Breinrek-opwindend

“The only real failure is the failure to try.” Uit: The Best Exotic Marigold Hotel.

‘n Ruk gelede staan ek by ‘n vekeerslig agter ‘n gehawende karretjie. Die plakker in die kar se ruit lees: “I would have no luck, if it wasn’t for bad luck.” Sjoe! Wat ‘n hartseer lewensleuse om saam met jou te dra?

Die lewe is die lewe. Die sondeval draf nog elke dag saam met ons. As dit nie vir allerhande wonderlike medikasies was nie, het ons steeds gekrul onder kraampyne, net soos die vrouens in die Amerikaanse flieks, want blykbaar het die ultra moderne fliekmakers uit Hollywood nog nie gehoor van die epiduraal nie. (Dit daar gelaat – hul doen dit sekerlik vir die effek.)

Verder, bly die slang maar vir meeste van ons ‘n gevreesde dier wat ons liewerster nie wil teëkom nie. En dan is daar nog ‘n sondeval realiteit: Ons moet werk om te oorleef. Daar is min mense wat soveel geld het, dat werk nie ‘n noodsaaklike opsie is nie.

Ek weet darem nie of ek so ryk wil wees dat ek net elke dag my tyd wil verwyl op ‘n lang Chaise Longue (soos uit antieke Griekeland), besig om aan plomp druiwekorrels te peusel en om deur een of ander persoon met ‘n palmblaar koel gewaai te word nie. Regtig, hoe lank sal mens dit kan uitstaan? My sitvlak gaan beslis begin pyn om nie eens te praat van die totale verveling nie.

Dis so goed as om net te bestaan. Totaal doelloos.

Meeste van ons wil iets beteken. Al gebeur die lewe. Mense land in omstandighede wat nie verander kan word nie. Haglike sowel as hartseer omstandighede. Jy hoef net deur ‘n koerant te blaai om te besef, die lewe is nie kinderspeletjies nie.

 “When we are no longer able to change a situation, we are challenged to change ourselves.”  Victor Frankl, bekende neuroloog en psigiater wat die holocaust oorleef het.

Sodra jy besluit om jou omstandighede uit te daag, op daardie oomblik, kry jy en jou brein hoop. Jy mag miskien nog nie die antwoorde hê nie. Jy mag dalk nog in die dieptes van jou pyn rondwaal en geen uitkoms sien nie. Jy mag selfs voel dinge sal nooit beter word nie, maar hier is die nuus. Jou brein het ‘n ongelooflike vermoë om te ‘rek’ (te werk), sodra dit met iets nuuts uitgedaag word. Breine hou uitdaging.

Nuwe dinge en nuwe maniere maak ‘n mens nogal spookstorie-bang, want alles is so onbekend. Jy kan al die musiek hoor opbou. Wat gaan gebeur? Die onsekerheid is onuithoudbaar!

Maar, gaan vra die wat dit in reeds die onbekende gaan waag het. Hulle het altyd iets geleer, sielsryker geword, wyser en daar was ‘n sin van genot.

Ons almal het ‘n doel, dis ‘n geskenk van ons Hemelse Vader. Ons is nie gemaak om net te bestaan en asem te haal nie.

Slegte omstandighede is nie die eindpunt van jou pad nie, dis deel van jou pad.

Glo jy dat jou enigste geluk is, dat jy geen geluk het nie? Wel, dink daaraan dat jou omstandighede net ‘n deel is van die pad, op die pad na jou spesifeke doel toe. Jy moet net die tree gee en dit gaan soek.

“Everything will be alright in the end, so if it’s not alright, it is not the end.” Uit die dierbare fliek: The Best Exotic Marigold Hotel.

Dis breinrek-opwindend!

Jy het ‘n doel!