Chanelle de Jager: 17 kg ligter – Blog 16

0
46
chanelle_de_jager_dieet.jpg

So, hoe voel dit om 120 dae aaneen gesond te eet? Chanelle de Jager verklap wat alles agter die skerms gebeur het sedert 26 Maart toe sy die Nuwe Jy-program begin volg het.

Maandag 23 Junie 2014 8:00

Vandag is ek en die skaal weer verlief op mekaar. Ek weeg 70kg! Al die frustrasies en vasbyt is die trane en sweet werd. Ek staan nou op 13 kg in minder as drie maande. Ek het 7 April met die dieet begin. Dis nou 11 weke. As ek dit uitwerk het ek om en by een kilogram per week verloor. Dis gesond. Dis nie drasties nie. Vandag oor presies ’n maand gaan ek Johannesburg toe vir my voorblad shoot en die finale funksie. Daar is nog 4.5 weke oor. As ek volhou soos wat ek nou doen, dan gaan ek beslis my doelgewig van 65kg bereik. Net bietjie harder gym, sout uitsny en meer water drink. Ek kan dit doen.

Dinsdag 24 Junie 2014 22:00

Een lemoen in ’n lemoensakkie. Almal weet hoe dit lyk. Wel, dis hoe my tieties lyk sonder (en met) ’n bra. Niks van my bra’s pas nie. Ek sal môre nuwe bra’s moet gaan koop. So kan ek nie aangaan nie. My sportbra het altyd so styf gesit, ek kon nie asemhaal nie, maar nou is dit die enigste bra in my kas wat behoorlik pas. Niks so lekker soos shop vir kleiner klere nie. Ek het al hope klere uitgegooi wat glad nie meer pas nie.

Op ’n ernstiger noot. Kathleen se ma is nogsteeds in die hospitaal. Darem nou al uit ICU uit. Sy het geen beheer oor die linkerkant van haar lyf nie, en sy sukkel om regop te staan. Sy is nogsteeds baie deurmekaar en sy weet nie werklik wat om haar aangaan nie. Ons hoop en bid dat dit nie permanente breinskade is nie. Hulle bring haar glo volgende week terug Kaap toe dat sy hier kan aangaan met haar behandeling. My hart bloei vir daai kind.

Woensdag 25 Junie 2014 11:00

Ek was in die middel van my shopping spree, toe kry ek ’n oproep van Kathleen se skoolhoof af. Haar beste maatjie het haar op haar wang gebyt. Ek moes my inkopies net daar los en deur jaag om haar te gaan haal. Dit was nogal ’n storie om die regte bra te kry. Dit het lank gevat. Toe moes ek alles netso los. Ek het haar gaan haal en besluit om terug te gaan winkel toe. My mandjie het nog netso daar gestaan. Ek was so bly ek koop toe sommer vir my twee nuwe rokkies ook. Mediums. Ek moes altyd soek tussen die large en extra large, maar vandag pas ek in ’n medium in. Dit voel fantasties.

Arme Kathleen se wang is rooi en opgeswel. Gaan beslis blou wees more. Ek is nou ’n vreemde kleregrootte. So tussen ’n 36 (te groot) en ’n 34 (net te klein) Een van die dae is ek tussen ’n 34 en ’n 32. Ai, harde werk is net hard tot mens behoorlike resultate kan sien. Ek gym nogsteeds elke dag (behalwe op die piesangdag). Dit raak net elke dag makliker.

Donderdag 26 Junie 2014 8:00

Noudat ek weer soos ’n normale vrou voel wat nie meer te vet is nie, laat dit my dink aan al die hartseer wat vetwees bring. Ek het terug gedink aan al die lelike goed wat mense al aan my gedoen het. My gewig het die eerste keer begin opgaan in standerd een. Ek onthou dat ’n skoolmaatjie van my, my sussie gevra het hoeveel chocolates ek in een dag eet, want volgens hom eet ek sommer agt chocolates. Dit was aaklig van hom.

Toe ek in standerd agt baie oorgewig was, het ek my hare kort gesny. My pa het van die kort hare gehou, maar hy het gereken ek moet die lyf kry om by die kort hare te pas. My tienerjare was hel. Ek was vet en weird en die lewe was nie lekker nie. Ek onthou ek was so verlief op Eben. Ons het eendag buite die klas gesit en gesels oor hoe hitte voorwerpe laat uitsit. “Chanelle het dan seker te lank in die son gesit” was sy woorde. Dit het my hart gebreek.

Daar was ook gereeld opmerkings gemaak oor my gewig toe ek nog voltyds op stel was by Egoli. Ek het baie desperate en ongesonde diëte gevolg. Dit het my natuurlike metabolisme heeltemal omver gegooi. Daar was nog baie ander seer woorde na my kant toe gegooi, maar met elke kilogram wat ek verloor, laat gaan ek van daardie emosionele bagasie. Ek vergewe elkeen van hulle, al kan hulle nie eers onthou hoe seer hulle my gemaak het nie. Ek voel vandag in beheer van my eie emosies en wat ek eet. Dankie Finesse. Ek skud die seer sommer so saam met die kilogramme af. Beheer. Ek kan beheer wat ek doen met my eie lyf. Ek kan nie beheer wat ander doen, of wat met my gebeur nie. Dit gee my innerlike krag as ek besef ek het darem beheer oor een ding.

Vrydag 27 Junie 2014 21:00

Wag in spanning vir die foon om te lui. Ek was Woensdag ’n rol aangebied in ’n film vir die silwerskermfees, maar die skiet datums val oor die datums van die finale funksie met die Finesse-span. Ek mis daai finale funksie vir niks nie! Dit gaan iets wees wat ek nog nooit beleef het nie, en ons almal het so hard gewerk. Dit gaan my seker bybly vir die res van my lewe. Hopelik sal die regisseur die shoot met een dag kan aanskuif. Dan sal ek beskikbaar wees vir al die datums maar dis net een film. Ek is seker daar gaan nog baie meer rolle wees met minder rolle om my middel! Soos ’n oog vir ’n oog, is dit in my geval ’n rol vir ’n rol!