Chad le Clos en sy ma oor haar borskanker

0
205
chad_le_clos_ma.jpg

Hoe maak 'n ma wanneer jou kind se drome waar word, en jou lewe is dalk verby? Chad se ma het stil gebly.

Toe tref die groot kanker-skok my

2010 was vir my soos ’n movie. Nee, nie een wat ek gekyk het nie. Een waarin ek self was. Eintlik nogal ’n groot rol in gespeel het. Alles wat kon gebeur het, het daardie jaar gebeur.

Ek is ’n positiewe mens. Was nog altyd. Seker daarom dat ek nooit in my lewe aan kanker gedink het nie. Beslis nie aan borskanker nie.

Ek het gereeld elke twee jaar vir ’n Papsmeer gegaan, maar nie vir ’n mammogram soos dokters aanbeveel ’n vrou van 40 af elke jaar moet laat doen nie. Gelukkig het ek gereeld self my borste ondersoek.

Ek sal nooit daardie oomblik vergeet nie. Ek was in die stort, besig om reg te maak vir die Midmar-myl (die wêreld se grootste oopwaterswemkompetisie waaraan Chad sou deelneem), toe ek die ontdekking maak. ’n Mens is nie altyd seker hoe daardie “knop” voel nie, maar glo my, die dag as dit daar is, dan wéét jy net.

Met die water wat oor my lyf stroom, moes ek net daar ’n besluit neem: Gaan ek die nuus vertel of stilbly?

Chad was in matriek en moes daardie April nie net vir die Junior Olimpiese Spele voorberei nie, maar ook as ’n junior vir die Statebondspele kwalifiseer. Dit was sy groot kans om in die internasionale arena te kom. Hy kon nie nou fokus verloor nie. Ek het besluit om stil te bly.

Vier weke lank het ek met hierdie wete in my geloop sonder om ’n woord te sê. My afspraak by die dokter was vir die einde van April. Teen daardie tyd sou ons geweet het of Chad gekwalifiseer het of nie. Wat die prognose ook al sou wees, ons sou dit dan kon hanteer, het ek geredeneer.

Van daardie eerste doktersbesoek af was Bert aan my sy. ’n Biopsie het bevestig wat ek geweet het: borskanker. Gelukkig in ’n vroeë stadium en dit het nog nie na die limfstelsel versprei nie. Vreemd genoeg, was ek nie hartseer of geskok toe ek die nuus kry nie. Ek en Bert het na mekaar gekyk en gedink: “This is it.” En van die begin af glo ek dit was hierdie ingesteldheid wat ook die res van die gesin gehelp het om dit te aanvaar.

[pagebreak] Nadat Chad toe wel vir die Statebondspele gekwalifiseer het, het ons besluit om dit vir die kinders te vertel. Ons het almal bymekaar gekry, vir hulle gesê dis borskanker, maar dat alles oukei gaan wees. Ek dink die skok was nie so groot nie omdat ek voor die tyd besluit het om dit positief aan te pak. Myns insiens dra ’n pasiënt se houding tot 80% van haar genesing by.

Alhoewel niemand ooit die woord “dood” genoem het nie, het ek beslis daaraan gedink. Snags, wanneer niemand dit kon sien of hoor nie, het ek in my kussing gehuil.

Die wat-as’e het my mal gemaak: “Wat as ek nie my kinders sien grootword nie? Wat as ek eendag nie my seuns se troue kan bywoon nie? Of nooit Jordan en Chad se kinders leer ken nie? Of nie sien hoe Chad eendag goud by die Olimpiese Spele kry nie?”

Maar net soos die gedagte aan jou kinders jou in ’n diep gat kan laat wegsink, so is dit juis jou kinders wat jou laat veg. Laat aanhou tot die bitter einde toe. ’n Ma is so belangrik. Ek kon net nie dat my kinders sonder ’n ma grootword nie.

Omdat die kanker nog nie na my limfkliere versprei het nie, het ek ’n mastektomie vrygespring, maar ek moes wel intense bestraling en chemoterapie ondergaan.

En kyk, niks wat jy lees of wat mense vir jou sê, kan jou voorberei op chemo nie. Dit is iets wat ek nie my grootste vyand toewens nie. Nou nog sal ek soms weer daardie smaak in my mond kry. Niks ruik lekker nie. Niks proe lekker nie. Dit is net absoluut aaklig.

As dit nie vir my familie en veral Bert was nie, sou ek waarskynlik nie so maklik deur daardie tyd gekom het nie. Hy was regtig fantasties. Met elke enkele chemosessie op Vrydagoggende het hy saam met my gegaan, vir die vroue wat saam met my was, koffie aangedra en hulle laat lag. Humor is die een ding wat jou gesond kan maak.

[pagebreak]

Die volgende skok – my ma sterf skielik

My ma het die nuus van my kanker nie goed opgeneem nie. Sy was nog nooit iemand vir hospitale en inspuitings en sulke goed nie. Ek dink sy kon dit nie verduur dat haar dogter deur hierdie dinge moet gaan nie.

Maar ’n ma is ’n ma en geworry het sy geworry. Soveel so, dat sy nie haar eie spanning goed hanteer het nie. My ouers het deur ’n finansiële krisis gegaan en niemand het besef hoe dit haar beïnvloed het nie. En ek was so besig met my eie gesin en my eie stryd om oorlewing dat ek nie agtergekom het waardeur sy gaan nie.

Op die dag van my laaste bestraling, het ek en sy vroeg die oggend oor die telefoon gesels. Net voor ons gegroet het, het sy onthou van my bestraling. “Oh yes, and you have your last radiation today. Good luck with that.”

Dit was die laaste keer dat sy met my kon praat.

Kort daarna het sy inmekaargesak. Die spanning van die afgelope paar maande het sy tol geëis. Reeds ’n paar weke vantevore het sy ’n abdominale bloedklont gehad. ’n Operasie om die aneurisme te verwyder, is daardie middag gedoen.

Die operasie het goed verloop, maar om die een of ander rede het ek ’n vreemde voorgevoel gehad. Toe ek en Bert daardie aand gaan slaap, het ek vir hom gesê ek dink nie my ma gaan dit maak nie.

Om tweeuur daardie oggend het die oproep gekom. My ma was weg! Sonder waarskuwing, sonder tyd om te groet is sy op 66 oorlede. En skielik was my borskanker niks. Niks in vergelyking met die dood van die vrou wat my die liefste in die hele wêreld gehad het nie.

My ma is op 4 Augustus oorlede. Chad was reeds in Singapoer vir die Junior Olimpiese Spele en ek sou later by hom aansluit. Binne drie dae het ek haar begrafnis gereël en op 8 Augustus het ek by hom aangesluit.

Die volgende paar dae was vir my bittersoet. Hier sit ek met borskanker, my ma ’n paar dae gelede dood, en my kind verower medalje na medalje.

Na een van sy oorwinnings het hy my in die skare gesoek en na my gewys. Vir die ander mense het dit seker gelyk of hy sê hy was eerste, maar eintlik het hy gewys dat hy daardie item vir my gewen het. Hoe het ek nie gewens my ma was daar om dit te beleef nie?

Die Here was goed vir my. In Maart 2011 was ek skoon.

[pagebreak]

Was daar werklik 'n rede vir my borskanker?

’n Mens soek altyd redes oor waarom goed met jou gebeur. Ek sal nooit sê dat kanker die beste ding is wat in my lewe kon gebeur het nie. Inteendeel, ek dink daar is minder wrede maniere om ’n mens te vorm. Die invloed op my lyf was uitmergelend; die hare wat ek verloor het, traumaties. Maar dis juis die een ding wat kanker doen. Jou perspektief, die manier waarop jy na die wêreld kyk, verander drasties.

Verhoudings word nommer een. Ons gesin was nog altyd na aan mekaar, maar skielik het ek besef dat dit nie vir altyd so gaan wees nie. Tyd met familie raak kosbaar. Ek dink ook my familie het besef dat ek ook nie vir altyd daar gaan wees nie.

So, terug na die groot vraag: Hoekom het ek borskanker gekry? Ek glo dat ek soos ’n boodskapper aan die mense om my is. Daar is redes hoekom dokters sê jy moet ’n mammogram laat doen. Daar is redes hoekom mans vir prostaatondersoeke moet gaan. Neem dit ernstig op, want dit kan met jou gebeur.

En net soos slegte goed jou kan oorkom, so kan goeie goed ook met jou gebeur. Dit is wat Chad se prestasies ons geleer het. Ons is baie gewone mense. Ons het nie baie geld nie en bly nie in ’n groot mansion nie. Chad was nie in ’n privaat skool nie, maar tog het hy uitgestyg – soos jou kind ook kan.

As ek terugkyk na die afgelope paar jaar, besef ek net weereens hoe wonderlik die lewe is. Hoe die lewe in siklusse werk. Alles is dieselfde behalwe dat ek baie meer wysheid het en my ma nie meer daar is nie. Ek is tevrede hoe alles op die ou end uitgewerk het. Tog het ek een wens: ’n konkrete teken dat my ma ons tog sien. Oftewel, die goeie goed wat ons oorkom, kan sien.

Ek wens en ek soek nou al vier jaar lank na daardie teken, maar tevergeefs, tot ek nou die dag in my kleinkinders se oë gekyk het en net geweet het. Sy weet. Sy weet dat Chad ’n Olimpiese kampioen is en sy weet ook dat ek oukei is. Soms weet ’n mens net wat jy weet.

Vir my was die hele borskanker-ervaring nie ’n hekkie wat ek in my lewe moes oorkom nie. Eerder deel van die journey. Dit was maar net die pad wat ek moes stap.