Cherise Vermeulen

0
268

Vir CHERISE VERMEULEN was die lewe nie altyd maanskyn en rose nie. Tog weet sy dat die toekoms anders kan uitwerk as wat ’n mens dink.

My passie vir media het begin toe ek deel geword het van die produksiespan van Kideo, ’n bekroonde televisieprogram. Vandag bestuur ek my eie produksiemaatskappy, Media Creations.

Ons het onlangs in samewerking met ’n ander maatskappy ’n televisiereeks vir kinders voltooi. Die program wil kinders bemagtig om hulle vriende op ’n opwindende manier van Jesus te vertel.

Die feit dat my lewe nie altyd maklik was nie, maak my nie uniek nie. In die video- en filmwêreld hoor ek gereeld van mense se hartseer kinderdae. Dit is egter nie wat die uitkoms van ons lewens bepaal nie.

Ek kon seker my ouers se egskeiding vir die moeilike tye geblameer het en gevra het waarom ek en my boetie daardeur moes gaan. Maar die dissipels het tog ook nie maklike lewens gehad nie! Die Gees het my gewys dat daar geen sin in blamering is nie. Vandag kan ek my ma en pa eer en respekteer, omdat ek weet dat hulle nou ook Sy volgelinge is.

My Engels-onderwyseres in die hoërskool het ’n groot invloed op my lewe gehad. Dit het my gemotiveer om self hoop en visie vir mense te gee wat dit nodig het.

Dans is my groot passie. Ek was ’n solo-danser en lid van ’n bediening waar ons stories van hoop vertel het deur dans. As jy eers eenkeer die voorreg gehad het om vir die koninkryk te dans, verander dit jou siening van dans heeltemal.

My wonderlike, visionêre man, Danie, maak my hart vol met eindelose vreugde. Hy is die Afrika-direkteur van Generosity Path en fasiliteer veilige gesprekke rondom Bybelse vrygewigheid met sakelui in Afrika.

Mag my lewe as danser en mediavervaardiger vir ander hoop gee! Mense moet besef dat jou omstandighede jou slegs kan terughou as jy dit toelaat.

This slideshow requires JavaScript.