[BYBELSTORIE VIR KINDERS] God se wonderlike wêreld

382

 

Heel aan die begin het God die aarde gemaak sodat die mense ’n blyplek kan hê. Toe het God mense gemaak.

Eers het God vir Adam gemaak om in die Tuin van Eden te woon. Dit was ’n baie mooi plek. Die blou lug, die riviere, die gras, die vrugtebome, die blomme, die apies en bokke en voëls en visse en goggas … Alles is so nuut en vars. Kort-kort vra God vir Adam wat hy dink ’n blom of plant of dier genoem moet word.

Adam se kop draai later van al die name wat hy uitdink. Visarend, witborskraai, tortelduif, duiker, bosvark, seekoei, kameelperd, appel, appelkoos en nog so baie ander dinge wat wag om ontdek en geniet te word. Die beste van alles is, is dat God dit alles vir Adam gemaak het om op te pas en te geniet.

God het gesê Adam moet vir al die dinge name gee, want hy is die baas van die tuin. Dis vir hom om in te bly. Adam geniet dit. Hy wens net partykeer daar was iemand met wie hy kon gesels. Maar hy kla nie, want die tuin is te wonderlik. God is te wonderlik.