Christi se pad van aanneming om ’n gesin te word

842
Christi Panagio

Elke huis het ’n ma soos CHRISTI PANAGIO nodig. Iemand wat weet dis lekker vir kinders om pret te hê, maar moenie jou maniere vergeet nie.

As jy in die Panagio-huishouding ’n vraag vra, word daar nie net “ja” of “nee” gesê nie. Die antwoord word dikwels op ’n hoë operanoot teruggesing. Sommer vir die lekker.

Diep filosofiese gesprekke word gevolg deur lawwe, komiese oomblikke – so ’n tikkie wedywering tussen Christi en manlief Nico (van Survivor-faam), om te sien wie die snaaksste kan wees. Of daar word in aksente met mekaar gepraat. Dalk omdat die liefde vir toneelspel so dik deur hulle are vloei. Christi vertel:

Ek dink altyd ons is net so normaal soos ander mense, maar kyk dan rond en besef: nee, teenoor die norm is ons gesinnetjie eintlik ’n bietjie vreemd. Silly. Laf en vol grappies.

Dit sal goed wees as ons dogtertjies, Evah (8) en Shay (6), nié eendag modelle of akteurs word soos ma en pa nie. Enigiets anders, dalk iets soos ’n mikrobioloog of vlieënier? Maar in ’n huis soos ons s’n is dit amper onmoontlik, want hier word baie gelag en gespeel. Die meisies is al klaar dol oor musiekblyspele en hulle rolmodelle is karakters soos Mary Poppins. Hulle loop graag buite in die tuin rond. Praat nie, maar sing.

Ons is ’n gelukkige klompie bymekaar, en die grootste voorreg is dat ek en Nico saamstem oor hoe ouerskap aangepak moet word. Dieselfde keuses. Eenvormige waardes. Dit maak alles makliker.

Tog is ons ook maar net doodgewone mense. Die kinders baklei. Ek en Nico sit vas. Maar ons is geseënd met die feit dat almal regtig van mekaar hou.

Daar is baie verhoudings wat vou omdat die man en vrou nie goed saamwerk nie. Daarom hierdie dankbaarheid oor die paadjie wat ons twee tot hier toe gestap het. Die sewe sakke sout wat ons saam opgeëet het, nog voor die kinders daar was.

Die eerste paar jaar van alleenwees is baie goed vir ’n huwelik. Dit het ons die kans gebied om ’n sterk fondasie te bou. Ons het baie gereis en dinge alleen saam gedoen. Ons het mekaar se giere en geite leer ken.

Nou waardeer ek hierdie lekker seisoen om as ’n gesinseenheid die wêreld aan te durf. Daar is byvoorbeeld nie iets soos ’n girls’ night vir my of ’n aand alleen uit met die manne vir Nico nie. Ons pak elke avontuur saam aan – ma, pa en kinders. Omdat ons regtig wíl.

Om te dink daar was ’n tyd toe daar met verlangende oë na ander mense gekyk is wat met hulle kroos op die strand baljaar. Nou is ons ook daar, en nie ’n dag gaan verby dat ek nie dankie sê daarvoor nie.

Dit voel amper soos ’n leeftyd gelede toe één oomblik, op Tafelberg, ons laat besef het God is ernstig oor die aannemingspad wat toe al in ons gedagtes was. ’n Mens skop eers daarteen vas, probeer ander opsies, maar toe vrugbaarheidsbehandeling die derde keer misluk, het Nico met die Here gestoei. “Wat is fout? Ek verstaan nie? Wil U nie ons kinders hê nie?”

Die antwoord was ’n duidelike fluistering in sy binneste: “Wil julle nie Myne hê nie?” En net daar verander alles.

Vandag is Evah en Shay onlosmaaklik deel van wie ons is. Die begeerte om biologiese kinders te hê is nie meer daar nie, want hierdie ís my eie pragtige kinders. Deel van my hartklop.

Wat ons intussen ook besef het, is dat Jesus ’n hart vir aanneming het. Dit is deurweef in Sy storie op aarde. Dink daaraan: Hy is self deur Josef, wat nie sy eie pa was nie, aangeneem. En elkeen wat ’n oorgawe maak, word ook in Sy familie opgeneem. As ’n mens so daarna kyk, kry aanneming ’n groter, dieper betekenis.

Daar is so baie dinge om na uit te sien in hierdie seisoen van ons lewe. Net om daaraan te dink maak my ongelooflik opgewonde, veral die vooruitsig om as gesin saam te reis, reis en nogmaals te reis.

Ek en Nico het alreeds op baie plekke gekuier. Ons is die tipe mense wat eerder vliegkaartjies as meubels koop, maar die reisgogga wil steeds nie laat los nie. Gee net die tyd en plek, en ek gaan pak sommer nóú ’n tas en gaan wag op die lughawe.

Die beste van alles is dat ons dogtertjies nou op ’n ouderdom is waar hulle dit saam kan waardeer. Hulle is besig om in wonderlike reismaats te ontluik – deels danksy ’n goeie balans tussen pret en dissipline by die huis.

Deesdae sien mens dit oral raak. Dis asof ouers bang is vir hulle kinders. Daarom pak ek doelbewus ma-wees aan vanuit die oogpunt dat die ouer in die posisie van gesag staan.

Daar word gereeld vir die tweetjies gesê: “My werk op aarde is om julle goed groot te maak. Nie om julle te vermaak en heeldag gelukkig te hou nie.”

Nie ek of Nico is vreeslik gepla oor of die kinders akademies presteer of nie. Hulle word ook nie gedruk met sport nie, en kan doen net waarvan hulle hou. Maar die life skills-aspek is iets wat baie ernstig opgeneem word.

Dissipline en goeie maniere – ons is streng oor dié twee goed en vat nie nonsens nie. Swak gedrag word nie geduld nie.

“Wees mooi met mekaar. Tree respekvol op teenoor grootmense. Gedra jou beleefd in die openbaar.” Alles klein lessies waaroor ons heeldag loop en preek, en hopelik sink dit so diep in dat die meisies dit altyd sal onthou.

Op die vlug Samoa toe en terug vir die mees onlangse reeks van Survivor South Africa – altesaam 55 ure in die lug – het dit geblyk dat dié prekies tog vrugte afwerp. Die kinders was superordentlik, geen vloermoer in sig nie.

Nes by die huis, het hulle eerder ingekleur as wat hulle op tegnologie staatgemaak het vir vermaak. Mense merk ook gereeld op hoe goedgemanierd hulle is.

Maar dit verg harde werk en ’n konsekwentheid in die toepassing van reëls.

Aan die ander kant is een van my grootste drome as ma om ’n plekkie van comfort vir die kinders te wees. Iemand op wie hulle kan vertrou, by wie hulle veilig en geliefd voel. ’n Ma wat teenwoordig is, altyd daar. ’n Mens saam met wie hulle kan pret hê, maar ook iemand wat hulle as wys beskou.

Om dit te vermag verg goeie kommunikasie en eerlikheid. Oor jou eie en mekaar se foute.

In ons huis word daar baie openlik oor alles gepraat. Die kinders het albei ’n hoë emosionele intelligensie, juis omdat daar so baie gesels word. Ek en Nico sê nooit net “nee” nie, maar sal altyd verduidelik hoekom die antwoord nee is.

Hulle weet al mooi watter gevare daar in die wêreld is en sal nie eens meer iets vra as hulle weet dit word nie in ons huis toegelaat nie.

Ma-wees het my nie veel as mens verander nie, maar dit het wel wysheid en groei gebring. ’n Mens kyk met nuwe oë na die lewe en word gedwing om dinge op ’n eenvoudige manier te verduidelik – wat jou dan sommer self ook weer by die regte antwoord uitbring.

Soos die besef dat ’n ouer se voorbeeld harder praat as woorde. You must walk the talk, not just talk.

Almal in die huis weet dit al: Mamma se swak punt is ongeduld.

Ek is ’n perfeksionis. Ietwat van ’n Monica-karakter (van Friends-faam). Selfs die nartjies word weggesteek, omdat die oranje nie by die kombuis se kleurskema pas nie.

Die goeie ding van perfeksionisme is dat dit ’n mens baie effektief maak. Daardie vermoë om ’n ding goed en vinnig af te handel. Maar daarmee saam raak ek ook maklik ’n pyn in die nek, omdat dit nie baie ruimte laat vir geduld of begrip wanneer dinge nie goed, vinnig of glad verloop nie.

Die kinders weet dis my slegte eienskap. Iets waaraan daar gewerk moet word, en waarvoor hulle my keer op keer oorsien wanneer ongeduld al weer die oorhand kry.

Soos in die verkeer. Daar moet net regverdigheid wees. Mense moet ordentlik ry, en as hulle dit nie doen nie, wil ek dit hardop agter die stuurwiel uitbasuin.

“Ja, jy kan kwaad word. Maar dis hóé jy kwaad word wat tel,” sal die wyse klein Evah my herinner.

In die huis praat ons dikwels oor mekaar se goeie en minder goeie eienskappe, hoe dit verander kan word en wat ons daaruit kan leer.

Evah wil altyd dinge op haar manier gedoen hê – dis die een groot tekortkoming waaraan sy moet werk. Aan die ander kant is sy weer fantasties om haar emosies te beheer. “Jy kon dit anders gesê het…” sal sy my oor die vingers tik, en dan kom die besef: Hierdie klein mensie is wraggies weer reg.

Shay is verskriklik goed met deel. Ongelooflik vrygewig. Die enetjie wat dadelik die beste vir haar sussie sal gee, terwyl dié eerder die grootste, mooiste of lekkerste vir haarself sal hou.

Maar Shay’tjie is nie altyd so goed om haar emosies te hanteer nie. Haar goedhartigheid en nederigheid van karakter is iets waarvoor sy bewonder word. Maar sy sal knorrig wees met opstaantyd – haar ding om aan te werk. Sy word geleer: “Hierdie is ’n gelukkige huis. As ’n mens nors is, bly jy eerder in die kamer tot jy beter voel, anders word almal omgekrap.”

Buiten die ongeduld is ’n ander slegte gewoonte van my om so nou en dan, wanneer iets my regtig groot laat skrik, die f-woord te laat uitglip. Daar word nooit in die huis gevloek nie, so, ek probeer hard om dit af te leer!

Nico lag net as ek sê ek wil tog nie eendag doodgaan van skrik nie, want dit gaan dalkies die laaste woord uit hierdie mond wees.

Maar daar is ook ander woorde wat ons doelbewus probeer vermy.

Soos om “vet” te gebruik. Die dogtertjies sal eerder sê in ons huis is die f-woord die woord “vet”. Dis so ’n relatiewe begrip. ’n Negatiewe term wat verskillende dinge vir verskillende mense beteken. Daarom fokus ons eerder op gesondheid en om goed te voel.

As iets hulle magie omkrap, sal die lewenswysheid daaragter uitgelig word: “Sien? Partymaal moet jy sekere goed vermy, of minder daarvan eet, omdat dit jou lyfie laat sleg voel.” Dis vir ons belangrik om die kinders toe te laat om hulle eie lesse in die lewe te leer, en daardeur te besef wat die lewenswysheid daarin is.

“Sexy” is ’n ander term wat nooit gebruik word nie. “Dis ’n grootmenswoord,” weet die tweetjies al.

En om “stupid” te sê as daar na ’n ander mens verwys word, is net so ’n groot taboe. As dit iewers uitglip, is Evah gewoonlik die eerste een wat laat hoor: “Maar julle mág dit nie sê nie.” So help ons mekaar reg.

’n Ander droom in my hart is dat ons so ’n lekker, opwindende huis sal skep, dat die kinders altyd hierheen sal wil terugkeer. Tyd by ma en pa moet so aangenaam en prettig wees dat hulle eendag veel eerder saam met ons sal wil kuier en vakansie hou as op hulle eie.

Ek het baie vroeg in die lewe onafhanklik geraak, en in die proses het van my eie gesin se saamwees verlore gegaan.

Dis iets wat ek graag in ons huis sal wil anders doen – om meer afhanklik van mekaar te wees, op ’n positiewe manier.

’n Groot pluspunt is dat ek en Nico gemaklik sit in ons rolle. Hy is die broodwinner, terwyl ek met graagte na die kinders omsien. Al is dit ’n tradisionele aanslag, werk dit in ons geval goed. Die een verwyt nie die ander een nie, en daar word ook nie probeer om met mekaar mee te ding of mekaar te oorskadu nie.

Terwyl Nico by die werk is, doen ons drietjies lekker dinge saam. Al die rustige meisiesgoed. Dis vir my belangrik om ’n teenwoordige ma te wees.

Die tweetjies is nog jonk, so, ons hou hulle taamlik weg van televisie af, maar MasterChef Junior is ’n uitsondering. Dis deesdae ’n groot treffer in die huis. Evah en Shay wil alles probeer wat daardie kinders in die kombuis aanvang. Dus word daar dikwels fluks koekies gebak en met nuwe resepte geëksperimenteer.

In ons saamwees word hulle ook geleer hoe om dames te wees. Dis iets wat deesdae nogal verlore gaan – goeie, outydse maniere, soos hoe om jou te gedra, hoe om ander mense te behandel en grasieus in enige situasie op te tree. Om eerlik te wees. Integriteit te hê.

Hulle weet al: ’n Dame praat nooit lelik met ’n maatjie nie. Sy kou ook nie oopmond nie, sleep nie haar voete as sy loop nie en sit altyd beentjies bymekaar. En as hulle in die moeilikheid is, weet hulle dat hulle enige tyd kan bid vir die een Persoon wat hulle liewer het as ons.

Wanneer pa by die huis is, gaan stap ons graag of ry fiets. Hy is ook die een wat al die rowwe, avontuurlike dinge saam met hulle doen. Soos om ’n Survivor-hindernisbaan tot in die bad te bou. Of om hulle gunstelingskatkisspeletjie saam op die bed te speel.

Nog iets spesiaals is die rituele elke aand wanneer ons almal op die bed lê en gesels. Dis wanneer al die vrae uitkom, en Nico dit met groot geduld en wysheid antwoord. Dan lees hy op sy lekker, snaakse manier ’n Bybelstorie en bid vir die kinders – ’n verantwoordelikheid wat baie ernstig opneem word.

Hierna praat ons sommer net oor die dag. Gaan al in die rondte, en elkeen kry ’n beurt om te sê waarvoor hulle dankbaar is.

Waarvoor is ek dankbaar? Vir ’n huis gevul met ongelooflike mense wat my lewe op elke denkbare manier verryk.

In my wildste drome kon ek nie vir ’n beter man of pa vir die kinders gevra het nie. Nico is streng, maar liefdevol. Sag en snaaks. Iemand wat tyd maak vir sy gesin en by wie ons net ons lawwe self kan wees. Dis nie vir een van ons moeilik om hom sommer net vreeslik baie lief te hê nie.

En ek is dankbaar vir twee mensies saam met wie ek al die mooi en lekker dinge kan geniet. ’n Viering van God se goedheid en genade.