Christi Panagio se wenke vir skoonheid en goedvoel

0
306
christi_panagio_voelgoed.jpg

Min vroue kry dit reg om innerlike én uiterlike skoonheid uit te straal. Hoe kry Christi dit reg? En kry sy ook soms “af” dae?

Christi Panagio, wat destyds 7de Laan-kykers se voete onder hulle uitgeslaan het met haar ysblou oë en pragtige bos hare, speel deesdae die rol van vrou en ma met oorgawe. Ten spyte van haar afwesigheid voor die kamera en op die loopplank bly Christi bekoorlik mooi. En sy doen dit met ’n tevrede grasie. Christi vertel hoe bly sy pragtig, jonk en gesond.

1. Wees tevrede met wat jy het

Ja, natuurlik was ek al vet, trouens, ek voel party dae steeds vet en soms is ek oorgewig. Mense dink miskien ek is maer, maar in die modelwêreld is ek eintlik “groot”. Omdat ek lank is, kan ’n paar kilogram ekstra my enorm laat lyk. Maar dit is alles eintlik baie oppervlakkige goed, ek is baie dankbaar vir wat ek het.

2. Oor naweke kan jy maar ’n bietjie kul

Ek is mal oor kos! Een van my groot wense is dat ek net vir ’n rukkie van die wêreld se reëls kan vergeet en sewe dae aanmekaar kan vreet! Die probleem is dat Nico net so graag eet en ook maar sy gewig moet dophou as gevolg van sy werk.

Ons het nou ’n sisteem uitgewerk waarvolgens ons ons kos as A-, B- en C-kos kategoriseer. A is supergesond, soos slaai en sop; B is iets soos ’n Thai-kerrie, wat effens ongesond is, en C is groot kul en baie ongesond, soos ribbetjies. In die week sal ons deur die dag van die A-lys af eet en saans B-kos maak, maar oor naweke kul ons ’n bietjie met C-kos.

3. Die geheim van ’n goeie slaai is die blare

Die sukses van slaai, het ek agtergekom, is dat dit oor die blare gaan. Nie daardie liggroen blaarkoppe wat ons altyd as kinders geëet het nie. Doen moeite om ’n lekker pak slaai te kry wat uit verskillende soorte soos roketblare en verskillende kruie bestaan.

4. Om te gym is vir die voëls

Wanneer ek oefen, is dit nie om maer te word nie, maar eerder om gesond te bly. En as ek oefen, sal dit beslis ook nie in ’n gimnasium wees nie. Wat is dan beter as om jou daaglikse oefening langs die Kaapse kus te doen? Vir my gaan oefening baie meer oor stresontlading en ferm word as om maer te word.

Kliek ook hier vir foto's van Christi se 31 Dae van inspirasie

[pagebreak]

5. Skoonheid is ’n gladde, pragtige vel

Ek glo my hare en glimlag is my gesig se beste bates. Maar as ek een ding kan kies, sal dit ’n gladde, vleklose vel wees. Vir my is dit nie net dié definisie van skoonheid nie, maar ook een van die eienskappe wat jou mooi laat oud word.

Gene speel beslis ’n rol wanneer dit by ’n mooi vel kom, maar deur net ’n eenvoudige skoonheidsroetine te volg en byvoorbeeld nooit met grimering aan te gaan slaap nie, kan jy baie doen om jou vel langer mooi te hou. Moet ook nie vergeet van water nie, dit is steeds die beste manier om jou lyf en gesig skoon te hou.

6. Bly weg van jou hare op “af” dae

Baie vroue storm blindelings by die haarkapper in om hulle skop te gee op “af” dae … Moenie! Gaan sit eerder ’n bietjie in die son of gaan stap. Gaan kuier by vriendinne of gaan fliek. As dit nie werk nie, het jy darem nie ook nog ’n haarramp om te hanteer nie.

christi_panagio_foto.jpgEk het al my hare kort gedra en swart gekleur, maar dit het nie soos “ek” gevoel nie. Om die waarheid te sê, ek het baie ongemaklik gevoel. Tog glo ek wel dat hare elke ses tot agt weke ’n bietjie gesny moet word. Kort, gesonde hare is steeds beter as ’n lang bos ongesonde hare.

7. Kies ’n haarkleur wat ook by jou vel pas

As ’n voormalige Garnier-model het ek so gewoond geraak daaraan om my hare te kleur dat ek nie eers meer daaroor dink nie. Wanneer dit by haarkleur kom, is dit nie net belangrik om ’n kleur te kies wat so na as moontlik aan jou natuurlike haarkleur is nie, maar dit moet ook by jou velkleur pas. Om dimensie aan my hare te gee, laat ek sonstrepies professioneel insit.

8. Moenie glo wat jy in die media sien nie

Modelle lyk nie soos jy hulle in tydskrifte sien nie. Enigiemand kan pragtig wees as jy ure lank deur ’n professionele grimeerkunstenaar onder hande geneem is.

Sangers, modelle, aktrises – almal het dae wat hulle sommer dadelik weer wil terug klim in die bed. Ek het hierdie naweek so gevoel. My hare was nie gewas nie, ek was nog in my nagklere en ek het vir myself net sleg gelyk.

[pagebreak] Die probleem is dat mense my op straat herken en glo my, hulle kan baie wreed wees. Vroue sal na my toe kom en iets sê soos: “Sjoe, maar jy is baie ouer as wat jy op televisie lyk.” Dis beslis nie iets wat ek op ’n miserabele dag wil hoor nie.

9. Sit ’n bietjie die selfoon en tegnologie af

Ek raak soms net moeg vir tegnologie oor die algemeen. Eintlik nie net tegnologie nie, sommer vir die wêreld. Dis of alles net té is … té gejaag, té statusbewus. Al beteken dit ons kan werk verloor, besluit ek en Nico soms net om alles af te skakel.

Ek dink dit is noodsaaklik vir jou gesondheid om partykeer net weg te kom van alles en na eenvoud terug te gaan. Terug na die lewe soos dit lank gelede bedoel is. Bring tyd deur saam met die mense vir wie jy lief is. Speel met jou kinders buite in die natuur en ontdek daardie mens wat jy bedoel is om te wees.

10. Doen wat jou kinderlik gelukkig maak

Die koms van kinders in my lewe het my nuwe motivering gegee om gesonder te probeer leef. Dis nie net dat ek langer vir hulle daar wil wees nie, ek is al 35, maar ek wil hulle ook van kleins af leer om die regte leefstyl te hê.

Ek glo ook dat die vrou van ’n huis die geluk en atmosfeer van die gesin bepaal; daarom is dit vir my verskriklik belangrik om self gelukkig te wees. Vir my is die beste manier om emosioneel te ontlaai, om goed te doen wat my so gelukkig soos ’n kind maak.

Iets wat my groot plesier gee, is om skeppend te wees. By my sus se Tierlantynkie-kunsmark wat, het ek ’n stalletjie waar ek allerhande goed verkoop. En dan is daar Little Miss Decorator, ’n onderneming wat ek begin het om troues, interessante partytjies en binnenshuise versiering te reël.

Al hierdie kreatiewe goed en my kinders het ’n nuwe dimensie in my lewe gebring. Ek sien die wêreld op ’n splinternuwe manier en dit maak my gelukkig – so gelukkig soos ’n kind.