Chanelle de Jager: 17 kg ligter – Blog 3

0
64
chanelle_de_jager_dieet.jpg

So, hoe voel dit om 120 dae aaneen gesond te eet? Chanelle de Jager verklap wat alles agter die skerms gebeur het sedert 26 Maart toe sy die Nuwe Jy-program begin volg het.

Donderdag 17 April 2014 12:00

Ek is in die sewende hemel! Ek het ’n volle 5 kg verloor op die tien dag detox. Kim, my biokinetikus is wonderlik. Ons het so baie ingemeen. Ek sien uit om saam met haar en haar span te werk. Ek het nie geweet dat biokinetikuste by ’n rehabilitasie sentrum is nie. Vir die volgende drie maande gaan ek saam met mense oefen wat ledemate verloor het, rehabiliteer na ernstige ongelukke ens. Dis die beste motivering ooit. Ek is gesond. God het my perfek geskape. Ek gaan baie hard oefen en dankbaar wees vir wat ek het. Die hele proses leer ons om lief te wees vir onsself en hard te werk vir dit wat ons wil regmaak binne en buite onsself.

Ek het vandag ’n skaal gekoop! Ek het nog nooit in my lewe ’n skaal besit nie, dis dalk juis hoekom die kilo’s so geklim het, want ek het dit nooit dop gehou nie. Ek voel fantasties. En baie dankbaar vir alles wat om my gebeur.

Vrydag 18 April 2014 22:30

Komplimente, komplimente, komplimente. Kom nou net van ’n verjaardag partytjie af. Al my vriende het kommentaar gelewer oor hoe goed ek lyk. Ai, dis darem maar lekker as die ego so gestreel word! Nou moet ek oppas. Ek het al deur my gedrag in die verlede geleer, dat sodra ek bietjie gewig verloor, voel ek so goed dat ek sommer ophou met die dieet en aangaan met my ongesonde gewoontes. Die keer gaan ek dit nie doen nie. Dis nou hier waar die ware wilskrag moet oorneem en die ego sal moet rus. Ek moet my voete plat op die grond hou en op die eindresultaat fokus. Dit gaan my niks baat as ek nou skielik voel ek “verdien” ’n drankie of ’n lekker broodjie nie. Ek gaan my nou elke oggend weeg, soos die CSN boekie dit aanraai. Ek is op die regte pad. Nou is dit vasbyt tyd, maar eers gaan ek my gesig was met die lieflike Environ produkte (almal het ook kommentaar gelewer oor hoe goed my vel lyk), dan met ’n baie bly hart gaan slaap. Dis amper weer tyd vir ’n eier, maar NIE ’n paaseier nie! Die naweek gaan kom met baie uitdagings. Ek moet net fokus, fokus, fokus! Daai Paashaas kan maar gaan spring.

Saterdag 19 April 2014 17:00

Blikkies dorp (Tin Can Town) is opgerig deur Helen Zille in 2007. Ons het vandag saam met J8ded Media se wonderlike span ons deel vir die weeskindertjies gaan doen. Ek het my poppekas gehou, ons het R12 000 ingesamel en Crocks-skoene het drie reuse bokse geskenk met die oulikste skoentjies vir die kinders. Ek het oor die dertig boereworsrolletjies gemaak, bordjies vol aartappel skyfies en lekkernye vir die kinders uitgepak, en nie een keer my lippe daaraan gesit nie. Daar was ’n oomblik waar ek so lus was om daai boereworsrolletjie in my mond te druk, maar met al die positiewe energie en liefde om my was dit nie nodig nie.

Die 20 kindertjies het die dag vreeslik geniet. Ons het so baie om voor dankbaar te wees. Daar is so baie mense daar buite wat maar net eet wat hulle kan kry om te kan oorleef. Die dag was so vol van dankbaarheid en liefde. Dit is die beste manier om ’n mens weer terug aarde toe te bring en te laat besef dat ’n streng dieet nie naby kom aan die leed en seerkry van die minder bevoorregtes nie. Maak jou hart vol liefde, en die cravings verdwyn.

Sondag 20 April 2014 11:00

Die paaseiers is weggesteek, ek hoop nie hulle kry my nie! Die naweek is eintlik nie so erg soos wat ek gedink het dit gaan wees nie. Ek voel goed en positief. Dis so lekker om tyd saam met geliefdes te spandeer. My man is ook nou meer gewoond aan die nuwe leefstyl. Hy is vreeslik ondersteunend. Ek voel soos ’n goeie vrou en mammie omdat ons huishouding nou soveel meer gesond is. Ons koop nie eers meer brood nie. Die soetgoed is iets van die verlede (behalwe natuurlik die ou paaseiertjie wat in die inkopiesak ingehop het). Ons slaap beter, voel beter en leef beter.

Ek sal binnekort my trouring moet laat kleiner maak. Ek is nog een kilogram af. Ek staan nou al op ses kilogram in 14 dae. Sjoe! More is weer ’n vakansiedag, so ek gaan eers Dinsdag begin oefen. Nou gaan ek net rustig wees.

Maandag 21 April 2014 12:00

Ek gaan vanaand begin om my tande te bleik. Ek het die mould vir my tande van I Love My Smile in die pos ontvang. Die ander dames kla dat dit baie seer is. Maar dit verskil glo van mens tot mens. Ek dink ek mag dalk kreun van die pyn. Ek was baie lanklaas by ’n tandarts. Ek moet dit van vanaand af elke aand vir drie ure dra. Mens lyk glo tien jaar jonger as jou tande witter is. Dis so ’n subtiele verandering wat so groot verskil maak. Ek moet myself die heeltyd knyp om te glo wat werklik aangaan en hoe fantasties die hele konsep van die Nuwe Jy Projek is. Ek weet dat al die ander vrouens dieselfde voel. Ek mag dalk môre heeltemal anders voel na my oefen sessie! Ek mag dalk wens ek het nooit ingestem nie. As ek aan oefen dink dan dink ek myself sommer moeg!

Ek gaan die vakansiedag geniet. Dalk moet ek gou voor die spieël gaan staan en my onooglike kurwes gaan vaarwel groet.