Caroline-Grace Brüssow vind haar stem, haar droom én haarself

546
Caroline-Grace Brüssow
Caroline-Grace Brüssow

Sy het ’n belowende sangloopbaan, ’n graad in die regte en ’n man wat haar hart warm laat klop, maar dit beteken nie CAROLINE-GRACE BRÜSSOW is nie al gebrei deur die uitdagings van die lewe nie.

Wees net weer dankbaar oor die klein dingetjies,” lees ek my man se boodskap op die foon se skerm. Natuurlik is hy reg. Heinrich, my steunpilaar. Sielsgenoot. Die een by wie ek altyd geliefd voel, ten volle aanvaar en goed genoeg.

Want ek ken die ander kant… hoe dit voel om nie in te pas nie. Om nie aanvaar te word vir wie jy is nie.

“Ek is bekommerd oor Caroline. Sy is baie stil en teruggetrokke.” In een van my heel eerste skoolrapporte het die juffrou dit raak opgesom. ’n Skaam dogtertjie. Introvert. Dromer. Omgee-kind. Stil, stemmig en op haar plek.

My ma sê dit was ’n ingebore persoonlikheidsding. Om van kleins af nie my sê te wil sê nie. Ek wou nie ander seermaak, ’n oorlas wees of ’n bohaai maak nie, selfs al was daar soms goeie rede. Die omgee dat ander gelukkig is, was belangriker.

Selfs met twee ouer broers wat sportief en uitbundig gespeel het, moes ek baiemaal stilswye kies net sodat hulle nie geroskam word nie.

In my eerste skooljare het dieselfde skugterheid en oormatige omgee my gereeld in die moeilikheid laat beland.

Dit was weer een van daardie dae in die wiskundeklas – ’n vak wat vir my onkreatief en verbeeldingloos was. Dit het nie vir sin gemaak nie, en met my kunssinnige sien daarvan het ek glad nie die werk soos die ander kinders verstaan nie. Die kwaai onderwyseres het dit egter snaaks gevind om die enetjie wat sukkel, vorentoe te roep om die som op die bord te doen.

Oë wat smeek: “Asseblief nie, Juffrou. Kyk my tog net mis.”

In haar kwaaiheid kon (of wou?) sy nie die noodkreet raaksien nie.

Loop met bewende bene bord toe. Vingers wat die kryt verbouereerd vasklem. ’n Onderlangse gefluister en gegiggel wat deur die klas druis. Sekondes wat soos ure verbytik.

“Gaan staan tog net buite!” bulder Juffrou humeurig oor dié “lui” kind wat al weer nie wil werk nie.

Dankie tog… verlossing. Maar die gevoel is gewoonlik vinnig oorweldig deur skaamte en verwarring. Verward, omdat ek nie kon verstaan hoekom daar heeltyd met my geraas word nie. Skaam, omdat ek elke keer te kort geskiet het.

Daar was baie soortgelyke voorvalle in my vroeë skooljare. Elkeen traumaties vir ’n kunssinnige, sensitiewe kind wat eintlik net wou lugkastele bou en almal tevrede stel.

Skool was maar ’n snaakse plek. ’n Vormingsplek waar sommige onderwysers en kinders jou spot en kritiseer.

Maar ook ’n plek van ontferming, waar ’n handjievol leerkragte met sagte oë en deernis na my gekyk het. Mense wat die potensiaal in die dromer kon raaksien. Wat my kon help om my voete te vind en uiteindelik te blom in die rigtings waarvoor ek wél aangelê was. Nie wiskunde, skeinat of biologie nie, maar dans, sang, drama, kuns en kultuur.

Die invloed van ander mense op iemand se lewe is ongelooflik. Vandag is ek bly oor elkeen se rol, want dit was nodig vir my reis tot hier. Dit het my gevorm as mens: ’n persoon wat lojaal, liefdevol, positief en vol begrip is. Maar ook sterk en ’n vegter is. Iemand wat weet wie sy is en wat sy uit die lewe wil hê.

My ervarings op skool het my geleer dat mislukkings en ander se gebrek aan begrip, ongeduld en wanpersepsies, jou nie as mens hoef te definieer nie.

Wat eerder saak maak, is hoe jy dit oorkom, wat jy daaruit leer, en hoe dit tot jou voordeel kan strek.

Die doodse vrees vir ’n wiskundesom is steeds daar. Moenie my vra om uit te werk hoe vinnig die trein in soveel uur teen ’n windsnelheid van so en so ry nie. Wat maak dit saak? Spaar jou asem.

Maar wees gerus: Ek sal jou ook nie van jou verwag om op verhoog te klim en te sing nie. Elkeen het sy eie ding waarin hy uitblink. Die geheim is om dit vir mekaar te gun.

Van die waardevolste lesse het ek dus reeds vroeg in die lewe geleer. Soos om mense te aanvaar en te waardeer soos hulle is. Dit is beperkend wanneer die lewe binne lyntjies geleef word en wanneer liefde en aanvaarding aan ’n rits voorwaardes moet voldoen.

Dis nie hoe dit behoort te werk nie. Ek gaan nie môre liewer vir jou wees as jy my beter behandel nie. Jy gaan ook nie belangriker wees in my oë wanneer jy presteer of sukses behaal nie. Ek hou van jou (of nie), ongeag.

Dit was by die ongelooflike Eunice-meisieskool in Bloemfontein waar ek myself gevind het en my uiteindelike passies ontdek het. Waar daar geleer is dat elke mens tel en almal ewe belangrik is. Dat dít waarin jy as persoon goed is, saak maak.

Elkeen is hier raakgesien, en dit het my as mens laat floreer.

Toe ek eers my nis gevind het, het die skaam- en bangwees vanself begin verdwyn. Vandag is ek steeds ’n introvert, maar ek het my stem, my droom en myself gevind.

Dis in hierdie skool waar ek geleer het dat daar mooi en goeie dinge in elkeen opgesluit is. Ook die besef dat ons nie almal dieselfde hoef te wees nie.

Ook dat daar eintlik ’n go-getter (wenner) hier binne skuil. Iemand wat nie terugdeins vir uitdagings nie. Wat die lewe met oorgawe aanpak, en met ’n goeie streep hardkoppigheid altyd daarna streef om haar heel beste te doen.

Soms pootjie dit my nog, die ou gevoelens van die verlede wat weer kom spook.

My grootste vrees is dat ek gesien sal word as iemand wat swak is. Daardie vrees vir mislukking, of om nie goed genoeg te wees nie. Dit maak dat ek dikwels oorkrities is, uiters hoë standaarde stel en oordrewe streef na perfeksie.

Deur dinge presies rég te wil doen – elke noot reg te vang, suiwer te sing, nie ’n voet verkeerd te sit nie – skep ek my eie hindernisse wat veroorsaak dat belangrike dinge uitgeskuif word.

’n Goeie voorbeeld: Dit sal so lekker wees om sommer net ’n spontane video by die huis op te neem van een van my gunstelingliedjies, en dit dan op sosiale media te deel. Maar ai, die “wat as” pootjie my!

Wat as dit nie perfek uitkom nie en die kritiek instroom?

Dis hierdie tipe goed wat my partymaal nog keer om my volle potensiaal uit te leef. Dis dinge waaraan daar hard gewerk word deur doelbewus in moeilike situasies te klim. Maniere te vind waar ek doodeenvoudig móét leer: dis aanvaarbaar om menslik te wees, om foute te maak en my weerloosheid te wys.

’n Mens hoef nie deur vrees beheer te word of deur elke negatiewe opinie afgetrek te word nie. Ek weet dit, maar dis nie altyd maklik nie.

Dankie tog vir my hartsmense, want dit is by hulle waar ek net kan ontspan en myself kan wees. Foute en al.

My liewe ma ken my gelukkig baie goed en bly maar lief vir hierdie kwaaitjie, al loop sy soms deur onder my humeurige streep. Eintlik is ek maar net kwaad vir myself – vir die hoë standaarde wat aan myself en ander gestel word.

Pa en boeties het my ook onvoorwaardelik lief. En by Heinrich voel ek altyd vervuld en gelukkig.

Soms kom ondersteuning ook uit verrassende oorde. Daar is twee wonderlike jong dametjies wat my van konsert tot konsert begin volg het. Twee vroue wat al self die seer kant van die lewe gesien het, maar hulle is steeds só vol liefde en lewe. Altyd positief en inspirerend. Die een het my nou die dag herinner aan iets wat God al vantevore gesê het.

“Caroline, jy moet lig wees vir hierdie wêreld.” Toe dink ek, ja, ek het vergeet wat my roeping is. Naamlik om lig te wees waar daar donkerte is. Ek was al in sulke plekke – die donker tye waardeur ek moes kom – maar kon dit nog altyd in lig verander het.

Ek moet net daardie lig wéés – nie meer of minder nie.

Baie sangers droom oor sukses en roem. Een van my drome is om op dieselfde standaard te wees as iemand soos Céline Dion, maar daar is selfs ’n groter droom waarna ek streef. Om met my talent ’n positiewe impak op mense se lewens te maak. Daardie gevoel wanneer jy op die verhoog staan, iemand in die oë kyk en weet dit maak saak.

Dít is vervullend. Om deur musiek ’n persoon se hart aan te raak, nuwe hoop te gee, geliefd te laat voel. Dis nie noodwendig dinge wat deur statistiek of musiekverkope weerspieël word nie, maar dis mooi en eg – en daarom ook vir my deel van die betekenis van sukses.

En om natuurlik te geniet wat ek doen. As jou lewe of werk jou nie meer laat glimlag nie, is dit tyd om nuut te dink, of anders te doen.

Dit het klippe kou gekos om tot hierdie besef te kom. Die afgelope paar jaar was soms regtig moeilik, want my lewe is nie tipies van iemand wat al ses jaar getroud is nie.

Ek moes leer om ’n paar groot balle gelyk te balanseer. ’n Huwelik in stand te hou, ’n loopbaan uit te kerf en elke paar weke oor kontinente heen te reis – eers Japan toe en nou Engeland, waar Heinrich klubrugby speel.

Ook in hierdie moeilik omstandighede het ek geleer dat uitdagings jou nie definieer nie, maar ten goede kan laat verander. Dit het my sterk, aanpasbaar en baie meer onafhanklik gemaak.

Dis nie meer so erg om alleen by ’n optrede aan te kom, op ’n vreemde verhoog te klim en voor ’n see van gesigte te sing wat ek nie ken nie.

Dit word ook al baie makliker om oornag die rol van vrou vir my man in te neem wanneer ek elke paar weke oor duisende kilometers reis, en dan by die voordeur instap in ’n huis en land wat nie my eie is nie.

Dis ’n uitputtende lewe, maar dit bou ook karakter. Al is dit nou ’n moeilike pad om te stap, glo ek dis hierdie tipe aanpasbaarheid en saamleef met druk en verandering waarby ek later gaan baat vind.

Ek en Heinrich het nog nooit ons eie huis gehad of kans gekry om iewers nes te skop in ’n plekkie van ons eie nie. Volgende jaar gaan dit uiteindelik gebeur – en ek kan nie wag vir hierdie opwindende nuwe hoofstuk nie!

’n Huis in George by die see en ’n lewe waar ons twee elke dag saam kan wees. Dit maak my verskriklik opgewonde.

Om boonop onlangs uit te vind dat ek swanger is, was die beste nuus ooit. Ek moes ’n ruk wag om dit self vir Heinrich te vertel, maar die oomblik was fantasties… sy oë was nog nooit so trots nie!

Deesdae voel ek baie emosioneel, veral as dit oor kinders gaan. Dis asof my empatie die hoogte ingeskiet het (en daarmee die humeur ook). Soms voel ek effens bekommerd: Sal ek hierdie mensie kan grootmaak, ’n balans kan vind tussen vrou-wees, ma-wees en sang? Maar dan besef ek ook: Ons sou nie hierdie geskenk gekry het as ons nie die perfekte ouers kon wees nie. Dit vervang al my vrese. God het ons gekies.

Dis daarom dat Heinrich se selfoonboodskap – om weer op die positiewe te fokus – my so diep getref het.

Toe die lewe soos ’n warrelwind van verantwoordelikhede aan my ruk en pluk, was dit maklik om fokus te verloor. Dit het my amper ingesluk – hierdie gevoel dat ’n mens jou identiteit verloor, terwyl jy heeltyd aan ander mense se eise en verwagtings probeer voldoen.

Ek moes leer om weer op te staan en terug te keer na my eie waarheid. Te besef dat die mens wat weet wat die heel beste vir jou is, jyself is. Nes ek destyds op skool al geleer het.

Die grootste les hieruit? Moenie jou ore uitleen aan mense, selfs pelle, wat jou wil wysmaak wat goed gaan wees vir jou lewe en loopbaan, en wat nie. Hou by dit wat jy weet. Sukses lê daarin opgesluit.

Daar was ook vir lank ongelukkigheid, selfs skuldgevoelens, omdat ek nie by Heinrich kan wees nie. Ons het almal besige skedules, maar baie vroue gaan vanaand terug na hulle mans, hulle huise toe. Nie ek nie. Nie nou al nie.

Ook die twyfel of ek goed genoeg is as sanger. My ma-hulle raas soms nog: “Moenie die verhoog weggee nie!” Hulle sê as ek saam met iemand optree, is ek geneig om terug te staan en die kollig op die ander persoon te laat val. Dis nie verkeerd om goeie dinge vir ander te gun nie, maar ’n mens moet oppas om nie jouself daardeur te na te kom nie. Dis iets waarmee ek nog partymaal sukkel.

Dis ook soms nodig om te gaan stilsit en aan jouself erkenning te gee. Daar het al talle wonderlike dinge in my lewe en loopbaan gebeur, maar omdat die geneigdheid daar is om verby die suksesse te kyk en te fokus op wat nog bereik moet word, raak ’n mens leeggetap.

Gelukkig het ek intussen geleer: Kry jou vreugde terug deur dankbaar te wees. Oor die klein, daaglikse goedjies in die lewe. Nie deur te fokus op wat jy nié het of op wat nog nié gebeur het nie, maar op dit wat wel goed is – hier en nou.

My fokus het verander. Nie net na binne nie, maar ook na Bo.

Die Here sê ek is waardig om gehoor te word, liefgehê te word, aanvaar te word en myself uit te leef – ongeag wat ander dink of sê.

Dis die tipe lewe wat ek nastreef. Om nie meer te twyfel oor die kronkels in my pad nie, maar om te weet elke tree is nodig vir die groter prentjie wat besig is om te ontvou. Om te lewe volgens wat Hy van my dink, want daarin lê ware vrede en rus.

Ek is opgewonde om te kan sê my reis na ’n opwindende, vreugdevolle toekoms het opnuut momentum gekry.