Bou vroeg ’n positiewe liggaamsbeeld

648

“Ek hoop om my dogtertjie van kleins af te leer dat ’n strewe na ’n ideale voorkoms nie ’n prestasie is nie.” – ROLANDA MARAIS

Dáárdie gesprek sal ek nooit vergeet nie. Die koue waarheid was vir my ’n openbaring: Hierdie een is my grootste rol. Ek moet dit reg vertolk. Net daar het my hart drasties standpunt ingeneem.

My vriendin het vertel dat sy vir ewig “vet en onseker oor haarself” sal voel, juis omdat haar ma altyd in die spieël gekyk het en oor haarself gesê het dat sy vet is. Ons besef nie hoe baie ons kinders inneem van wat ons sê nie, veral as hulle nog nie self kan praat nie.

Ek probeer my woorde beter kies, want dit kan beïnvloed wat my dogtertjie, Charlotte (2), van haarself gaan dink! Soggens voor die spieël is ons altyd aan die klets. Tussen nuwe woorde en name van liggaamsdele leer, hou sy my stip dop. Ek is haar rolmodel, háár voorbeeld. Dit daag my uit om myself met liefde te hanteer.

Voorkoms en gewig mag nie ’n obsessie in haar lewe raak nie. My moederhart vrees dit! Dit saai soveel ongelukkigheid by kinders én volwassenes. Ons word daagliks gebombardeer met airbrushed media wat ons minderwaardig laat voel. Dit kan vermy word. Dit moet!

Charlotte is in die stadium waar elke woord sin moet maak. Tussen al die vrugte- en groentewoorde wat ons aanleer, probeer ons haar touwys maak oor die voedingswaarde van al die kossoorte. Sy moet verstaan watter kossoorte goed vir haar lyfie is, om dit mooi te laat groei. Alles gebeur met ’n liedjie of ’n speletjie. Singend en met groot aksie vertel ek haar van spiere en sterk bene.

In die proses werk ek sommer oefening ook in. Ouers moet die voorbeeld stel met koskeuses en ’n gesonde leefstyl. Ek wil binnekort saam met Charlotte joga begin doen. Ons het dit al so ’n bietjie gedoen. Sy lag lekker vir my bewegings. Oefening moet soos ’n speletjie raak sodat sy dit kan geniet.

Saans bad ons saam. Die woorde aanleer verskuif dan na liggaamsdele. Ons praat oor haar mooi ronde magie en sterk beentjies en probeer positiewe woorde gebruik vir alles. Ek voel sy moet haar lyfie liefhê, sodat dit iets is om op trots te wees, te respekteer en verantwoordelikheid voor te neem.

Ons probeer om nie woorde soos “boepie” of “dieet” te gebruik nie. Ek moes selfs my ma ook daarop wys. Dié ouma mag haarself nie “vet” of “dik” noem nie. Daar kleef soveel negatiewe konnotasies daaraan. My hoop is dat Charlotte moet weet ons almal is uniek mooi met ons verskille en al.

Daar is ook net sóveel wat ons tuis kan doen, maar ek glo ’n kind eet wat sy ouers eet. Ons het egter nie beheer oor die suiker wat sy elders by die oumas en maatjies inkry nie.

Dit is belangrik vir my en my man, Jozua, dat almal wat na Charlotte kyk, ingelig is oor die manier waarop ons haar grootmaak. Charlotte is op haar gelukkigste as Jozua komplimente en drukkies uitdeel. Sy sien die respek waarmee ’n man sy vrou moet behandel. Ek glo sy gaan dit ook as vrou begeer.

Deurentyd probeer ek die fokus verskuif deur haar soveel moontlik te prys as sy iets reg doen of bedagsaamheid teenoor ander wys, soos as sy sag vat aan diere en mooi praat met maats. Selfs as sy mooi sing of mooi tel.

Mooi wees kan nie in my kind se oë ’n prestasie wees nie.