Cerita Nagy

0
887
  1. Hoe het jy (met jou onderneming) begin?

Ek was nog altyd kreatief en binnehuiseversiering was nog altyd my passie. Ek het 17 jaar gelede besluit om my passie en droom uit te leef! Die laaste paar jaar was ek betrokke ook by ʼn vroue organisasie en het dikwels geskerts dat ek bevoorreg is om met ‘mooi goed’ in die lewe te werk!

  1. Wat is die beste raad wat jy al ooit gekry het?

Wees altyd jouself! Vroue kan somtyds nie hul eie waarde raaksien, hul is onseker en gun hulself nie die erkenning en waardering wat hul toekom nie. Niemand is perfek nie en ons almal het tekortkominge en maak foute. Die lewe verander voortdurend, maar bly konstant in jou sieninge, jou passie en drome!

  1. Hoe sal jy graag onthou wil word?

Ek sal graag onthou wil word as iemand wat met en in liefde geleef het en wat ʼn positiewe verskil gemaak het in elke persoon se lewe wat my pad gekruis het! Groot woorde maar ek werk elke dag hard hieraan om dit te vervolmaak!

  1. Is daar ’n spesifieke aanhaling waarvolgens jy leef? Wat is dit?

Die aanhaling deur Christopher Reeve is vir my baie kosbaar – “Success is finding satisfaction in giving a little more than you take.” Hoe meer ons van onsself gee, hoe meer ontvang ons en hoe meer maak dit jou gelukkig!

  1. Watter vrou inspireer jou en waarom?

In besigheid, definitief Jenna Clifford. Haar kreatiwiteit, haar vasberadenheid in moeilike omstandighede vroeër in haar lewe en in haar beroep en haar harde werk wat ʼn suksesvolle besigheid opgebou het tot waar dit vandag is. Maar ook meer haar toegewydheid om ʼn verskil in so baie jong meisies en vroue se lewens te maak deur die jare.

  1. Hoe het jy gekom waar jy vandag is en wat het jou op die pad gehelp?

Ek dink meeste van ons se lewens maak draaie en somtyds onbeplan. Maar ek dink die belangrikste vir my was my deursettingsvermoë in moeilike omstandighede en om nooit moed op te gee nie. Dan ook die ondersteuning van my familie en vriende. Die laaste tyd veral, om altyd hoop te hê en vas te staan in my geloof.

  1. Wat dink jy is die grootste struikelblok in vroue se pad?

Vroue is emosionele wesens en neem besluite somtyds meer met hul harte in besigheid as wat hul moet. Vroue het soveel balle om in die lug te hou dat hul somtyds van hulself vergeet en dan totaal uitbrand. Die herstel pad hiervan is ʼn tydsame proses, wees elke dag bewus van jouself en pas jouself op.

  1. Wat dink jy maak dat ’n vrou suksesvol is?

As vrou is dit belangrik om nooit jou vroulikheid prys te gee nie. Deur getrou te bly aan jouself, jou beginsels en jou waardes. Vroue het die vermoë om ʼn kultuur te skep en te verander. ʼn Stukkie advies – om nie met nietige kwessies opgehou te word en die groot saak uit die oog te verloor in besigheid nie!

  1. Wat dink jy is die geheim om ’n suksesvolle balans tussen jou werk en jou persoonlike lewe te bewerkstellig?

Hierdie is beslis een van die grootste uitdagings van ons tyd. Ek het self baie gestoei hiermee, maar ek het dit in 2017 reg gekry om te weet wanneer om ‘nee’ te sê. Goeie beplanning is belangrik en wanneer jy by die werk of by jou familie en gesin is, kwaliteit tyd en aandag te gee. Wees ‘daar’ en in die oomblik!

  1. Wie sou jy graag na ’n droom-ete wou nooi?

Moeder Teresa – Sy is vir my die toonbeeld van God se liefde! Sy het haar hele lewe gewei daaraan om haar medemens te dien, maak nie saak wat die omstandighede was nie, het sy deur haar geloof vir ander hoop gegee. Ek sou graag met haar wou gesels en meer by haar wou leer!