Bore, balans en ballonne

Dis die week voor die leeus se verjaarsdag.  Ouma en my oudste is albei trots om onder dié sterreteken gebore te kon wees, slegs ‘n dag uit mekaar.

Dit het ‘n jaarlikse instelling geword om dit saam te vier as hulle hier kom kuier.  Hierdie jaar bly hulle vir die eerste keer in ons nuwe woonstel en oupa werk baie hard om kaste vir die slaapkamer te bou en ‘n kombuis te installeer. 

In die voorafgaande weke is spyskaarte beplan, aankope gedoen en alles moontlik bedink om die werk en feestelikhede so gemaklik en gesellig as moontlik te maak, maar die lewe neem sy verloop. Die eerste probleem kom by ‘n ontydige tandkwessie wat nog spruit uit my chemo behandeling.  Die probleem eskaleer in ‘n volskaalse oorlog en gyselaarsdrama wat uitspeel in die vorm van ‘n drie-uur-lange wortelkanaal by ‘n endodontis.  Ek vermoed haar verskeidenheid van vyle en bore sal my talentvolle houtwerk-pa diep beïndruk.  My buitengewone lang tandwortel strek blykbaar tot in my nek.  Ek oorleef die adrenalien teenreaksie en die uitmergelende marteling met ‘n pynvolle kapitale knou.

Dit was ook nie die eerste knou nie.  Daar was ook die ongelukkige voorvalletjie tussen my kar se agterstewe en die van ‘n ander ma by die skool.  Een stamp, baie ure se lyding…

En dan was daar die ander boor waarvan ons familie nog lank sal praat!

“WAAR’S DIE STOPKRAAN!?’ weergalm dit deur die hele erf, terwyl ek niksvermoedend besig is met die kinders se huiswerk en aandete voorbereidings.  Vir die eerste keer in sy 68 jaar het oupa blykbaar die waterpyp in die nuwe kombuis bo-op die motorhuis raakgeboor – of soos hy later verduidelik – baie, baie amper mis geboor! 

Teen die tyd dat ons besef wat gebeur en waar die stopkraan is, het die woonstel oorstroom en die splinternuwe kombuiskaste dryf in liters en liters munisipale water.  Rugseer en bleek geskrik sit ons later en besef dankbaar dat oupa nie homself doodgeskok het nie!

Teen Vrydagaand sit ons vredig om ‘n braaivleisvuurtjie.  Die muur oopgekap, pyp gelas, kaste klaar, versekerings eis op die kar se herstel afgehandel en my mond kan al ‘n klein bietjie oopgaan – genoeg om roomys te kan slurp. Daar volg ook ‘n baie spesiale fliek – Lion King vir die verjaarsdag leeus.

Ek hoor toevallig die week Japan se oudste naam was die simbool Wa.  Dit beteken harmonie, balans en vrede en vorm die sosiologiese vesels van hulle kultuur, soos wat Ubuntu ons morele kode is.  Omdat hulle glo dat God in alles is, word die strewe na ewewig verhef tot ‘n geestelike beginsel.  Dink maar aan die manier hoe hulle ‘n stukkende porselein pot sal regmaak met goud inlegsels om dit te vernuwe tot ‘n kosbare nuwe kunswerk.  Stukkende goed word nie net weggegooi nie en die poging tot ewewig en herstel is ‘n lewenswyse.

Ons is voorwaar deur diep water, gekasty en geboor deur die lewe, maar nou gaan ons die balans herstel.  Ter wille van ewewig en vrede in ons lywe gaan ons ekstra baie koek, ballonne en borrels geniet die naweek! Ons is so dankbaar vir 12 jaar saam met ons yslike lang en mooi seun en ons vier die lewe van my kosbare ma en dank die Here vir gesonde, lewenslustige en hulpvaardige ouers saam met wie ons kan partytjie hou.

Ek het dus 4 belangrike lesse herontdek die week: 

  1. Kyk altyd in al jou tru-spieeltjies;
  2. Kry goeie versekering en medies;
  3. Maak seker waar die stopkraan is;
  4. Weet dat God alles kom nuut en heel maak.  Hy herstel families en verhoudings, stukkende harte en gebroke geloof.  Heling lei tot nuwe groei en onbeskryflike skoonheid en innerlike vrede.