Chanelle de Jager: 17 kg ligter – Blog 8

0
57
chanelle_de_jager_dieet.jpg

So, hoe voel dit om 120 dae aaneen gesond te eet? Chanelle de Jager verklap wat alles agter die skerms gebeur het sedert 26 Maart toe sy die Nuwe Jy-program begin volg het.

Woensdag 14 Mei 2014 18:30

Dis die einde van ’n baie lang dag, ’n baie goeie dag. Die onderhoud met Bravo! het glad verloop. Dit was so lekker om weer saam met Hannes van Wyk (Krynauw van Egoli) te werk. Al die ander aktrises se kakebene het behoorlik op die vloer gesleep toe hulle sien hoe maer ek geword het. Gelukkig is my kostuum ’n rompie en ’n baadjie, so dit pas darem nog.

Na die onderhoud het ek na SAUK in Seepunt toe jaag vir ’n stem oudisie vir volgende jaar se radiodramas. In my gejaag bel my agent om my te laat weet dat ek vir ’n call back vir die Amerikaanse advertensie moet gaan. Ek het my hart gaan uitspeel, en was op die kortlys saam met ’n ander aktrise wat al vele toekennings vir haar toneelspel gekry het. Sy gaan dit seker kry. Sy is briljant.

Ek het amper flou geval toe ek uit my kar klim. Ek het die hele dag niks geëet nie. Daar was net nie tyd nie. Darem was ek slim en het gekookte eiertjies saam met my gevat, dit het my gered. Toe jaag ek SAUK toe om die stem oudisie te doen. Ek het behoorlik oor my eie tong geval. Ek kon beter doen. Ek voel gespanne en moeg. Lekker groente en stukkie vleis gaan nou goed afgaan!

Donderdag 15 Mei 2014 20:00

Ek is effens verkouerig. Dit maak my sommer kwaad want ek leef so gesond, nou raak ek siek. Ek gaan in die bed klim en slaap. Goeie dag vir die Kinderhuis projek. Ons het onderhoude gedoen met ontwerpers en het ’n wonderlike jong en talentvolle man aangestel. My woorde is min en my keel is seer. Nie baie lus vir blog vanaand nie. Ons probeer weer môre.

Vrydag 16 Mei 2014 22:00

Piet, my man, se oupa is baie siek. Ons is hier in Pretoria vir die naweek. Dit gaan baie emosioneel wees. My dierbare skoonma, Emma het omtrent baie bederfkossies uitgehaal. Vetkoek, heerlike kaas, koekies… Ai.

Sy is baie verbaas om my so bietjie maerder te sien. En om te sien hoe soet ek is. Laas toe ek saam met hulle vakansie gehou het oor Desember was ek en sy permanent in die kombuis besig met lekker kos maak. Ons het gevreet asof daar nooit weer kos gaan wees nie. Die keer sit ek buite by die vuur en drink my rooibos tee. More gaan ’n moeilike dag wees vir my liewe man. Laat ek langs hom gaan inkruip en hom net vashou.

Saterdag 17 Mei 2014 22:30

Ek was stout. Vir die eerste keer in 41 dae het ek gekroek! Vandag was net een lang tranedal. Ek het my man nog nooit so hartseer gesien nie. Sy oupa is nou gereed om te gaan en is klaar besig om sy bande met die lewe te knip. Hy is ’n ontsettende gelowige man, en praat die heeltyd oor hoe die Here hom gaan kom haal. Hy staan al met een voet in die Hemel. Hy het ons oor en oor vertel hoe mooi die Hemel is.

Toe my man sy liewe oupa vir die laaste keer groet het dit my gebreek. Toe ons terug kom by die huis toe drink ek sommer drie glasies Sjerrie. Drie! En toe eet ek nog van skoonma se kaaswors wat sy spesiaal vir ons gekoop het by Piet se gunsteling slaghuis. Sies man Chanelle! Ek weet nie hoe ek nou eintlik voel oor die kroek nie. Dit sal môre eers ’n realiteit wees. Rus, rus, rus. Dis wat ek nou wil doen.

Sondag 18 Mei 2014 8:00

So tussen die trane en die sjerrieskuldgevoel het ek sommer vergeet om te noem dat ek die rol gekry het in die Amerikaanse advertensie! Ek is oppad terug Kaapstad toe want hulle het die skiet datum geskuif na vanaand. So op die heilige Sabbat ook nog. Piet gaan agterbly en eers later vanaand terugvlieg.

Dit voel asof my wieletjies bietjie afkom met die dieet. Asof ek tussen hier en Pretoria êrens beheer verloor het oor my eie wilskrag. Dit is ’n deurnag shoot, ek hoop hulle laat my hard werk sodat ek daai kilojoules kan afskud. Simpel Sjerrie. Simpel Kaaswors.