Brak en vars water

Die laaste tyd het ek baie friend requests gekry op Facebook – die meerderheid van mense wat openlik verklaar hulle is Christene.

Hul bio lees sommer stukke boldness soos: “Jesus Christus is my alles,” of “Kind van God”. Dan gaan kyk ek wat hulle ‘like’ en ‘share’…

Is Facebook so ʼn groot deal? Ja. Sosiale media het soos ʼn derde been vir ons geraak. Baie van ons is heeldag daarop te vinde en leef onsself behoorlik daarop uit. Die dinge wat ons daarop deel en die pages wat ons like is dan iets wat ons na-aan die hart lê. Iets waarmee ons saam stem en wat ons ondersteun.

By die meerderheid van hierdie ‘Goddelike’ mans is dit net pornografiese bladsye en kaal modelle te sien – ‘Hot sexy girls’. Wow. En dan is die meeste van hulle nog getroud ook, hoor. Tussen al die kaal girls is daar net ‘I love Jesus’- en verskeie bedieningsbladsye. Is dit ok vir hulle? Is dit dalk wat hulle balans noem? Bietjie God, bietjie hoerery? As hulle dink dat dit net ʼn onskuldige manlike ding is om te doen, wil ek hulle aanspoor om die Bybel te gaan lees. Hulle kan sommer begin by Matteus 5:28.

En die vroue? Sterretekens, yoga en mediums oral waar jy kyk. Weet julle nie dat hierdie dinge afskuwelik is in God se oë nie? Nou hoekom hou julle julself op met okkultiese dinge?

Het die liggaam van Christus ʼn warboel van vars en brak water geword? Besef ons nie dat ons ʼn verantwoordelikheid het om ʼn lewe anders as die wêreld te lei nie? Dis oor hierdie tipe dinge dat ongelowige mense dink Christenskap is ʼn klug.

As jy wil adverteer dat jy ʼn kind van God is, then put your money where your mouth is.