Chanelle de Jager: 17 kg ligter – Blog 13

0
33
chanelle_de_jager_dieet.jpg

So, hoe voel dit om 120 dae aaneen gesond te eet? Chanelle de Jager verklap wat alles agter die skerms gebeur het sedert 26 Maart toe sy die Nuwe Jy-program begin volg het.

Sondag 8 Junie 2014 16:00

Eina! Die verdomde Eva. Waarom moes sy daai appel gehap het? Nou sit ons vrouens met maandelikse krampe en pyne. As Adam maar net geweet het hoe erg vrouens kan raak met hulle menstruasie, dan sou hy haar maar eerder gekeer het. Ek het ’n warmwatersakkie op my maag, kry myself jammer en kyk movies. Ek het werklik gedink dat my krampe minder sou wees omdat ek gesond leef, maar nee, dit voel asof iemand my baarmoeder met ’n warm skerp lem uitkerf. Ja, ek weet dit is dramaties. Vrouens is dramatiese wesens. Ek het sommer 2kg opgetel met “die tyd van die maand” drama. Ek sal seker eers Woensdag weer waag om op die skaal te klim. Ek het ’n boek om klaar te lees. Wheat Belly. Laat ek snoesig raak en lekker lees.

Maandag 9 Junie 2014 10:00

Sjoe, dit was nou ’n lekker gym sessie! Mag dalk nie môre my bene en arms kan beweeg nie, maar ek voel goed. Sommer al my frustrasies op daardie treadmill uitgehardloop. Ek gaan van vandag af harder begin oefen. Dit laat my warmer voel en dis goed vir my kop ook. Die flab moet nou in fab verander. Na al die gewig wat ek verloor het, is my lyf maar lekker pap. Feel the burn!

Ek het gister Wheat Belly klaar gelees. Sjoe! Dit het regtig my hele siening oor kos en gesondheid verander. Sodra ek klaar is met die CSN dieet gaan ek na die Wheat Belly lewenstyl oorslaan. Dit sny alle graan kosse uit, want ons liggame is nie gemaak om graan te verteer nie. Gluten, wat in alle graan voorkom, skiet ʼn mens se bloedsuiker in die hoogtes in en ’n uur of wat later val dit weer dramaties. Dan voel ʼn mens van voor af honger. As mens op brood, pasta, deeg ens. leef dan voel mens nooit regtig vol nie en jou liggaam sukkel om dit te verteer.

Die boek het vreeslike lekker resepte wat ʼn mens kan maak sonder enige skuldgevoel of gesondheidsrisiko. Van pizza tot fudge en kaaskoek. Alles gemaak met gluten en suikervryebestanddele. Ek kan nie wag om aan die kook te raak sonder my eie wheat belly nie!

Dinsdag 10 Junie 2014 13:00

Halleluja! Ons registrasie papiere het vandag deurgekom. Ons kan nou met volle vlam voortgaan met die NPO. More het ons inspeksie by die huis. Ons moet net hoop en bid dat Social Development gelukkig is met die veranderinge. Die huis is nou 100% veilig vir kinders (R70 000 later). Ek hoop regtig ons slaag die inspeksie. Dan kan niks ons terughou nie. Ek dink die gewag maak die dieet ook nou moeilik. As mens verveeld is dan wil ʼn mens net peusel. Ek het vandag nog goeie nuus gekry. My stem is gekies om die nuwe Pick & Pay radioadvertensie te doen. Môre is ek weer in die studio. Hou duimvas vir die inspeksie.

Woensdag 11 Junie 2014 20:00

Ek het slegte nuus ontvang. My stiefdogter se ma het ’n beroerte gehad. Sy is in ICU. Die kleinding gaan nou by ons bly tot sy beter is. Sy is in Durban opgeneem en is nie by haar volle bewussyn nie. Nou is ek voltydse mammie.

Zelodia van CSN het ons laat weet dat ons tot die einde van die program almal op die detoks moet bly sodat ons ons doelgewig bereik. Ek kners al op my tande.

Donderdag 12 Junie 2014 14:00

Sjoe, voltydse mamma wees is harde werk. Dit voel asof ek die hele dag rondry.

Dis groente en vrugte vir die volgende paar dae, en natuurlik die sop. Ek kan voel dat die detox weer die skaal gaan skud. My lyf hou niks langer as twee ure in nie. Dankie tog vir die NATIVA vitamines.

Klein Kathleen is ook nou besig om gewig te verloor. Sy word net mooier by die dag. My arme man se oupa is ook gister oorlede. It doesn’t rain, it pours!