#Bybeltoer

In die voetspore van Jesus

“Die See van Galilea lê om my uitgestrek. Ons vaar op ’n klein houtbootjie en die klam bries waai my krulle liggies oor my wang. Dit is asof hierdie iets meer vir my wil sê”, sê Karmen Wiid ná Finesse se Bybeltoer na Israel.

Meer oor

Ek maak my oë toe en neem die oomblik in. Dit is laat somer hier, maar die wind is steeds vogtig en warm. Dít kom lê soos ’n kombers oor my skouers. Ek was nog nooit so tevrede nie.

My gunstelingdeel van Israel is Galilea en my gunstelingdeel van Galilea is die Berg van Saligsprekinge.

Daar, in die middel van die mooiste tuin wat jy nog sal teëkom, is ’n klooster en ’n klein klipkerkie. Die soet gesang van monnike begelei ’n mens deur die tuin. Ek vind dat gebed die enigste eindbestemming is wat dié reis regverdig.

Een van hierdie paadjies lei na ’n amfiteater wat so naby aan die See van Galilea is, dat die persoon op die onderste bankie hulle voete in die water kan sit. Dit is hier waar ek en my ma (die dominee) gesels oor die bombastiese Petrus. ’n Nederige visserman wat die regterhand van die belangrikste man in die geskiedenis – Jesus – was.

Galilea is ’n uitnodiging. Die hart kom in aanraking met die Allerhoogste en jy leer van voor af asemhaal.

Jerusalem was weer iets heeltemal anders. Wanneer jy die eerste keer deur die Damaskus-hek stap en die ou stad gewaar, ervaar jy iets wat Jesus moes ervaar het toe hy die verkopers in die tempel gesien het.

Binne die mure van die ou stad is Jerusalem soos ’n besige vlooimark. Hier skuur Jode, Arabiere en Christene verby mekaar in die nou gange van die klipperige straatjies.

Ek soek na heiligheid in die ou stad en iewers langs die Via Dolorosa word die klipstraat onder my voete swaarder. Meteens besef ek my eie verganklikheid.

In ’n ondergrondse museum sien ons gedeeltes van die oorspronklike klipstraat waarop Jesus gestap het, op pad na Sy kruisiging. In daardie oomblik maak niks saak nie, behalwe die diepe wete dat Christus se bloed vir my gevloei het.

Galilea was stil en uitnodigend, maar die heiligheid van Jerusalem openbaar ’n hele ander deel van die Bybel. Dit maak die geweld en onreg wat teenoor Jesus gepleeg is persoonlik. Toe ons die volgende dag in die tuingraf sit, kon ek net in “dankies” bid.

’n Ander herinnering is Sinai. Daar het ek gesien hoe sterk menslike wilskrag is. Ou mense, onfikse mense en jongmense het almal saam die staptog van vyf uur aangedurf.

’n Goedgesinde Bedoeïen-toerleier het voor geloop. Toe ek hom uitasem vra of hy nie moeg is nie, noem hy vlugtig dat dit sy derde keer daardie dag is wat hy die berg uitklim. Ek het voortaan my klagtes vir myself gehou.

Ons het teen 01:00 die kruin bereik. Ons groep, wat net ’n paar dae vantevore vreemdelinge was, het die aand saam lofliedjies gemymer en vir mekaar gebid. Dit sou ons eers die volgende dag tref dat ons dieselfde pad gestap het as Moses toe hy die Tien Gebooie ontvang het.

Op die toer het ek baie begin dink oor die definisie van ’n huis en hoe dit vir elkeen verskil.

Vir sommige mense is dit die hart van die persoon wat hulle laat veilig voel, vir ander is dit ’n kleintydplek wat altyd sal herinner aan onskuld.

Ek het daar besef dat ’n mens se “huis” konstant besig is om betekenis by te kry.

’n Huis het nie ’n definisie nie, want tyd las lae by van al die plekke en ervarings wat ons help vorm het. Ons groei daar waar die verlede en die toekoms mekaar ontmoet en ons bly verander deur die skakerings van elke seisoen.

Dalk is dit wat die Here vir ons probeer sê – vind soveel moontlik dinge wat jou laat lewendig voel en maak elkeen jou tuiste. Eers dan sal hierdie aarde jou huis word en sal jy nie meer soos ’n vreemdeling in jou eie vel voel nie.

Dit is die sensasie wat ek ervaar het toe ons op kamele langs die piramides gery het en in die Dooie See gedryf het. Ons het in die Rooi See gesnorkel en Masada se verhaal met nuwe begrip gehoor. Met my voete in die Jordaanrivier het die trane gevloei. Dit was asof die Here vir my gesê het: Haal asem. Jy is ’n oopgekelkte gebed.

Dit is moeilik om die belewenis van Israel met die beperkte medium van taal te kommunikeer. Israel is nie ’n vakansie nie. Dit is ’n belegging – ’n belegging in jou pad met die Here en in hoe jy die Bybel en die wêreld sien.

Om eerlik te wees, het Bybel-lees altyd vir my soos ’n takie gevoel. Dis asof ek nou weer kinderlik opgewonde raak oor die stories, maar terselfdertyd ’n beter begrip het oor wat dit alles beteken.

Ek het myself in Israel gevind – langs die see van Galilea en in die besige strate van Jerusalem. Dit is daar waar ek besef het ek is dalk nie so verlore soos wat ek gedink het nie. Ek is dalk net op pad.

Toerleiers

Om te bespreek

Toer in September 2021 se skoolvakansie saam met Finesse. Liesel en Siebert Wiid is die toerleiers.

OPSIE 1

R29 980

Turkye, insluitend die sewe gemeentes en Istanbul
(9-dag toer)

OPSIE 2

R34 980

Istanbul en Israel
(10-dag toer)

OPSIE 3

R44 980

Turkye, insluitend die sewe gemeentes en Istanbul, asook Israel
(14-dag toer)

Finesse se Bybeltoer na Israel 2019