Chanelle de Jager: 17 kg ligter – Blog 5

0
50
chanelle_de_jager_dieet.jpg

So, hoe voel dit om 120 dae aaneen gesond te eet? Chanelle de Jager verklap wat alles agter die skerms gebeur het sedert 26 Maart toe sy die Nuwe Jy-program begin volg het.

Dinsdag 29 April 2014 16:00

Terug hok toe vir almal. Die lang naweek was opwindend, en daar is nog ’n paar vakansiedae wat wag. Ek gaan bly wees as dit alles weer terug na normaal toe is. Die klomp lang naweke so in die eerste maand van ons dieet was nogal baie harde werk. Maar ek voel of iets aan my knaag. Die skaal staan steeds stil. Ek verstaan dit nie.

Ek het vandag bevestiging gekry dat Bravo ’n onderhoud vir televisie met my gaan voer. Dis oor twee weke. Hulle gaan ons toneelstuk Hotel Vleispaleis opneem en dan insetsels daaroor doen, maar die onderhoud gaan meestal oor my. Dit gaan baie moeilik wees om nie oor my nuwe dieet te praat nie en oor alles wat met my aangaan. Ek het by FINESSE kontrak geteken. Ek mag vir niemand vertel van die program tot ek op die voorblad verskyn nie. Ek gaan net hard werk en fokus vir die volgende twee weke. Ek wil ten minste nog drie kilogram verloor voor ons Bravo skiet. Ai, bring maar die TimJan en die sop.

Woensdag 30 April 2014 22:00

Sjoe, wat ’n lang dag. Het heeldag rolverdeling gedoen. Die dansers by Artscape is vreeslik talentvol. Ek moes hulle verfilm in ’n Studio waar daar geen mure is nie, net spieëls oral waar jy kyk. Met al die spieëls om my het ek besef ek sal binnekort nuwe klere moet kry want my jeans hang soos ’n sak aan my lyf.

My energie vlakke is baie hoog. Ek is gewoonlik gedaan na ’n dag agter die kamera, maar na werk het ek huis toe gegaan en dit gewaag om ’n ou rokkie aan te trek na vriende van ons. Hulle het ons genooi vir ete. Die rokkie sit toe sommer los. Hulle het my laas gesien nog voor ek KKNK toe was. Dis omtrent so ’n maand terug. Die komplimente het weer gevlieg, ek is baie trots. Karen en Paul is Portugees. Hulle is net so lief vir lekker eet soos ons, maar voor ons daarheen gegaan het, het ek gou by Woolies gestop en vir my slaai en vleis opgetel. Hulle het aan Gnochi pasta met room, kaas en cherizo worsies gesmul. Ek het lang tand aan my blaarslaai, komkommer en pastrami gesit en kners.

Ek moet bieg, April en Mei maand is die moeilikste tyd om op ’n dieet te wees. Dis nie net al die vakansiedae en lang naweke wat dit moeilik maak nie, maar ook dat dit nou begin winter word. Mens soek mos warm vertroosting van pastas en alles wat vet maak. En dan is dit môre ons eerste huweliksherdenking ook nog. Sal nie eers ’n drankie saam met die liefde van my lewe kan drink nie.

Môre is ek weer terug op vrugte en groente vir twee dae. Kom ons hoop dat die skaal darem weer sal beweeg. Met die lang ure by die werk het ek nog nie weer kans gekry om te gaan gym nie. Sal myself moet forseer om harder te begin oefen.

Donderdag 1 Mei 2014 8:00

Een jaar getroud vandag. Ons was baie slim om op ׄn vakansiedag te trou. Dit beteken ons sal elke jaar vir die res van ons lewens saam kan spandeer op ons huweliksherdenking.

Papier. Dis die geskenk. Papier! Nie ek of my man het al tyd gehad om ietsie te koop nie, so vandag gaan ons Lang straat toe (daar waar ons ontmoet het en daar waar hy my gevra het om met hom te trou). Ek gaan aan die een kant van Lang straat loop, en hy aan die ander kant. Dan gaan ons saam soek vir ietsie van papier. Ek sien uit. Ons gaan dan weer ontmoet waar ons die eerste keer ontmoet het. Baie romanties.

Na die tyd gaan ons Muizenberg toe om te gaan surf. Ek gaan die keer nie weer soos ’n opgestopte rob voel in daai duikpak nie. Met ’n bakkie sop en vrugte sal ek die dag deurmaak. Ek weet my man sal my probeer ompraat om stout te wees, maar ek gaan sterk staan. Ek dink ek is een van baie min vrouens wie se trourok groter gaan word in plaas van kleiner. Ek onthou nou hoe styf my ou rokkie gesit het op ons troudag. My man is darem maar regtig baie lief vir my, deur dik en dun!

Vrydag 2 Mei 2014 14:00

Whooop! Nog een en ’n halwe kilogram af! Ek het jare laas so min geweeg (Ek weeg nog baie, maar dit voel so lekker). Vanoggend was ek dou voor dag uit die kooi vir my Pilatesklas. Ek het sommer gehuppel van my kar tot by die gym. “Klein botteltjie, groot gif” was bly om my weer te sien en toe werk sy my sommer ekstra hard.

Dis weer groente vandag. Ek raak nou al baie kreatief met die kos. Ek het pampoenpitte ontdek. Dis heerlik saam met enige kos. Selfs rou kool. Ja, my middagete het ontstaan uit roasted baby marrows met sout, peper en bietjie olyf olie. Ek sny dit in die vorm van aartappel skyfies. Heerlik. Die pampoenpitte het ek saam met die rou kool baie geniet.

Ons vertrek vanaand Weskus toe. J8ded Media het ons geborg om ons huweliksherdenking by Shelly Point Country Club & Spa te gaan vier. Ek is gelukkig van môre af weer op groente en proteïne, so ek sal aan ’n lekker stukkie vis of steak kan smul. Dit gaan so lekker wees. Ek gaan die hele naweek massages, saunas en net alles wat mens lekker laat voel geniet. My wilskrag het my die afgelope vier weke regtig verbaas. Ek dink ek verdien om bietjie gepamperlang te word. Sal net seker maak ek sauna baie, dan weet ek sommer die skaal gaan weer my beste maatjie wees as ons terugkom.

Saterdag 3 Mei 2014 12:00

Die Weskus is iets besonders. Gisteraand het ons die mooiste sonsondergang gesien. Dit was mooier as ’n skildery. Net voor die ingang van die hotel.

Die buffet ontbyt by die hotel was natuurlik ’n groot toets. Daar was een hele tafel met vars gebakte pastries, kaas en alles wat ek mis. Ek het soos ’n soet dogtertjie gevra dat hulle die eiers vir my moet kook.

Ons gaan nou deur ry Paternoster toe. Ek hoop daar is ’n lekker stukkie vis op ’n vuur wat vir my wag. Ek is bitter bly ek is nie die naweek op groente en vrugte nie.

Een van my ou skoolvriende wat ek tien jaar laas gesien het, het ’n kroeg oopgemaak in St Helena Baai. Dis minder as 5 minute van die hotel af en ons gaan plan maak om hom te sien. Dit gaan interessant wees om in die Weskus sonder ’n glasie wyn te kuier. Ek hoop sy kroeg bedien rooibostee. Dank die Vader vir rooibostee. Dit is beslis my saving grace die afgelope tyd. Ek het my versoeter ingepak. ’n Boksie Stevia in my klere sak gepak, en ek dra die versoeterhouertjie in my handsak.

Stevia is gemaak van plante, en dit het 6 kilojoules minder as gewone Canderel. Maar net 1 kilojoule per pilletjie. Daar is ook nie aspartamien in nie, en dis heerlik in ’n koppie rooibos. Ek is ’n baie cheap date die afgelope tyd, maar ek mis nie alkohol nie. Om elke oggend wakker te word en so vars soos ’n lentebries te voel is lekkerder as enige wyn wat ek nog ooit gedrink het.