Chanelle de Jager: 17 kg ligter – Blog 4

0
16
chanelle_de_jager_dieet.jpg

So, hoe voel dit om 120 dae aaneen gesond te eet? Chanelle de Jager verklap wat alles agter die skerms gebeur het sedert 26 Maart toe sy die Nuwe Jy-program begin volg het.

Dinsdag 22 April 2014 12:00

Liewe aarde ek is onfiks! Nadia, my biokinetikus van Vincent Palloti hospitaal is so ’n klein, fyn ou dingetjie, maar sy is nou waarlik wat mens noem “klein botteltjie, groot gif”.

Ons het met cardio begin en toe weights. Sjoe, sy is sterk. Ek het regtig vandag soos ’n lomp reus langs haar gevoel. Feel the burn! is haar gunsteling roep kreet. En dan smile sy nog al die pad, terwyl ek my waardigheid probeer behou deur die sweet druppels so vroulik as moontlik weg te vee. Mens sal dink dat groot mense groot spiere het. Nee wat, die ou bene en boude van my is meer vet as spiere. As ek elke dag so oefen sal ek teen einde Julie soos Pamela Anderson, wat in slow motion uit die see uitgestap kom lyk. Vaartbelyn en dun.

Oppad uit na die hysbak toe, heel bewerig en negatief, sien ek toe ’n jong vrou sonder ’n been verby my beweeg. En sy glimlag vir my. Net daar laat val ek toe maar die negatiwiteit en herinner myself weer van voor af waarom harde werk niks is om myself oor jammer te kry nie. Ek gaan elke dag vir die volgende 90 dae ten minste een uur spandeer aan oefening. Op die detox dae sal ek ligte oefening doen soos Pilates. “Klein botteltjie, groot gif” reken ek kan maar op die dae wat ek net vrugte en groente eet kom oefen. Sy gee elke oggend 7 uur Pilatesklasse. O hemel, dis soos in môreoggend. Kan nie onthou wanneer laas ek so vroeg in ’n gym was nie. Feel the burn!

Woensdag 23 April 2014 19:00

Vanoggend se Pilates was seer! Dit was lekker om vir ’n verandering die sonsopkoms te vang oppad gym toe. Ek het niks gesweet nie, maar I felt the burn!

Ek is baie mismoedig. Dis die eerste keer wat ek regtig lus is vir ’n glas wyn saam met my man. In ander dele van my lewe is iets besig om verkeerd te loop met besigheid. Vandag was moeilik. Ek soek trooskos. Die winter is ook besig om stadig nader te kruip. So, dis ek en die rusbank en ’n kombersie en bleik gel in my mond vir die tande. Ek sal nie ingee nie. Ek moet maar die gevoelens voel en deur dit werk. Ek dink die krukke wat ek altyd gebruik het om stresvolle situasies deur te maak, was eintlik maar net vals. Valse krukke wat net momenteel die probleem beter sou maak. Ten minste is ek nog op die regte pad met my dieet. Ek is nou maar vanaand in ’n mood. Ek gaan myself toelaat om in my mood te wees. Môre sal alles weer beter lyk.

Donderdag 24 April 2014 10:00

Pilates is ’n wonderwerk. Ek het vanoggend seker gemaak ek is op die matjie reg voor die spieël sodat ek kan kyk wat dit is wat so brand! Ek het verwag dat stoom of rook by my boude en bobene sou uitkom van al die brand, maar daar was niks. “Klein botteltjie, groot gif” was baie bly om my die derde keer in ’n ry by die gym te sien. Ek dink sy begin nou besef dat ek ernstig is oor die nuwe ek. Nou gaan sy my seker nog harder en verder druk!

Ek gaan vandag as rolverdelings regisseur werk by Kayos Casting. Dit was my werk voor ek KKNK toe was vir die toneelstukke. Dis lang ure en baie mense wat ek moet regie voor gee, maar almal het my baie lanklaas gesien, so ek hoop hulle kan al die verskil sien. My ego het bietjie streel nodig. Soos ’n beer met ’n seer tand. My tande is regtig seer, veral die onderstes, maar dit lyk al bietjie witter. Beter opskud of ek is laat vir werk.

Vrydag 25 April 2014 20:00

Lekker styf in die bolyf vandag! Ek kan voel ek was drie dae na mekaar in die gimnasium. Ek kan omtrent nie eers my arms oplig nie, maar ek voel fantasties. Gister by die werk het almal opmerkings gemaak oor hoe goed ek lyk. My een kollega, vir wie ek baie lief is, het vir my ’n nuwe naam gegee. Temara. Hy dink ek is “te maer daar”.

Dit was lekker om saam met al die akteurs in die studio te werk. My konsentrasie is beter as wat dit nog ooit was. Dit moet al die gesonde kos en Nativa vitamine wees. Omdat ek die akteurs direct en op kamera opneem vir die kliënt, het ek toe sommer myself ook op die kamera gesit. Ek kon ook die verskil sien.

Ek is nou in die tweede fase van die dieet. Daar is 6 fases. Maar die skaal staan stil. Die dames van die groepie beleef dit ook so. In die fase verloor ons glo in sentimeters.

Ek sien baie uit na die naweek. Ons ry môre oggend 120 km uit Kaapstad uit na ’n musiekfees. Ons gaan vir die naweek daar kamp en die musiek geniet. Ek is op my senuwees, want ek weet daar gaan heerlike kosstalletjies wees. Maar ek moet myself leer om die lewe te geniet sonder om die dieet te veel van ’n obsessie te maak. Die musiekfees is op ’n plaas naby Gouda. Ons gaan deur die natuurskoon omring wees, iets om na uit te sien. Ek gaan nie my rekenaar by my hou nie, en my foon sal ook nie opvang daar nie, so ek sal weer Maandagaand wanneer ons terug is, alles vertel.

Maandag 28 April 2014 19:00

Wow! Die Kaap is darem maar asemrowend! Die musiekfees was heerlik en ek en my man het onself soos kinders gedurende pouse geniet. Ek kan met trots verkondig dat ek nie een drankie gedrink het nie. Ek het dit vreeslik maklik gevind om by my dieet te hou. Ek het eiers gekook voor ons gery het en vir my al my kossies in ’n koekblik gepak. Soos ’n regte huisvroutjie wat die padkos pak vir die pad. Tamaties en gekookte eier vir ontbyt, my vitamines vir die twee dae en ook biltong.

Die stalletjies het tot my verbasing heerlike vars slaaie gehad. Een van die stalletjies het vir my komkommer noodles gemaak saam met uie en tamaties. Ek het nie eenkeer honger gely nie, en ook nie een keer gekul nie. Wys jou net. As mens nie net aanvaar wat daar is om te eet nie en net vra vir ’n gesonde opsie, dan is daar soms baie lekker verrassings wat uitkom. Dit vat net so ’n bietjie wilskrag om nie agter die lekker aan te eet nie, maar eerder agter die gesondheid aan. Ons het lekker gedans – so ek het ook my oefening ingekry.

Ons het ons ou twee man tentjie opgeslaan, en heerlik onder die maanlig aan die slaap geraak. Dit was romanties. Sondag het ons sommer ons opblaasmatras na die dam toe geneem waar almal geswem het. Ek was nie heeltemal in my bikini nie, maar het gemaklik gevoel om been te wys met ’n lekker kort blomme rokkie. Dit voel sommer asof ek van voor af my man se meisie is. Jonk en vol energie. Hy is baie trots op my omdat ek myself so mooi gedra het, en ook die naweek gate uit geniet het. Dit kan gedoen word.

Ek het net weer besef hoe maklik die duiwel dit vir ons maak om nie mooi na ons tempels te kyk nie. Maar wat ons altyd moet onthou, is dat ons gebore is met ’n vrye wil. Ons is vry om te kies wat en wie ons word en is. Ons is vry om nuwe en beter keuses te maak, en sodoende beter tempels te wees vir ons Skepper. In die natuur het ek nader aan my Skepper gevoel, sy volmaaktheid ingeasem en die perfeksie van ons mooi wêreld weer van voor af waardeer.