Chanelle de Jager: 17 kg ligter – Blog 15

0
53
chanelle_de_jager_dieet.jpg

So, hoe voel dit om 120 dae aaneen gesond te eet? Chanelle de Jager verklap wat alles agter die skerms gebeur het sedert 26 Maart toe sy die Nuwe Jy-program begin volg het.

Woensdag 18 Junie 2014 8:00

Vrugte, vrugte en nog vrugte. Ek het myself belowe ek gaan elke dag gym, en sover hou ek by my belofte. Die Zimbabwe span kom nou eerder Kaap toe, ek is baie verlig. Ek kan hier wees om te help waar ek kan in die tyd van krisis. Dis ’n tyd van beproewing wat vir my wag. Ek moet sterk staan.

Donderdag 19 Junie 2014 13:00

Ek was vandag by ’n oudisie. Ek het so mooi aangetrek en baie goed gevoel. Ek het na my oudisie vir my agent ’n bos blomme gaan koop. Ek het in die studio ingestap en almal was vreeslik in hulle skik met my nuwe figuur. My agent is baie trots en hulle gaan my nou vir ander tipe rolle begin stuur. Ek het dit ook baie duidelik gemaak dat ek baie ernstig is oor my loopbaan en dat hulle my ordentlik moet bemark.

Ek verkies ’n groentedag enige tyd bo ’n vrugtedag. Ek maak nou al sulke heerlike groenteslaaie. Ek vat ’n plat bak en maak ’n bed of lettuce soos hulle dit in die restaurante noem. Dan sny ek rooi uie fyn op, en klein tamaties middeldeur en strooi dit oor die blaarslaai met vars koriander. In die oond maak ek baby marrow, red peppers en knoffel gaar en sit dit netso bo-op die slaai. Bietjie olyf olie en chillies. Heerlike winterslaai! Ek is so bly ek kan met al die gesonde kosse eksperimenteer. Ek geniet dit!

Vrydag 20 Junie 2014 22:00

Dis die naweek wat voorlê en almal is besig om hard te beplan aan die Innibos-kunstefees. Ek sien uit na die week in Nelspruit. Sal genoeg sop moet inpak. Ek het ook die “gesondheidsdrankie” wat CSN vir ons stuur gekry in Fruit & Veg. Dis presies dieselfde, net sonder die CSN plakker op. Dis skoon Aloe-Vera sap. Dis nie eers meer vir my sleg nie. Ek sluk dit al uit die bottel uit. Iets wat ek ook vir die res van my lewe gaan doen. Dit hou alles mooi skoon en raak vinnig ontslae van dit wat nie in my lyf hoort nie.

Saterdag 21 Junie 2014 14:00

Ek moet vandag die programme vir die kunstefees uitsorteer. Daar was ’n groot boks van hulle in my vriendin se motorhuis, maar dit het voete gekry. Niemand weet waar dit is nie. Nou moet ons voor Maandag 1500 laat druk, want die stel word Maandag al Nelspruit toe vervoer. Dis te duur om dit nog te laat vou ook, so ek gaan al 1500 van hulle met die hand moet vou. Die lewe van ’n aktrise is nie altyd maklik nie.

Groente en vrugte vandag. Ek dink ’n lekker groente stir fry met pynappel is in orde.

Sondag 22 Junie 2014 16:00

Kinderpartytjie. Daar is koek en lekkers die hele plek vol. Al die groot mense drink wyn en bier. Ek staan met ’n glasie water. Die ouers het baie moeite gedoen en dis werklik ’n heerlike partytjie, maar ek is honger. Die gasvrou bied nie tee en koffie aan nie, so ek kan nie eers lafenis kry uit ’n koppie rooibostee nie. Ek wil nie eers die foto’s sien nie. Ek dink ek is die een met die fake smile op almal van hulle. Wil iemand met ’n piesang gooi. As hier maar net piesangs was.