Chanelle de Jager: 17 kg ligter – Blog 2

0
35
chanelle_de_jager_dieet.jpg

So, hoe voel dit om 120 dae aaneen gesond te eet? Chanelle de Jager verklap wat alles agter die skerms gebeur het sedert 26 Maart toe sy die Nuwe Jy-program begin volg het.

Saterdag 12 April 2014 10:00

Ek haat daai familie restaurant! Ja, haat is ’n sterk woord, maar sterk gevoelens moet sterk woorde kry. Die steak was heerlik, maar dit wat om my aangegaan het, was iets om van naar te word. Omdat ek besig is om my verstand en my siel te voed met gesonde gedagtes en nuwe gewoontes, het die familie restaurant vir my soos ’n lokval van suiker gevoel, vet en alles wat sleg is vir ’n mens. Mense om my het gesit en smul aan hartaanvalkosse soos ’n klomp uitgehongerde diere. Ek was ook skaars ’n week gelede een van daardie diere. Dis vreesaanjaend. Ek het sommer aan my man begin hap – nie letterlik nie, maar figuurlik. My eie cravings het my so geïrriteer dat ek sommer geïrriteerd was met hom. Die arme man. Daar behoort ’n wet te wees teen plekke wat sulke ongesonde disse bedien! Soos die Engelsman sê: “The penny has dropped”. Ek voel asof daar ’n groot skuif in my houding teenoor “die lekker lewe” plaasgevind het. Dis nie lekker om so ongesond te leef nie. Dit proe dalk lekker vir ’n rukkie en mens bestel net wat jy wil op enige spyskaart, maar as jy weer kyk is jy ’n ronde, ongesonde vrou. En dit is alles behalwe lekker!

Vanaand gaan ons na ʼn braai toe. Darem kan ek vandag ook vleis eet. Ek dra nou al ’n bakkie met die soppies saam met my in my handsak. Ek gaan met ’n koppie sop staan en kuier terwyl die ander “lekker” aan hulle wyn en chippies smul.

Sondag 13 April 2014 20:30

Dis Sondag aand half nege en ek het die eerste naweek op die Nuwe Jy missie oorleef. Ek is so trots op myself. Ek het nie een keer gekul nie. Ek mag dalk so klein bietjie te veel vleis geniet het by die braai gisteraand, maar darem het die TimJan van vanoggend dit sommer vinning uit my sisteem gejaag. Ons was vandag na ons gunsteling mark toe in Kaapstad. Ek en my man geniet dit gewoonlik vreeslik daar. Dis altyd ’n lekker uitstappie, maar met die vreemde hittegolf wat toe Kaapstad tref, was dit warm en onplesierig. Ek het die hele dag lam en bewerig gevoel. Steeds happend aan my arme man. Toe ek die dames op die Whatsapp-groepie vertel dat ek so “happerig” is, toe stuur een van hulle terug: “Toemaar Chanelle, as jy weer mooi maer is, gaan hy nie kan ophou om aan jou te hap nie!” Dit het my lekker laat lag.

Ek is bly daar is nog net drie dae oor van vrugte en groente en lam voel. Ek sal darem weer volgende week kan oefen. Ek gaan vanaand met ʼn skoon gewete vroeg in die kooi klim. Ek moet tog byvoeg dat my huis baie netjies lyk. Ek dink nie my kaste was al ooit so mooi reg gepak nie!

Maandag 14 April 2014 8:00

Blou Maandag. Dis “daai” tyd van die maand en as dit “daai” tyd is dan soek ek net soetgoed. Geen wonder ek het so gewig opgetel die laaste paar jaar nie. Ek het myself behoorlik getroos met klein sondetjies en altyd ’n geloofwaardige rede gekry om dit te doen. Vandag is my troos ’n gebakte aartappel met botter! O jinne, ek kan nie meer wag nie! Ontspan … dis deel van die dieet op die groentedae. Ek hoop regtig dat die nuwe leefstyl ook my menstruelekrampe sal beter maak, asook my gemoed. Dis dalk die kombinasie van alles wat ek so happerig hierdie naweek was.

Ai, waar het al die wilskrag skielik vandaan gekom. Ek is deur ’n strawwe detox en PMS in een week sonder om in te gee vir enige versoekings! Ek weet dis omdat ek nie alleen is nie. Dis omdat ek my dames het wat dit saam met my doen. Dit laat my dink aan hoe belangrik dit is om vriendinne in mens se lewe te hou en te koester. Solank daai vriendin se geselskap nie saam met ’n glas wyn en ’n stukkie koek kom nie! Ons kan mekaar maak of breek. As ons dit toelaat om gebreek te word! Ek moet ’n skaal gaan koop. Ek sien uit daarna om myself te weeg. Ek kan al klaar voel dat iets besig is om te gebeur. Dis wonderlik!

Dinsdag 15 April 2014 15:00

Vandag verjaar my Pa. Ek het hom verloor op die ouderdom van 23. Ek het nooit myself die kans gegee om werklik te rou nie. En omdat die gevoelens op een of ander manier moes uitkom, het ek myself getroos met alles wat verkeerd is. Net om in daardie oomblik beter te voel, maar die lewe gaan aan en ek voel vandag minder hartseer. Ek is weer gesond van my seer wat ek ervaar het met die dood van my ouers. Vandag staan ek sterk. Ek is nou gereed om ontslae te raak van die ekstra gewig, want emosioneel is daar werklik niks meer wat my terughou nie.

My man is wonderlik, ek is lekker besig as aktrise. Ek kan met ’n glimlag op my gesig juig dat ek op ’n plek in my lewe is waar ek werklik voel ek het vrede gevind. Om getroud te wees met ’n liefdevolle en geduldige man wat alles vir my sal doen maak ’n verskil. Hy is lief vir my net soos wat ek is en daarom wil ek vir hom die mooiste vrou wees. My Pa het altyd na my gekyk en my sy mooi kind genoem (nie dat my sussie lelik is nie, sy is ’n godin!). Ai Pappa, ek wens jy was hier om te sien hoe goed dit met my gaan. As daar een ding is van my Pa wat ek gekry het, is dit sy wilskrag. Ek gaan dit deurvoer en ’n sukses maak van die projek. Vandag lig ek ’n koppie sop vir jou. Cheers Pappa!

Woensdag 16 April 2014 14:00

Vandag is die laaste dag van die 10 dag detox. Ses piesangs en ’n glasie melk. Ek het my kreatiwiteit ingespan en vir my ’n piesang en kaneel smoothie gemaak. Dis heerlik. Van al die dae op die detox moet ek bieg dat die piesang dag die moeilikste is. Daar moet bitter baie vesel in ’n piesang wees want my ingewande is so bedrywig soos die Germistonstasie. Ek het lekker vir al die ander vrouens gelag omdat hulle so kinderlik opgewonde was oor ’n gekookte eiertjie. Vandag deel ek daai opgewondenheid, soos ’n kind.

Die CSN dieet is nog vir my ’n nuwe ervaring. Ek weet nog nie of ek al iets verloor het nie. My man, Piet, reken ek het al verloor. Hy kan glo voel dat my middel dunner is. Ek sien môre my Biokinetikus by die Vincent Paloti hospitaal. Ek sien uit om myself te weeg. Ek hoop al die harde werk van die afgelope tien dae is darem die moeite werd. Van môre af sal ek vir ses dae kan proteïne en groete eet vir middagete en aandete. En dan natuurlik die gekookte eiertjies vir ontbyt. Ek is sommer lus en gaan slaap nou al, sodat ek vinniger kan wakker word, maar wie het nou tyd om twee-uur in die middag te gaan slaap?

Om weekliks ons gratis e-artikels en ’n e-boek ter waarde van R100 te ontvang, kliek hier om te registreer op ’n NUWE JY.