Christen, is God God?

Want die antwoord op daardie vraag het GROOT implikasies!

As God God is, dan is die hele aarde en alles daarop Syne, en vir Hom deur Hom en tot Hom gemaak, en dit werk presies soos wat Hy dit gemaak het.  Dan is Hy nie net baas nie, dan is Hy reg en ons is … nie.  Daar is geen beter antwoord as Syne nie, Sy manier is die enigste opsie wat werk!  Hy weet nie net hoe nie, maar ook hoekom Hy alles so gemaak het en Hy het dit vir ons duidelik uitgespel in Sy Woord. As Hy nie kan lieg nie, dan bedoel Hy elke Woord in die hele Bybel en is Hy baie baie ernstig daaroor.  

As Hy almagtig, alwetend en soewerein is, dan neem Sy wil ALLES in ag.  As die Here is Wie Hy sê Hy is, dan is Sy wil goed en dit bring lewe, en alles teen Sy wil, bring dood (ons keuse). Dit gaan nooit verander nie en daar is geen uitsonderings nie.  As Hy alomteenwoordig is, dan is daar nêrens binne en buite hierdie heelal waar Hy nie is nie.  Jy kan Hom nêrens ontvlug nie, niks val deur die mat nie, Hy is ORALS, ALTYD.

Hy is God en ons is nie.

Maar nou sê die wêreld, ja wel, dit is jou waarheid, verseker nie my waarheid nie.  Ons elkeen probeer maar net die beste lewe vir onsself uitkap met die waarheid wat ons glo.

Media, wetenskap, ongeredde vriende… oortuig jou maklik, want jy weet self nie regtig wie die Here is nie. Wat as Hy toe nooit eers bestaan nie???

Maar waarheid is nie relatief nie.  Iets is nie waar omdat jy dit glo nie. Iets is waar omdat dit waar is, en daar is niks wat daardie feit kan verander nie.  Al stem jy NIE saam nie!  Al verstaan jy nie.  Selfs al weet jy nie die waarheid nie, dit verander niks nie.  Dis waar of dit is nie.

So jy kan enige tyd besluit God bestaan nie, of dat Hy nie God is nie, dat “Godsdiens” opgemaak is in ‘n irrelevante boek vir drommels wat ‘n kruk nodig het en nie vir hulleself kan dink nie. Dan kan jy sonder God se inmenging sinvolle, logiese, intellektuele gesprekke voer oor lyfstraf, homoseksualiteit, egskeiding, tweegesig Christene en elke mens se fundamentele reg op geluk vir solank as wat jy lewe.

Maar almal sterwe en dan bly net jy en God oor.

Die waarheid is dat elke liewe een van ons voor Hom gaan staan aan die einde van ons geallokeerde tyd op aarde en ons gaan twee vrae beantwoord voor die einste God wat niks verander het nie en toe nooit weggegaan het nie.

Hy gaan vra: Behoort jy aan Jesus? En het jy My Woord gelewe?

Hy mag dit vra, Hy is God.

Christen: as God God is, as ons dit enigsins glo, dan word jou Bybel HEILIG, lewensbelangrike, kosbare binne-inligting vir LEWE vir jou en jou geliefdes.  Jy kan NIE daarsonder klaarkom nie.   En Sy genade gee jou kosbare tyd op aarde om vir ewig Sy Koninskap te vat of te los.

Vorige artikelDit is die maand Oktober
Volgende artikelSurprise
Blogger - Janine van Niekerk
Janine van Niekerk is 'n media evangelis, getroud met Cecil van Niekerk en ma van Paul en die tweeling, Elmien en Leilah. Sy is 'n gospelmusiekkundige, bestuurder van Retief Burger, omroeper by Radiokansel 657AM, betrokke by verskeie eenheidsbewegings en baie aktief in media; wat verskeie radiostasies, TV, skryfwerk en sosiale platforms insluit. Aangename Kennis, Here is deur haar gepen en sy het ook 'n hoogs suksesvolle uitreik CD, die StuurwielStories, anoniem opgeneem, waar die Agies basiese radikale Christenskap ontdek.