Chanelle de Jager: 17 kg ligter – Blog 6

0
37
chanelle_de_jager_dieet.jpg

So, hoe voel dit om 120 dae aaneen gesond te eet? Chanelle de Jager verklap wat alles agter die skerms gebeur het sedert 26 Maart toe sy die Nuwe Jy-program begin volg het.

Sondag 4 Mei 2014 8:00

Dit was vet pret. My vriend wat saam met my op skool was, het ons naweek hier by die Weskus ekstra lekker gemaak. Sy nuwe liefde se familie besit omtrent die hele St. Helena Baai. Ons het binne twee ure se kuier al die skinderstories van die dorp gehoor. Ons het omtrent baie vir die mense gelag. Hulle het ons dadelik welkom laat voel. Ek was seker die moeilikste kliënt wat die Weskuskombuis nog ooit gehad het. My vissie mag geen deeggie om kry nie en my slaai mag geen kaas in kry nie. Hulle kon nie verstaan dat ek nie al die lekker goed op my kos soek nie. Die eienaar het later na my toe gekom en vertel dat ek al hulle rooibostee opgedrink het. Die Weskus mense kan bietjie oordryf, maar dis alles deel van die storievertellery waarvoor hulle so lief is. Hy het nog niemand gesien wat so baie tee drink nie.

Ek het saam met al die dronk mense gedans. Daai klomp mag maar langarm. So lekker Afrikaans en plesierig. My vriend dink ek lyk nog dieselfde as tien jaar terug. Ek gee nie om of dit waar is of nie, ek glo dit. Want ek wil dit glo.

Maandag 5 Mei 2014 17:00

Ek het ʼn baie lekker sessie by die Biokinetikus vanoggend gehad. Sy het my gemeet en weer my BMI uitgewerk. My BMI is van 30% af na 27% en ek het sentimeters verloor om my middel en heupe.

Die oefeninge is intens. Ek gaan môre weer styf wees. Ek het die afgelope maand meer oefening gedoen as wat ek verlede jaar die hele jaar gedoen het. Ons is nog nie eers halfpad met die program nie, en almal wat deelneem het al baie bereik.

Een van die dames se ma is baie siek. Ons voel jammer vir haar, want dis nie maklik om te fokus op ’n dieet as mens se hart seer is nie. Die liefde en ondersteuning wat die program se vrouens mekaar gee is baie spesiaal. Ek dink ons klompie gaan mekaar vir die res van ons lewens ken. Dis asof ek 12 nuwe sussies bygekry het. Ons is soos ’n trop leeus wat saam werk aan dieselfde doel. Mens sal nie dink dit is ’n kompetisie nie. Niemand is lelik met niemand nie. Dis nie soos Survivor nie. Ons hou mekaar saam sterk, want almal het iets om te verloor…

Dinsdag 6 Mei 2014 20:00

Detox, detox, detox. Op die proteïendae raak ek lus vir vrugte. Op die vrugtedae raak ek lus vir proteïne. Dis maar hoe ons vrouens aanmekaar gesit is. Ons sal ook nooit tevrede wees nie. Geen wonder ons mans sukkel om ons te verstaan nie. As my hare krul, dan soek ek reguit hare, as my hare reguit is dan mis ek my krulle. Maar een ding is verseker, ek gaan nooit ooit weer wens ek is vet nie!

Vandag was ek op ’n buite shoot saam met ’n Britse regisseur. Hy was baie aangenaam, maar my geduld was min gesaai. Ek was op een stadium baie streng met al die akteurs, omdat ons agter was met die skedule, toe moes ek hulle aanjaag. My stem het ek dik gemaak en vinnig-vinnig was ons weer op skedule. Die regisseur het op ’n stadium na my toe gekom en gevra of ek Duits is. Nee, ek is Afrikaans. Duitse vrouens en Suid-Afrikaanse vrouens word gereeld oor dieselfde kam geskeer. Seker omdat ons groot en blond is met blou ogies en diep stemme.

Dit gaan maar op en af met die dieet. Ek sal my stem vir myself ook moet dik maak sodat ek kan volhou en weer op skedule kom.

Woensdag 7 Mei 2014 14:00

Stemdag. Groot dag vir ons land. My ma het altyd geglo dat die mense wat in die Kaap bly liewe Jesus se witbroodjies is. En ons is. In vergelyking met die res van die land is dit baie ooglopend dat die DA weet wat hulle doen, maar ek gaan nie te veel oor politiek praat nie. Dit sal my na koolhidrate en drank toe dryf. En sjokolade. Ek sal van voor af ’n emosionele eter word as die ANC… Ag, ek wil nie eers daaraan dink nie. Hierdie vakansiedae moet nou end kry.

Ek kan glad nie gaan oefen nie, want hulle is nie oop op publieke vakansiedae nie. Voel of ek ’n berg wil uitklim, maar ek sal omkap. Die hele week is net vrugte en groente. Vandag is ek presies een maand op die dieet. Om 8kg in een maand te verloor is baie goed. Ek behoort trots te wees op myself, maar ek kan voel ek is al ’n maand sonder die lekker dingetjies.

Ek begin sommer my eie politieke party en maak seker dat niemand in ons land enige lekkergoed mag verkoop in die winkels nie. Dink net hoe mooi maer en gesond ons land sal wees. Die CSN party, Conquering Shyness of Nudity Party. Ai nee, dit klink soos ’n nudistebeweging. Ek kan laf wees as ek die dag lus is.

Donderdag 8 Mei 2014 20:00

Ek weet ek het al hieroor in my blog gekla, maar ek sukkel met die piesangdae. Ses piesangs en een ou glasie melk. Dis al. Dis nie dat dit sleg proe nie. ’n Piesang en kaneel smoothie is heerlik, maar die probleem is, dis heeltemal te lekker. En dan is dit klaar. Op hierdie dae maak ek nie eers vir my man kos nie. Ek bly so ver as moontlik weg van die kombuis af.

Woolworths het die beste piesangs. Hulle is lekker groot en geel. Nie klein en vol swart spikkels nie, maar as piesangs swart spikkels op het is dit glo baie goed vir kanker voorkoming. Ek wens my kaste was nog deurmekaar. Dan kon ek my gedagtes van kos afhou. Ek kry koud en ek is lus vir alles behalwe piesangs. Vasbyt Chanelle.

Kom ontmoet Chanelle op Saterdag 18 Oktober by ons ’n Nuwe Jy-bootcamp.