Bye Pappa

Met die aanhoor van die nuus wel daar soveel emosies in my op, dat ek vir ‘n oomblik verdrink in die golf van die tyding. Die oproep om 01:30 die Woensdagoggend eggo steeds in my ore.

Hy het weggetrek by sy skoolvriend, maar voordat hy by sy ouers kon stilhou het die Here hom kom haal. ‘n Kort ent van hulle huis sit die remmerke, lê die oorblyfsels van sy motorfiets. Die eerste dag van Augustus het sonder hom aangebreek. Hier waar ons langs die pad staan, jaag karre heen en weer asof niks die vorige aand gebeur het nie. Maar vir ons het tyd gaan stilstaan.

Ek wou ons kinders dit so graag spaar. Dit was die langste nag in mens se geskiedenis, maar toe ek weer sien was dit oggend. Ek het hulle laat slaap tot gewone opstaantyd vir skool, want vir die heel laaste maal het hulle geslaap met ‘n pappa en mamma om hulle vas te hou. Ek het hulle by my laat sit in die woonkamer. Dit was die swaarste ding wat ek nog ooit moes doen. Ek sal nooit hulle gesiggies met die aanhoor van die nuus vergeet nie. Pappa is gisteraand oorlede.

Dit is reeds 4 maande later, maar in dieselfde sin is dit nou maar eers 4 maande. Dit voel kort en lank. Maar soos die dae verbygaan, hoe meer is ek onder die besef – hy kom nie terug nie. Nooit nie.

Hoe is dit dat iemand wat só belangrike rol vervul het as pappa, oudste kind in sy familie, steunpilaar en helper vir menige en op die kruin van sy lewe was, weggeneem word? Is die dood ‘n straf vir die een wat heengaan, of vir die wat agterbly? Dan lees ek weer Bybel en bid nog ‘n slag, en besef dat ek nie in hierdie wêreld die antwoorde gaan kry nie. Jer 33:3 sê: “Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.”

Wat ek weet is dat daar groot genade by sy dood was. Binne oomblikke het hy op die Here se skoot gesit. Sy laaste lag, sy laaste groet, sy laaste foto slegs oomblikke voordat hy vertrek het, sy laaste drukkies aan sy kinders, sy laaste verjaarsdag 2 weke tevore, was alles gevul met groot liefde en vrede. Hy was jonk, gesond en suksesvol, geliefd onder familie, vriende en kollegas, een van die slimstes en handigstes, met ‘n grootter musiekkennis as enige iemand wat ek ken. Hy was ryklik geseën.

Hoe mooi is dit om te weet die Here het ons pad so bepaal, dat my broer-hulle daardie spesifieke naweek sou kies vir die doop. Dit het daartoe gelei dat ons naweke geruil het, sodat die kinders die doop kon bywoon. Dus was hulle by hulle pappa tydens sy laaste naweek op aarde. Hy het hulle selfs die Maandag nog gaan aflaai by die skool en daardie aand oudergewoonte saam met ons jongste krieket geoefen. Toe hy hom kom aflaai het hy met sy fors postuur geselsies gemaak met almal. Honderde kere het ek hulle al hoor sê: “Bye Pappa, lief vir jou”. Wie sou kon weet dit was die heel laaste maal.

Ek is dankbaar vir die seën wat ons ontvang het ten spyte van ‘n hartseer egskeiding. Ons het die Dinsdagmiddag vir oulaas oor die foon gepraat. In die maande vooraf is alles gesê wat gesê moes word. Ons het ‘n mooi, respekvolle verhouding gehad. Ons het altyd tyd gemaak om te gesels en was hy altyd welkom in ons huis. Ons het alles van die kinders saam bygewoon en steeds vir mekaar koffie en pannekoek aangedra.

Ek stoei met my geloof, ek kom in opstand teen die wêreld en die nietigheid van die mens, ek staar voor my uit. Ek voel oorweldig deur die wete dat my kinders nou net een ouer het. Ek bid vir wysheid om elkeen op hulle eie plek van rou te ontmoet.

My kleintjie wou nou die dag sy pappa bel, maar met ‘n hartseer: “Toemaar, ek kan hom nie bel nie.” het hy voortgegaan met sy dag. My dogtertjie skryf vir haar pappa dat sy altyd vir hom sal lief bly, al is hy dood. My oudste verlang na die dinge wat pa en seun saam gedoen het. Hulle vra of pappa pyn gehad het, of hy hulle kan sien vanuit die hemel. Die mooiste en hartseerste herinneringe oorval ons dikwels gelyk, dan sit ons met ‘n glimlag om die mond en ‘n traan op die wang. Hulle kruip onder my vlerk in, hier voel hulle veilig. So kruip ek ook weer onder my pilare en onse Here se vlerke in, want daar kan ek asemhaal en moed skep.

Ten spyte van ons fase van verposing beweeg alles steeds voort. Die doop, toetsreekse, skoolkonserte, swem, nog ‘n begrafnis en 2 dae later ‘n troue, ‘n draai in die hospitaal, ‘n skooltoer en uiteindelik eksamen. Ons kan voel hy is nie meer hier nie, en soos die tyd verbystap raak die verlange net grootter. Daarom gesels ons oor sy werk in die hemel en wonder wat hy alles daar doen.

Ons is inderdaad maar net grassade soos Dozi sing. Ek weet dieselfde krag waarmee Jesus dowes laat hoor en blindes laat sien het is in my. Maar as my geloof so groot was soos ‘n mostertsaadjie, sou ek dalk makliker berusting kon vind in die besef dat hy níé soos Lasarus uit die dood gaan opstaan, of soos Jaïrus se dogtertjie net geslaap het nie.

In al die vorige hoofstukke van my lewe is daar ‘n ooreenstemmende lyn wat aanhou herhaal. Aanvaarding. Aanvaarding dat die Here beter weet as ek, dat Sy tyd altyd perfek is al verstaan ek dit nie, en dat daar altyd ‘n plan is met elkeen van ons se lewens al maak dit nie altyd sin nie. Aanvaarding dat daar dinge is waaraan ek niks kan doen nie, en dat ek moet werk met die dinge waaraan ek wel iets kan doen. Aanvaarding dat dinge nie altyd uitwerk soos beplan nie, en dat ek nie altyd my sin kry nie. Dit is ‘n proses waarmee ons nog besig is in hierdie hoofstuk, maar ek weet dat met die krag van Bo ons eendag daar sal kom. Dan sal ons kan sê: “Bye Pappa, lief vir jou, sien jou eendag in die hemel.”