Chanelle de Jager: 17 kg ligter – Blog 17

0
37
chanelle_de_jager_dieet.jpg

So, hoe voel dit om 120 dae aaneen gesond te eet? Chanelle de Jager verklap wat alles agter die skerms gebeur het sedert 26 Maart toe sy die Nuwe Jy-program begin volg het.

Saterdag 12 Julie 2014 10:00

Lam in die boude vandag. Ek het gisteraand die laaste bietjie Jigsemoer wat in die bottel was gedrink. Die laaste sluk in die bottel is altyd wild. Dis asof die Aloe-Vera kristaliseer. Dis sulke snaakse harde klonte. Ek hol elke tien minute badkamer toe. Het ’n vol dag voor my. Ek dink ek sal proteïne in my lyf moet inkry. Ek is veronderstel om geen vleis te eet tot die 23ste, maar ek dink nie ek gaan dit maak nie. My bloedgroep is O. Die O bloedgroep moet vleis eet anders raak dinge bietjie bewerig. Gaan nou mark toe om lampskerms te kry vir die NPO. Gaan hard werk vandag om die huis reg te kry.

Sondag 13 Julie 2014 12:00

Sjoe! Ek het amper gisteraand ’n stuk pizza gehad. Ons het tot nege uur gewerk by die NPO en toe bestel hulle pizza. Ek het maar op my tong gebyt en ’n soppie gedrink. My man is wonderlik. Hy het al die lampskerms gehang en self gemaak. Dit lyk baie mooi. Ek moes vandag ook hier en daar bietjie vleis eet. Môre sal ek weer terug wees op die groente en vrugte.

Maandag 14 Julie 2014 18:00

Ons is gereed vir ons eerste groot projek vir die kinders van Sout Rivier. More hou ons karnaval. Ek kan nie wag nie. Dit gaan so oulik wees. Popcorn, Slush puppy, Candy floss en baie lekkers en geskenkies vir die kinders. My joernalis vriendin, Karen Burger van die Rapport gaan ook daar wees om ’n storie te doen oor ons projek. Ek is so bly alles val nou in plek. Tyd vir nog ’n appel en ’n soppie.

Dinsdag 15 Julie 2014 20:00

Dit was nou ’n wonderlike dag. Ek het soos ’n ware Kermis Tannie die spookasem masjien beman! Darem nie een keer my lippe aan die suiker gesit nie. Ek het slaai by Woolworths gaan koop en seker gemaak ek is nie honger tussen al die lekkernye nie.

Die kinders het dit vreeslik baie geniet. Hulle was so bly toe hulle elkeen ’n nuwe paar skoene en warm toppie kry. Dit voel goed om te gee. Dankie Here vir die geleentheid om ’n verskil te kan maak.

Nou moet ek my tassie gaan pak. Vlieg môre oggend Bloemfontein toe vir die Vryfees. Ons doen drie vertonings van Hotel Vleispaleis daar. Ek voel al die skoenlappers in my maag. Dalk is dit die hongerte.

Woendag 16 Julie 2014 14:00

Dis yskoud in Bloem. Darem is my kamer self-catering. Ek gaan nie weer die keer by ’n fees in restaurante boer nie. Ek gaan myself ook uit die feesterrein hou. Ai, nog net ’n week voor ek Johannesburg toe gaan vir die finale van Nuwe Jy.

Laat ek gaan repeteer. Môre is dit twee shows na mekaar. Ek sal maar iets vleiserigs moet kry. Dit is nie wys om honger op die verhoog te gaan nie. Dankie tog vir Woolworths se gerookte makriel.