Chanelle de Jager verloor 17 kg

0
59

Chanelle de Jager het baie verander. Hier verklap sy die geheim vir haar nuwe binne- en buitekant.

Chanelle (34) is bekend as aktrise, maar tuis is sy regisseur van haar lewe en haar geluk. Sy is nou ’n jaar en ’n half getroud, en is uit haar vel oor die Nuwe Jy program, wat sy sedert Maart volg. Daarmee het sy nie net verslank nie, maar ook ’n hele paar sakke se emosionele bagasie afgegooi.

Skielik was ek 20 kg swaarder!

“My nuwe naam is Temara,” lag Chanelle. “My kollega het my dié nuwe naam gegee, want hy dink ek is ‘te maer daar’. Ek voel fantasties!”

Op haar sy, soos ’n wafferse Hollywood-ikoon uit die 1950’s, lê sy uitgestrek op die bed. Sy rus op haar elmboog met een knie gebuig. En sy lyk fantasties – sommer sonder grimering.

Chanelle is in haar hotelkamer by die laaste sessie van FINESSE se ’n Nuwe Jy program, wat haar en tien lesers uitgedaag het om te verslank en ’n nuwe, gesonde leefstyl te volg. Hulle het eetplanne, oefenprogramme, berading en vel- en haarsorgprodukte gekry tydens die vier maande lange uitdaging.

Vir Chanelle was dit perfekte tydsberekening. “Ek het deur die jare ’n kilogram hier en ’n kilogram daar aangesit, en voor ek my kom kry, het ek 85 kg geweeg. Ek het regtig nie eers ’n verskoning nie, ek het nou nie kinders gebaar of so iets nie,” lag sy.

“My gewigprobleem het eintlik reeds op hoërskool begin. Toe my ma, Marie, in daardie tyd kanker gekry het, het ek ’n emosionele eter geword. Phillip, my pa, is ook dood toe ek 23 was. Ek het myself nooit die kans gegee om werklik te rou nie en myself eerder getroos met alles wat verkeerd is – net om op daardie oomblik beter te kan voel.

“Ná Egoli in 2008 klaargemaak het, het ek Kaap toe getrek en by ’n modelagentskap aangesluit. Ek het tyd vir myself nodig gehad, buite die vermaakbedryf, en het dit vir vier jaar verlaat. Ek was nog nooit baie maer nie, maar ek het goed gelyk. As ’n plus-grootte model vir Milady’s was al daardie druk om maer te wees skielik net weg – ek was gemaklik. Té gemaklik, en het glad nie na my gewig omgesien nie.

“By die bekendstelling van die Nuwe Jy-program het die sielkundige, Catherine, met ons kom praat. Sy het gesê ons is almal instrumente van God. As jou instrument nie ingestel is nie, kan jy nie deel wees van die magiese simfonieorkes van die wonder van die lewe nie. Daar sit ek toe met ’n waterval trane wat oor my mollige wange stroom. Dit het ingesink: Ons moet ons persepsies verander om ons instrumente weer mooi te kan instem.

“Ons is vry om te kies wat en wie ons is. Vry om nuwe en beter keuses te maak, en sodoende beter tempels vir ons Skepper te wees.”

[pagebreak] En toe sy eers dié kopskuif gemaak het, was dinge maklik. Dit was wel ’n aanpassing, sê sy. “Eers kon ek nie konsentreer nie, en ek was bewerig en tam. In die eerste week het ek selfs oor kos gedroom, of dalk eerder nagmerries gehad. Daar was so ’n pragtige kunswerk van ’n kolwyntjie en in my droom het ek dit in my mond gesit en uitgespoeg – lekker kwaad vir myself omdat ek kul. Dit was ’n goeie teken dat selfs my onderbewussyn dié kos uit my lyf wou kry.

“Maar na die eerste twee weke het ek al beter begin voel – my slaappatroon en energievlak was beter as ooit. Ek word nie eers meer lus vir soetgoed nie. Ja, ek loop by ’n bakkery verby en dit ruik soos die hemel, maar ek het nie meer lus om in te stap nie. Ek trek eintlik my neus op, want dit laat my so goed voel om gesond te eet.”

Kliek hier om in te skryf vir ’n Nuwe jy 2015.

So lyk my nuwe lewe en nuwe eetgewoontes

Die ondersteuning van haar man, Piet (Rheeders de Wet), help ook baie, sê sy. “Ek was nog nooit in ’n funksionele verhouding waar iemand my op moeilike dae net vashou en troos nie. Dis lekker en ek voel veilig. Skielik het ek nie meer kos nodig om my op te kikker as ek mismoedig is nie.”

En Chanelle het nou sommer ’n hele gesin. Piet se dogter, Kathleen (4), was twee toe sy hom ontmoet het, en hulle is verlede jaar getroud. “Ek het nog altyd ’n sagte plekkie vir kinders, maar het nog nooit die ondersteuningstruktuur gehad wat nodig is om ’n kind te kry nie – my familie is almal oorsee. Ek dink die Here het geweet ek het haar nodig, en sy vir my.

“Die skielike gesin was wel ’n aanpassing – ek het immers nie nege maande se swangerskap gehad om myself daarop voor te berei nie. Maar jy hou op om aan jouself te dink, want hier is ’n onskuldige kind wat liefde nodig het. Jy maak vrede met die nuwe situasie en omstandighede.

Klein Kathleen eet nou saam gesond. “Voorheen het ons baie ongesond geëet as sy kom kuier het, want ons het die kos gekoop waarvan sy hou. Maar nou kry sy vrugte en jogurt skool toe en geniet dit – kinders is baie aanpasbaar. Sy wil altyd weet wat ek kook en eet lekker saam.”

[pagebreak] “Die winter en Paasseisoen is dalk nie ’n maklike tyd om te dieet nie, maar is daar ooit so iets soos ’n maklike tyd? In die somer is dit weer vakansies en partytjies, dan gaan dit net so moeilik wees. Op ’n stadium moet jy dit net doen en klaarkry.”

Daar is tog ook moeilike dae. Maar dan, sê sy, doen sy haar bes om op die positiewe te fokus. “Ek was nog nooit ’n oefeningmens nie, maar nou doen ek drie keer per week Pilates, of ek doen ’n halfuur se kardio-oefeninge en ’n halfuur se gewigoefeninge in die gym. Eendag toe ek by die gym uitstap, voel ek soos ’n lomp reus. Om my waardigheid te probeer behou, vee ek die sweetdruppels so vroulik as moontlik weg. Net toe sien ek ’n jong vrou sonder ’n been verbystap. En sy glimlag vir mý. Net daar laat vaar ek toe die negatiwiteit. Harde werk is nie iets waarvoor ek myself hoef jammer te kry nie.

Ek het my rolletjies verruil vir nuwe rolle

“In die eerste tien dae van die dieet het ek vyf kilogram verloor – dit was so inspirerend! Toe staan die skaal ’n ruk lank stil, maar ek het gefokus op die nuwe spiere wat ek in die gimnasium bou. Op hoe fiks ek begin voel, en hoe lekker dit is om elke oggend vars en fris en gereed vir die dag op te staan sonder al daardie gifstowwe in my lyf.”

Al dié ekstra energie was ook baie nuttig, want Chanelle se loopbaan is op ’n wegholpad. “Ek speel vanjaar in twee verhoogproduksies, Vat Hom, Fluffy en Hotel Vleispaleis, wat by kunstefeeste regoor die land opgevoer word.” Sy is ook ’n advertensie-rolverdelingsregisseur vir internasionale kliënte en het pas ’n rol in ’n Amerikaanse advertensie vir EA Games se FIFA-speletjie losgeslaan. “Ek speel ’n sokkerma!”

Deesdae voel sy soos ’n ware kunstenaar en speel allerhande verskillende rolle – selfs in radiodramas op RSG. “Mense dink jy’s net ’n aktrise as jy op TV is, maar dit raak afgesaag en dan soek jy ’n nuwe uitdaging. Verhoog is my passie, dis hoekom ek ’n aktrise wou word. Dis so eg en eerlik – ’n lag is ’n lag en ’n traan is ’n traan.”

En na dié hoogtepunt, wat is volgende? “Meer van dieselfde! Dit gaan goed met my beroep, daar is mense in my lewe wat waarlik vir my omgee, en ek het beheer geneem oor my lyf, my eetgewoontes en my toekoms. Dit is ’n wonderlike, bevrydende gevoel.”

Lees ook: Chanelle het vir 120 dae oor haar Nuwe jy-reis geblog. Sy is skreeusnaaks en baie eerlik, werklik inspirerend vir elke vrou wat dieselfde pad stap.

Jy kan ook ’n nuwe leefstyl begin en gewig verloor, net soos Chanelle. Skryf nou in vir Nuwe jy 2015, en verander jou lewe.

Chanelle het tydens die program by Kim Murphy Biokinetici geoefen. Die praktyk is klein en intiem en elke kliënt kry intensiewe aandag. Hulle bied Pilates-klasse aan, of jy kan die gimnasium en binnenshuise swembad tydens jou oefenprogram gebruik.
Tel: 021 5317232 / kimmurphybiokinetics@gmail.com