Chanelle de Jager: 17 kg ligter – Blog 9

0
46
chanelle_de_jager_dieet.jpg

So, hoe voel dit om 120 dae aaneen gesond te eet? Chanelle de Jager verklap wat alles agter die skerms gebeur het sedert 26 Maart toe sy die Nuwe Jy-program begin volg het.

Maandag 19 Mei 2014 12:00

My bene is so styf ek kan nie loop nie. Met die shoot het ek heen en weer oor daai sokkerveld gehardloop. Die sjerrieskuldgevoel is weg!

Vandag is ek besig, besig, besig met die Kinderhuis projek. Ons vorder mooi met al die admin. Oor twee slapies vlieg ek weer Johannesburg toe vir die tweede sessie van die Nuwe Jy Projek. Daaroor gaan ek nog baie vertel…

Dinsdag 20 Mei 2014 8:00

Tassies gepak. Vlieg vroeg môre oggend. Vandag het ek weer vir die eerste keer in jare in ’n nommer 36 broek ingepas. Dis ’n wonderlike gevoel. Ons moes nuwe denims koop vir die shoot, so ek het ’n lekker skinny jean gekry en voel baie sexy daarin. Ek het al my ou flennie winter pajamas ook weggegooi. Hulle was so groot en uitgewas. Ek het drie nuwe stelle pragtige winter pajamas gekoop. Dis ’n medium. Ek moes nuwe panties ook kry, ook mediums! Ek het vir bitterlank altyd large gekoop. Ek is bly daai dae is nou verby, maar ek voel steeds vreemd. Asof daar ’n grys wolkie oor my dieet is. Ek hoop die volgende twee dae saam met die ander dames sal weer die wip in my waggel terugsit. Kan nie wag om almal weer te sien nie!

Woensdag 21 Mei 2014 22:00

In die luukse hotelkamer op my bed. Wat ’n dag. Dit het begin met die ontmoeting van Theresa en Salome op die lughawe. Ek het nie regtig geweet wat om vir hulle te sê nie, want ek kon nie regtig ’n verskil sien in hulle nie. Toe is hulle die twee dames wat uitgeval het in die rondte. Ek voel jammer vir hulle, maar ek het dit sien kom. Die ander dames het my grootste verwagtinge oortref! Ons klomp vrouens het saam ’n reuse 110kg verloor en meer as 300cm. Dis fantasties. Dit lyk of daar ’n liggie in hulle almal aangegaan het en asof hulle hul verlore trots weer teruggekry het.

Ek was by I love my smile vir ’n lekker tande skoonmaak sessie. Ons het by City Chick gaan klere uitsoek vir more se shoot. Toe ons by die hotel aankom was ons dadelik na die konferensie lokaal toe om ons te weeg en te meet. Ek het baie sentimeters om my maag verloor, wat beteken dat daar baie minder vet om my organe is. Ek is vandag ’n gesonder mens! Ek het net oor die nege kilogram verloor. So, ek is nou halfpad.

By die etenstafel het die ander dames sommer lekker gesit en kroek. Wyn gedrink, pasta opgeskep. Ek het tot ’n broodrolletjie gesien op ’n bord. Ek kon dit nie oor my hart kry om te kroek nie. Dit het net verkeerd gevoel. Met alles wat om my gebeur voel dit asof my vlam laag brand. Dit voel asof ek op een plek vashaak. Ek weet nie wat met my aangaan nie. Dalk voel ek môre beter.

Donderdag 22 Mei 2014 15:00

Wow! Die tweede sessie van die Nuwe Jy was ’n reuse sukses. Regtig. Die pragtige, mooi, fyn en dierbare Venessa en haar span is werklik uitstekend. Die shoot was heerlik. Almal het tog so pragtig gelyk. Na die shoot het die fotograaf vir my die foto’s gewys. Ek kan ’n reuse verskil in myself sien.

Die fotograaf het my details geneem, want sy sê ek sal ’n goeie model vir Edgars en Jet wees. Ek hoop ek kry modelwerk deur haar, dit sal wonderlik wees! Hulle het my sonder grimering ook afgeneem en die vorige foto vir my gewys van voor ek met Environ begin het. Daar is ’n groot verbetering in my vel.

Ek sal my tande meer gereeld moet bleik. Al die ander dames se tande is so mooi wit. Ek sal die pyn moet verduur. Katherine, die sielkundige, het so bietjie tyd saam met my spandeer en sy sê ek doen fine.

Ek moet ’n dag langer bly want ek sou ’n vergadering vir die kinderhuis in Johannesburg gehad het, maar dis gekanselleer. Wat gaan ek nou met myself doen tot môre middag 4 uur, wanneer my vlug terug Kaapstad toe is?

Ek dink ek weet wat met my fout is. Ek is lus vir kroek. Ek is lus vir wyn drink en stout wees. Ek het nodig om pret te hê! Al die ander dames het gister en vandag so lekker gekroek. Dalk moet ek nou maar net ’n stuk koek bestel. Ag nee wat. Laat ek eerder nie. Ek is die ambassadeur van die projek en ek moet ’n goeie voorbeeld stel vir almal, maar ek wil so graag net vir een aand myself bietjie geniet. Dis al die dissipline wat my so goor laat voel. Ek dink ek gaan vir Tiaan en Danielle bel en by hulle gaan kuier. Hulle is sulke liewe mense.

Vrydag 23 Mei 2014 14:00

Oor alles wat gisteraand gebeur het wil ek nie eers skryf nie. Ek voel soos ’n stout kind. As hier ’n hoek was, het ek in hom gaan staan, die hele dag. Die kuiertjie by Tiaan en Danielle was regtig lekker. Te lekker. Toe ek by hulle warm en velwekomende huis instap was daar vir my ’n glas rooiwyn gegooi. Ek het daai glas rooiwyn gedrink en dit was soos heuning op my tong.

In die hoek van hulle kombuis staan daar toe die mooiste koekblik wat ek in ’n baie lang tyd gesien het. “Daai koekies is van Swaziland af. My Ouma se resep”, vertel Danielle my. Daai koekblik se deksel was oop vir twee sekondes en die volgende oomblik staan ek met ’n koekie in elke hand. Ek het soos ’n honger straatkind daai koekies verorber.

Later die aand na die braai (ek het my slaai en vleisie geëet soos ’n soet meisie) haal Tiaan toe ’n bottel Amarula uit. Toe sit Chanelle met nog ’n koekie in die hand en sluk dit sommer af met Amarula. En weet julle wat? Dis oukei. Ek het vreeslik baie pret gehad en net so bietjie my hare laat loshang. Ek het dit nodig gehad.

Vandag voel dit asof daar gif in my bloed is. My lyf is nie meer lief vir alkohol, suiker en meel nie. My brein voel stadig en my maag voel opgeswel. Dis nie reg nie, maar ek het daai kroek kiem uit my sisteem uit gekry. Ek is ook maar net ’n mens.