Bring buite na binne die winter

0
171
tuin.jpg

Moenie vir die lente wag om plante in jou huis te geniet nie. Hier is ’n paar oulike tuismaak idees.

Dis winter en jou tuin is in ’n diep slaap, maar dit beteken nie dat jy nie die natuur daar buite kan geniet nie. ’n Studie het getoon dat dit baie belangrik is om jou in die koue wintermaande met groenigheid te omring. Dit help jou beter onthou en fokus op wat belangrik is. Jy sal self sommer lewendiger voel as jy lewende plante om jou het wat jy moet versorg. Hier is ’n paar maniere om plante in te bring uit die koue en jou gesond en gelukkig te laat voel.

Kurkprop-magnete met ’n plantjie teen jou yskas

kurk_plante.jpgBENODIGHEDE:
Kurkproppe
Skerppuntmes
Potsand
Klein vetplant
Magneet
Gom

SO MAAK JY:
1. Hol die kurkproppe met die skerppuntmes uit.
2. Druk potsand in die uitgeholde kurkproppe.
3. Steek jou plantjie versigtig in die sand.
4. Plak die magneet met die gom op die kurkprop vas.
5. Maak die sand nat met water uit ’n drupper – en daar groei jou tuin teen jou yskas!

[pagebreak]

Selfgemaakte sement blompotte helder jou huis op

Om besig en warm te bly, kan jy hierdie pragtige sementvase maak. Dis maklik, en met die vase kan jy jou wintertuin na binne bring. Sit ’n blom in jou nuwe pot en helder jou lessenaar daarmee op.

BENODIGHEDE:
Aanmaak-sement (beskikbaar by hardewarewinkels)
Plastiekbottel met sy prop
Koordlose boor
Pen of stok (ten minste een sentimeter in deursnee en amper so lank soos die bottel)
Skêr
Stanley-mes

plante.jpgSO MAAK JY:
1. Boor ’n gat in die bottel se prop groot genoeg vir die pen om in te pas. Druk die pen daardeur.
2. Jou bottel moet heeltemal skoon wees voordat jy kan begin. Maak die sement aan soos aangedui op die pakkie en vul die bottel daarmee. Sorg dat die sement tot heel onder gaan en skud gereeld die borrels uit soos jy die bottel volmaak.
3. Sit die prop met die pen in die bottel en draai die prop vas.
4. Wag 24 uur en sny die plastiekbottel los van die sement. Werk versigtig, want die sement is nog klam en sag.
5. Om die prop te verwyder, kan jy dit met jou haardroër warm maak. Dit help dat die pen maklik uitkom en jou vaas nie breek in die proses nie.
6. Jou pragtige sementvaas is reg vir sy eerste blom of ’n mooi kruietakkie.

[pagebreak]

Flous die winter en laat jou huis warm ruik

Maak vir jou huis sy eie parfuum met hierdie maklike potpourri. Die kruie in die resep sorg vir ʼn heerlike geur.

BENODIGHEDE:
’n Baie mooi glashouer
Rose
Kruie
Handdoekpapier
Mikrogolf-veilige bord
Mikrogolfoond

rose_0.jpgSO MAAK JY:
1. Was die rose en maak dit droog met handdoekpapier. Trek die roosblare van die stingel af. Gooi dit op die handdoekpapier en verwyder enige ander nattigheid wat op die blare oor is.
2. Versprei die blare op die mikrogolf-veilige bord en sit dit in die mikrogolfoond. Skakel die oond net vir sowat een minuut op ’n slag aan en voel of die blare droog is. Die blare sal baie kleiner word as hulle oorspronklike grootte.
3. Gooi die droë blare in die glashouer. As jy verskillende kleure blare het, kan jy dit meng of ’n laag van elke kleur maak.
4. Sprinkel droë kruie tussen die lae. Gewilde potpourri-kruie is roosmaryn, laventel, salie en tiemie. Om dit nog lekkerder te laat ruik, kan jy kaneel of naeltjies bysit.
5. Bind ’n kleurvolle lint om die glashouer vas, en daar het jy ’n pragtige geskenk wat die winter lekker warm laat ruik.