Chanelle de Jager: 17 kg ligter – Blog 1

0
107
chanelle_de_jager_dieet.jpg

So, hoe voel dit om 120 dae aaneen gesond te eet? Chanelle de Jager verklap wat alles agter die skerms gebeur het sedert 26 Maart toe sy die Nuwe Jy-program begin volg het.

Maandag 7 April 2014 19:00

Die dag het aangebreek. Dis vandag. Die eerste dag van die Nuwe Jy projek. Ek moes eers my logge lyfie op die verhoog gaan rondskoffel (ek was presies 25.7 ure op die verhoog in 6 dae en het nie kans gesien vir die detox in Oudshoorn by KKNK nie.) Al die dames wat deelneem het lankal begin en ek moet nou spoedig opvang. Ek weet nie wat ek sou doen sonder die Whatsapp-groepie wat ons begin het nie. Dit vul ’n leemte waar daar voorheen net negatiewe gedagtes was. Die dames laat my so lekker lag! Dankie dat julle die proefkonyne was vir ’n week. Nou weet ek wat op my wag.

Die CSN (Christo Strydom Nutrition) sop is toe nie so sleg nie, maar ek kan aan die nasmaak proe dat daar baie groente in is. Ek voel al klaar beter oor myself na dag een. Ek was darem gewaarsku oor die wilde winde wat dalk mag ontsnap in die publiek…

Dinsdag 8 April 2014 09:00

Die ander dames het al 6 kilogram verloor in een week. Dis wonderlik dat een groep vrouens nou so kan uitsien na ’n gekookte eiertjie! Dis vir my baie snaaks. Ek is nou eers op dag twee, so ek beter vasbyt. Ek is seker daai gekookte eiertjie gaan na 10 dae se sop, groente en vrugte ook baie aanloklik lyk.

Ek sit vanoggend en dink terug aan die eerste keer wat ons almal mekaar in Johannesburg ontmoet het. Dit was nie lank nie, en almal het begin gesels asof ons een mens is wat mekaar al jare lank ken. Veral om die etenstafel met die buffet by die hotel. Daai arme tafel het omtrent gekreun met al die hompe kos wat ons opgeskep het. Dit was ongelooflik om met wildvreemde vrouens te sit en gesels oor dit wat ons die naaste aan ons harte dra.

Die eerste dag was daar gefokus op die uiterlike. Ons was so bederf met Catrice grimering en Environ produkte. Ons tandjies was afgedruk en afgeneem deur Dr. Anton Grotius van I Love My Smile. Daar word gekla oor die pyn met die bleiking van die tande (en oor die rowwe winde wat ontsnap in die publiek), maar dis alles deel van die proses.

Die tweede dag was daar meer gefokus op die innerlike. Die siel en verstand. Catherine van Heerden, ons sielkundige het op die tweede dag ongelooflik diep gedelf in ons psige. Daar was trane. Vrouens het oopgemaak en dinge gedeel wat my geruk het. Catherine se afsluiting was met die volgende woorde:

“Ons is almal tog net instrumente van God. As jou instrument nie ingestel is nie, en jou instrument is uit en van ritme af, kan jy nie deel wees van die magiese simfonie orkes van die wonder van die lewe nie.”

En daar sit ek toe ook met ’n waterval van trane wat oor my mollige wange loop. Ek bid vir elke vrou wat deel is van hierdie projek dat ons, ons persepsies kan verander en ons instrumente weer mooi kan instem. Ai, dis weer tyd vir ’n koppie sop.

Woensdag 9 April 2014 18:00

Ek gaan nie dinge sugarcoat en jok nie. Dag drie is moeilik. Die detox het nou behoorlik ingeskop en sop, vrugte en groente laat my baie lam voel. Dit voel asof ek Tafelberg uitgeklim het. Bewerig en tam. Darem weet ek dat my energievlak teen dag tien gaan verbeter, dit te danke aan die ander dames se boodskappies.

Leandra van CSN het voorgestel ek lees die boek Wheat Belly deur William Davis, MD. Die boek handel oor hoe sleg gluten (die proteïen bestanddeel in graankos) vir ’n mens is. Die boek help my om te verstaan hoekom ek cravings het. Dit waarmee koring gemaak is – enige produkte met meel in, skiet mens se bloedsuiker tot in die hoogtes in. Dit gee ons ’n momentele gevoel van vergenoegdheid, maar net paar ure later sal jy weer honger wees. Dis ’n wrede siklus waarin ons almal vasgevang is. Dit sluit ook volgraanprodukte in.

Ek is besig om ontrekking simptome te ervaar, want my lyf is gewoond aan die comfort wat graanprodukte mens gee. My konsentrasie is ook daarmee heen. Ek vind dit nie maklik om hier te sit en skryf nie, ek moet elke sin oor en oor lees om seker te maak ek skryf dit reg.

Die soppie is darem ’n bietjie van ’n lafenis vir die siel. Dis nou nie romerige butternut soup nie, maar dis warm en vullend. My vel lyk al baie beter na die Environ produkte. My naels voel al sterker van die Nativa vitamiene. Al die dames is al in hul tweede fase waar hulle meer normaal eet (by normaal bedoel ek gebalanseerd). Ons is al so gebreinspoel oor wat normaal is en wat nie normaal in ons daaglikse dieet is nie, dat ons vergeet wat werklik goed is vir ons. Loop deur enige supermark en jy sal opmerk dat die broodafdeling ontsaglik baie variasies het. Een ding wat ek nooit sal vergeet nie, is hoe gevaarlik graan vir mens se gesondheid is. Loop maar verby die reuke van vars gebakte bederfies en gaan koop eerder vars groente en vrugte.

Donderdag 10 April 2014 8:30

Nagmerries! Ek het gisteraand gedroom ek verlustig my in koek en vreeslike vetterige vleis. As ek nie besef het ek droom nie, sou ek aanhou eet en dit geniet het, maar toe ek besef ek kul my dieet, het ek so sleg gevoel. Ek was hartseer en kwaad want ek het geweet ek sal nou alles weer van voor af moet doen.

Soos ek gister verduidelik het, dis onttrekkingsimptome. My arme onderbewussyn is seker so deurmekaar en weet nie wat aangaan nie, maar soos ons sielkundige dit verduidelik het, moet ons persepsies oor kos eers verander, slegs dan kan ons impulsiewe gedrag verander. Ek is trots dat ek ten minste bewus was van die feit dat ek nou besig is om die verkeerde ding te doen. Ek het ’n baie groot spieël in my badkamer. Elke oggend en elke aand wat ek uittrek om te stort, kan ek nie my kurwes miskyk nie. Kurwes is mooi as hulle op die regte plekke sit, maar ek het kurwes wat op baie vreemde plekke uitpeul. Ek is kwaad dat ek myself so laat gaan het, maar die keer sal ek nie opgee totdat ek my doelgewig bereik het nie. Ek sien baie uit na die 62kg Chanelle, met kurwes op al die regte plekke.

Vandag mag ek 6 piesangs en een glasie melk in neem. Gaan maar by die huis bly en kaste regpak. Hoop nie ek droom vanaand weer van koek en vetterige vleis nie!

Vrydag 11 April 2014 16:00

Vandag is die begin van die naweek en dit kom saam met baie versoekings. My stiefdogtertjie is by ons die naweek en gewoonlik word sy lekker bederf en as sy bederf word, word ons ook bederf. Lekker kossies word bedien wat sy graag eet, maar dit het ook al ’n groot duiwel in die huishouding geword. Wat ek by die dames van CSN geleer het, is dat kinders eet wat grootmense vir hulle gee om te eet. Nou staan die taak voor my om dit te verander wat ons al die afgelope drie jaar vir haar gee om te eet.

Toe haar ma haar kom aflaai, het ek aan haar verduidelik dat die dieet nou in volle swang is. Dit gaan nie maklik wees om dinge te verander nie, maar ons moet dit nou doen. Ek voel nie net verantwoordelik vir die gesondheid van myself nie maar natuurlik vir die gesondheid van my man en kind. Ons gaan vanaand na ’n baie bekende familie restaurant toe (verkies om nie die naam te noem nie), omdat sy die speelarea so vreeslik geniet. Ek is gelukkig op dag vyf van die detox, so ek gaan ’n stukkie steak geniet. Kom ons hoop maar ek oorleef dit. Die afgelope paar dae op haaskos was goed vir my. Ek voel al klaar effens ligter, maar ook net effens. Daar is nog ’n lang pad wat op my wag.