Chanelle de Jager: 17 kg ligter – Blog 10

0
43
chanelle_de_jager_dieet.jpg

So, hoe voel dit om 120 dae aaneen gesond te eet? Chanelle de Jager verklap wat alles agter die skerms gebeur het sedert 26 Maart toe sy die Nuwe Jy-program begin volg het.

Saterdag 24 Mei 2014 12:00

Dis 12uur en ek is nog in my pajamas. Dis mistig en koud buite en ek het rus nodig. As ek so deur my blogs lees dan besef ek watse bedrywige paar daggies ek agter die rug het. Ek voel vandag baie beter. Al die dames het saam besluit dat ons van Maandag af weer van voor af met die 60 dae dieet gaan begin, sodoende sal ons almal elke dag op dieselfde dag wees en daar is nog 60 dae oor van die challenge. Dit beteken nie ek gaan vandag en môre sommer heeltemal handuitruk nie. Piet en die kleinding is juis besig om muffins te bak, maar ek gaan my gekookte eiertjies eet. Ek gaan my beste gee met die tweede helfte van die dieet. Ek gaan elke dag oefen en my porsiegroottes dophou.

Die grys wolkie oor my kop is weg. Ek voel gebalanseerd en steeds baie trots op die 9 kg en sentimeters wat ek verloor het. Nou weet ek dat rooiwyn en koekies my swakpunte is.

Sondag 25 Mei 2014 8:00

Kom nounet van die hospitaal af. My nek het gisteraand in ’n spasma ingegaan. Dit gebeur wanneer ek baie stres. Daar is ’n spier in my nek wat baie sensitief vir spanning is. Niks geslaap gisteraand nie, alles was seer. Tot sluk was seer. Omdat dit Sondag is, is geen dokter oop nie en daarom moes ons hospitaal toe gaan. Ek het nou my pynpille gedrink en nou gaan ek probeer om te slaap.

Dis steeds bewolk en mistig buite. My man is dierbaar. Hy is besig om ’n warmwatersakkie vir my gereed te kry. Môre begin ons almal weer oor met die dieet. Ons gaan dan almal op dieselfde dag wees vir die volgende 60 dae. My suster in die UK is nou ook op die dieet. Van môre af vat ons dit weer aan met nuwe wind in ons seile en ons broeke!

Maandag 26 Mei 2014 14:00

Nek is uit spasma uit en ek het gister baie lekker gerus. Ons is vandag weer op die vrugte en sop. Die laaste keer toe ek op die 10 dag detox gegaan het, was ek pas terug van KKNK af. Ek kon toe bekostig om ’n paar daggies af te vat, maar nie die keer nie. Die NPO gaan Woensdag vir die kinders van Sout Rivier ’n klein karnaval hou. Daar gaan rides wees, popcorn, slush puppy, candyfloss en selfs ’n hanswors. Ek reël die hele event, so daar is baie wat voor Woensdag gedoen moet word. Die hele konsep is om kinders te leer dat hulle eers iets moet doen voor hulle iets kan kry. Ons gaan nie alles net weg gee nie. Hulle moet die karnavalspeletjies speel om iets te wen.

Daar gaan cupcakes wees! Ek weet nou dis die duiwel vir my daai, so ek gaan seker maak dat ek nie die cupcake-tafel beman nie. Vrugte en sop is doenbaar as mens besig is. Dis seker die suiker in die vrugte. Nou ja, ek moet bunting gaan stryk. Gaan so mooi wees!

Dinsdag 27 Mei 2014 14:00

Krisis! Die huis wat vir ons deur die Government Social Development gegee is, se geiser het gebars! Nou kan ons nie die kinders na die huis toe neem vir die karnaval nie. Dit gaan môre in Kaapstad reën, so ons kan dit ook nie buite doen nie. Om ’n venue gereël te kry binne 12 ure is die berg wat ek vandag moet uitklim. Alles is haarfyn beplan.

Ek is vandag op groente. Ek het so tussen deur die rondhardloop gou in Pick & Pay vir my ’n bakkie groenteslaai gaan koop. Ek is weer sterk. Ek gaan dit regkry sonder om te kroek. As dit maklik was om ’n NPO te begin dan sou almal dit seker gedoen het. Ons het niemand wat vir ons werk nie, ons moet alles self doen. Aanhouer wen!

Woensdag 28 Mei 2014 10:00

Dit sous in die Kaap. Die Karnaval is toe uitgestel. Ons sal moet wag totdat die huis vir die kinders 100% veilig is. Nadat ons duisende mense in Sout Rivier gebel het, het ons toe teen 18:00 besluit om handdoek in te gooi.

Ek is op groente en vrugte – so tussen al die vergaderings het ek vir my ’n vegetable stir-fry met pynappel in bestel. Dis so lekker. Ek gaan myself nie weer weeg tot die einde van die 10 dae detox nie. Ek dink nie dis sielkundig baie gesond om jouself elke dag te weeg nie. Dit laat alles net stadig voel. Daai skaal onder my bed moet maar wag tot ek weer voel ek het nog gewig verloor.

Ek voel vandag lief vir die lewe – al is daar ’n gebarste geiser. Dis darem nie die einde van die wêreld nie.