Buitemuurse aktiwiteite vir jou kind

0
126
Bertha_Wahl.jpg

Bertha Wahl stel haar kinders aan verskeie aktiwiteite bloot. Só help sy hulle uitvind waarvan hulle regtig hou.

By my kinders, Kiana (7) en Brioné (4) se kleuterskole bied hulle talle buitemuurse aktiwiteite aan waartydens die kinders kans kry om verskillendes op die proef te stel. Dan kan ek ook sien waarvan hulle hou. Kiana het drama en karate gekies. Verder doen sy ook goed in kunswedstryd; sy het gedramatiseerde poësie gedoen in Afrikaans en Engels. Al twee neem ook aan gimnastiek deel.

Ek wil hê hulle moet in hulleself glo sonder om te veel van hulleself te dink. Ek probeer om hulle aan te moedig en erkenning te gee vir alles wat hulle aanpak. Na Kiana se laaste drama-optrede het ek haar vir ’n uitstappie van haar keuse by die speletjiesarkade geneem. Ek bêre al twee se sertifikate in hulle skoolalbums. Dis ook belangrik dat hulle maatjies gelukwens met ’n prestasie, en mekaar, natuurlik!

Doelwitte help om my kinders aan te spoor. Dis soms klein goedjies, soos om ’n handstand reg te kry. Toe Brioné daarmee gesukkel het, het ek haar aangemoedig om aan te hou probeer. Na ’n paar dae het sy dit reggekry. Sodoende het sy besef as sy aanhou probeer, sal sy dit baasraak. Gelukkig is daar nog nie baie druk op hulle nie omdat hulle nog so jonk is.

Kiana is besonder goed met gedigte voordra en woorde leer. Sy help my ook skryf aan GodLiedjies. Sy hou van binnenshuise dinge, soos klei speel, teken en musiek luister. Brioné weet hoe om te redeneer en kan ys aan ’n Eskimo verkoop! Sy is ook my wildewragtig wat buitenshuise goed geniet, soos klim en klouter en swem. As sy ouer is, sal ek haar aan redenaarskompetisies laat deelneem. Hulle ry al twee perd op ouma Elna se plaas, Mooikrans, waar sy perdrykampe aanbied.

My kinders gesels graag oor waarvan hulle hou en nie hou nie. Uit alledaagse geselsies kan ek vinnig agterkom wat hulle natuurlike voorkeure is. Hulle vra gelukkig ook sommer om te dans of drama te doen. Kiana se juffrou op skool, Linda Coulson, het ons daarop gewys dat sy baie kunstig is en ons probeer haar help om dit uit te leef.

Ek geniet dit om in hulle belangstellings te deel deur te help met die kies van gedigte vir die kunswedstryd en die afrigting daarvan. Om ’n lang gedig te onthou, help ek haar om vier reëltjies op ’n slag te memoriseer. Ons geniet dit ook om saam te sing in die motor.
As hulle foute maak, wys ek hulle saggies daarop. Almal maak foute en dis hoe ons leer.
Verder luister ek ook na waarvan hulle nie hou nie. Kiana kon nie verstaan hoekom ’n mens netbal moet speel as jy net in die son staan met voete wat brand nie! Sy het opgehou daarmee, maar sy was baie opgewonde om hierdie jaar by Ouma te leer brei, sy vra al van graad R af daarvoor.

Die invloed van ander is van onskatbare waarde, soos die gesegde lui: “It takes a village to raise a child.” My kinders kom ook gereeld in aanraking met die kunstenaars by manlief se werk, Alice Art Gallery. Lang gesprekke word gevoer en al twee geniet dit om te sien wat Portchie verf. Partykeer mag hulle sommer self die kwas optel.