kan aanwend. Vandag staan ek nie terug vir enigiemand nie. En moenie vir my sê ek kan nie iets doen nie, want ek sál jou verkeerd bewys! Ek het gesien ’n mens kan altyd ’n plan maak.

Sien ons dié elemente in die rolprente wat jy maak?

Ek skryf oor dinge waarmee ek al te doen gekry het, ja. Dis hoekom my produksies soms so kommin is! En daar is altyd ’n swartskaap in. Op die ou end is dit die karakters se tekortkominge wat hulle geliefd maak. Niemand is perfek nie. As jy mooi kyk, sal jy sien dat selfs die mooiste vrou ’n ingroeitoonnael het! Die ouens op skool het my eintlik ’n groot guns bewys.

DEEL
Vorige artikelGod bly belangrik
Volgende artikelDankiesê-Projek
Voelgoed
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.