Brümilda moes selfvertroue aanleer

0
55
brumilda.jpg

Niemand word sommer net gebore met selfvertroue nie. Brümilda van Rensburg moes ook haar vrese oorkom en haarself reguit in die spieël kyk.

Jy is ongelooflik selfversekerd. Was jy nog altyd so gemaklik met jouself?

Ons word maar almal herhaaldelik met ons eie selfvertroue, of gebrek daaraan, gekonfronteer. Vir my gaan selfvertroue oor deurleefdheid. Jy word mettertyd gemaklik met jou pakkie. Dalk hakkel jy, dalk het jy sproete oor jou hele lyf, maar dis oukei. Jy maak die beste van wie jy is, want jy kan maar net sê: “Vat my soos ek is.”

Is dit nie makliker om jouself te aanvaar as jy mooi is nie?

Ek het myself nog nooit as “die mooi een” beskou nie. Ek onthou daardie tye goed dat ek na myself in die spieël gekyk en gedink het: “Is dit nou hoe ek gaan lyk vir die res van my lewe?” Ek dink om goed te wil lyk, is deel van elke vrou se geestelike samestelling. Gelukkig het ek geleer dat selfaanvaarding plus selftrots ’n dekselse mooi som maak!

Soms steel vrees ons selfvertroue en lewensvreugde. Het dit al met jou gebeur?

Ek is nie ’n bang Jan nie en het al baie vrese oorkom. Maar soms leer ’n mens op die harde manier en maak jy dieselfde fout twee keer. Ek en my vriendin Annie het al lekker saam perd gery, maar as daardie perde die pad van Sandy Bay na Leeukoppie huis toe vat, voel ek asof Absalom se lot op my wag. Dit is vreesaanjaend. So, volgende keer gaan ek eerder nie saam nie!

En as jy die dag nie op jou beste voel nie, wat doen jy dan?

Ek is omring deur ongelooflike mense, soos Nataniël, wat my verbysterd laat staan met sy talente, en my liewe vriend, Stephen Falk, wat elke jaar op my verjaarsdag vir my pinksterrose stuur. Wanneer ek af voel, dink ek net aan mense soos Mimi Coertse, vir wie ek groot respek het. Of aan wat ek al beleef en oorwin het. Hierdie leef-oomblikke is herinneringe wat my altyd sal inspireer.

Het die avonture wat jy al aangepak het, jou meer of minder in jouself laat glo?

brums_0.jpgDaar was al baie avonture in my lewe. Sommige het ek beplan, soos die vakansie saam met my tjomme in Oostenryk. Dan was daar die avonture wat ek nie beplan het nie, soos ’n lugballonrit wat skeefgeloop het toe die toue waarmee dit geanker was, deur ’n rukwind losgeruk is. Die mandjie het opgestyg en teen ’n muur gestamp en weer aarde toe geval. Dit het my lewe verander. Miskien het dit my versigtiger gemaak. Dit was beslis ’n ontnugtering en ek weet ek het ’n tweede kans gekry.

UIT: Brümilda: Vyftig, vurig & fabulous