Charlene Strydom

0
41
charlene.jpg

Ek het geleer… … Ek kan iets klaarmaak

OUDERDOM 29

EETPLAN Nativa New You

LENGTE 1.64 m

GEWIG 65.8 kg (was 83 kg)

VETPERSENTASIE 28.1% (was 37.8%)

“Die meeste lesers het vir haar gestem per sms.” Toe ek met die program begin het, het ek nie besef hoeveel mense agter my rug fluister dat ek dit nooit sal regkry nie. Die mense naaste aan my ken my goed en weet dat ek gou opgee en dinge nooit tot die einde deurvoer nie. Ek begin gewoonlik volstoom met ’n ding, maar halfpad verloor ek vertroue in myself en gee dan liewer op, want ek glo ek gaan dit buitendien nie regkry nie. Die persoonlike afrigter by ’n gimnasium waar ek oefen, sê die eerste keer toe hy my gesien het, was hy oortuig daarvan dat ek nooit sal kan volhou nie. Selfs my man het onlangs eers gebieg dat hy nie gedink het ek sal die program kan klaarmaak nie. Dit maak seer, maar ek kan niemand eintlik kwalik neem nie. Dis hoe ek nog altyd was. Tydens die program het ek egter opnuut vertroue in myself ontdek. Ek het altyd geglo ek is nie goed genoeg nie en dat niemand vir my kan lief wees nie. Tydens die program het God my egter gewys dat ek niks meer kan doen om sy liefde te verdien nie. Hy is lief vir my nes ek is. Dit het my gemotiveer om ’n nuwe mens te word wat die wenstreep kan oorsteek.  

Die sielkundige sê

Charlene se huwelik sou dit nie gemaak het as sy nie verander het nie. Omdat sy in die verlede seergekry het, het sy ook die ergste van haar man verwag. Haar man het haar altyd baie komplimente gegee, wat sy nie geglo het nie. Sy het besef sy moet haarself oopmaak teenoor hom. Toe sy haarself vir die Here se liefde begin oopmaak, kon sy ook haar man en ander se liefde begin aanvaar.  

My swakplek was … Kitskos

Ek het altyd geglo ek kan nie kosmaak nie. Die gevolg was dat ons tot drie keer ’n week en oor naweke gemorskos geëet het. Maar nou het ek my nuwe talente in die kombuis ontdek, danksy Nativa New You se ondersteuning. Ek probeer nou nuwe, gesonde geregte maak waaroor my gesin mal is.