Chanelle de Jager: 17 kg ligter – Blog 12

0
47
chanelle_de_jager_dieet.jpg

So, hoe voel dit om 120 dae aaneen gesond te eet? Chanelle de Jager verklap wat alles agter die skerms gebeur het sedert 26 Maart toe sy die Nuwe Jy-program begin volg het.

Dinsdag 3 Junie 2014 13:00

Begrotings, begrotings, begrotings! Ek het sopas my begroting vir die volgende ses maande uitgewerk vir die NPO. Ons gaan vir ander mense sulke wonderlike dinge doen. Ek sien bitter baie uit na alles.

Die verblyf vir die Innibos-kunstefees is ook klaar gereël. Ek kan nie wag om my regisseur se gesig te sien as hy my aan die einde van die maand sien nie! Dalk moet ek hom bel en laat weet dat ek dalk ’n nuwe kostuum sal moet kry vir my karakter wat ek speel in die klug “Vat hom Flaffie”.

Môre is weer ’n piesangdag en dan is ek klaar met die 10 dag detoks. Ek sien alweer uit na my gekookte eiertjies! Al wat ek die heeltyd voor my sien is die nommer 60! Die dag wat daai skaal ’n ses in plaas van ’n sewe wys gaan ek deur die dak spring! Ek het al op een stadium gedink ek moet nou maar vrede maak met die feit dat ek nooit weer in die sestigs gaan weeg nie. Vrede maak se voet. Ek kan dit doen!

Woensdag 4 Junie 2014 14:00

“Die pawpaw het die fan getref!” was ons belegger se woorde vanoggend. Die registrasie papiere vir die NPO gaan langer vat as wat ons gehoop het. Al die planne vir die week is aangeskuif tot Maandag toe.

Ek is veronderstel om vandag op ’n piesang dag te wees, maar ek gaan eerder vrugte en groente eet. Die PMS knaag aan my gemoed en ek bibber van die koue. Dis die laaste dag van die 10 dag detoks, maar ek gaan nie vandag kan oorleef op 6 piesangs nie. Die mense is gefrustreerd met die kinkels in die kabel, so ek moet tussen almal net medieer en sorg dat hulle nie in mekaar se kele afklim nie.

Donderdag 5 Junie 2014 20:00

Die beleggers is tevrede met my begroting en hulle het alles aanvaar. Nou moet ons net geduldig wees. Geduld. Dit is ’n baie groot woord. Ons samelewing is so bederf met immediate gratification dat ons dit moeilik vind om vir iets te wag. Alles het fast geword. Fast food, fast internet, fast cars, fast living. Ek moet asemhaal tussenin en glo dat alles met ʼn rede gebeur.

Dankie tog vir lekker warm rooibostee. Dit kalmeer my en laat my rustig sit en dink oor dinge.

Die naweek gaan my man se broer by ons kom kuier en dis boonop sy ander broer se verjaarsdag. Daar gaan sonder twyfel ’n klein partytjie by ons huis ontpop. Ek gaan nie die koek bak nie. Ek sal een gaan koop. Niemand is so masochisties om koek te bak terwyl jy dieet nie. Tyd om die kleinding in die bed te sit.

Vrydag 6 Junie 2014 17:00

Piet se broer slaap ’n bietjie. Ek gaan vir die gaste ’n lekker warm curry maak. Die keer kook ek sodat ek ook dit kan eet. Dit ruik al klaar soos Delhi hier in die huis. Ek gaan seker maak die magies is almal vol, dan gaan ek bietjie uit sodat Piet tyd saam met sy broer kan spandeer.

Karen Zoid het ons na een van haar secret shows toe genooi. Niemand weet waaroor die show gaan nie, maar al wat ek weet is dat dit ’n live opname is. Ek gaan vanaand my swart fluweelpak dra. Dis ’n swart vintage baadjie, ’n onderbaadjie en ’n pencil skirt. Dit pas my weer! Ek gaan so fancy voel daarin. Nou het ek en Karen Zoid iets ingemeen. Ek is in my eie hoedanigheid ook besig met ’n secret show. Een van die dae sal almal weet wat dit is wat my so maer maak, maar wat is Karen se secret? Hmm, Dit gaan ’n interessante Vrydagaand wees.

Saterdag 7 Junie 2014 19:00

Ek sit bo in die kamer en blog. Die huis is vol mense en ons het vir Piet se broer ’n verassingspartytjie gereël. Die tafel kreun van kaas, koek, skyfies en vleis. Die wyn loop ook soos stroop hier onder. Ek is maar die stil een vanaand. Ek hou my lyf dun en weg van die dikmaak goed af. Mense is snaakse goed. As ʼn mens gewig verloor dan sal hulle op een of ander stadium vir jou vertel dat “jy nou nie te maer moet word nie”. Ek weet ek het nog ’n hele paar kilo’s en sentimeters om te verloor. Ek is nog nie maer genoeg nie. Ek weet daar is ’n baie mooi lyf wat nog snoesig wegkruip onder die ekstra kilo’s. Mense dink ek lyk nou mooi genoeg, maar hulle het my nog nie kaal gesien nie! Op die stadium moet ek streng wees met myself. Ek kan nie nou al handdoek ingooi nie. Ek het nog ’n pad om te stap saam met die dames en CSN.