Christia Visser: “Ek is wie ek is…”

1038

Sterk, passievol, avontuurlustig – daar is ’n klomp gepaste woorde om die aktrise CHRISTIA VISSER te beskryf, maar vir haar is eerlikheid die belangrikste. Om opreg te wees oor wie sy is.

Die trane rol oor haar wange. Sy kan dit nie glo nie! Sy weet dis alles net skinderstories, maar dit sny diep. Woorde wat bedoel is om af te kraak en te breek, en dít van mense wat soveel ouer is as sy. Mense wat van beter behoort te weet…

Sy het nooit gedink haar graad 7-jaar gaan so moeilik wees nie. Om uit hierdie diep gat van depressie te kruip waarin sy geval het, is skielik haar grootste uitdaging.

In die middae na skool trek die jong Christia die kamerdeur agter haar toe, gaan lê op haar bed en begin net sing. Melodieë wat haar siel lawe. Wat soos vingers sagkens oor haar seerkry streel.

Wanneer raak dinge beter? Hoe lank vat skinderstories om te verdwyn?

Arme Ma en Pa. Hulle is rasend van bekommernis. Sy weet hulle ken haar nie so nie. Die woorde lê soos groot vraagtekens in hulle oë: “Waar is ons vrolike, energieke kind? Wat het van haar geword?”

Sy wonder self. Weke word later maande, en die seer bly klou. ’n Geskinder sterf nie ’n vinnige dood nie, besef sy. “Kom ons sit jou in ’n ander skool,” stel haar ouers voor. “’n Plek waar jy ’n nuwe begin kan maak. Wegkom. Dis makliker so…”

En net daar word ’n stukkie wysheid deel van haar, ’n voorneme wat haar die res van haar lewe sal bybly. “Maklike uitweg” sal nóóit deel van haar woordeskat word nie.

Christia vertel verder: Ek het eenvoudig geweier, want as ek weghardloop, wen hulle. En as die goed wat oor my gesê word, nie waar is nie, hoekom padgee? Dan gee ek hulle mos die voordeel van die twyfel, en dít kan nie gebeur nie.

Ek het in daardie tyd my krag en deursettingsvermoë ontdek. Voor dit was daar baie fases; elkeen ’n poging om in te pas by ander, maar nie noodwendig mý waarheid nie.

Die kaalvoet-rabbedoe stadium in PT-broekies, waar die meeste van my maats seuns was. Daarna die skaatsbordfase, waar ek niks anders wou wees as ’n skater girl nie – geskeurde jeans en al omdat ek so baie geval het. In my poppietydperk wou ek weer soos ’n prinses wees en lyk.

Dit het een moeilike jaar geverg om my te laat besef: Eintlik wil ek net myself wees. Sterk, onafhanklik en bereid om op te staan vir wat reg is. Ek wou mense se misplaaste opinies oor my verkeerd bewys. Vir dié wat so baie te sê gehad het, wys dat sukses ook vir my moontlik is. Wag maar en kyk.

Dit was ’n slegte tyd in my lewe. Ek het baie gehuil, maar dit het ook my karakter help vorm.

Daar is ’n paar kernwaardes wat vir my as kind op Swellendam deel van my geword het. Dinge soos lojaliteit, deursettingsvermoë, integriteit en individualiteit. Dinge wat ek al vroeg-vroeg moes aanleer. Vandag weet ek: Daar is geen beter weergawe van jouself as die ware jy nie. Om vreesloos te wees oor wie en wat jy is, is jou grootste geskenk aan jouself.

Ons selfbehepte samelewing slaan my eintlik dronk. Kyk maar hoe elke foto op sosiale media dit uitbasuin. Hierdie strewe na die perfekte lewe, foutlose lyf, huwelik, verhouding … Ek begryp dit nie.
Hoekom jou waarheid wegsteek en ’n vals beeld voorhou? Wie wil jy beïndruk?

As ek nou terugdink aan skool, besef ek dis daar waar eerlikheid vir my ononderhandelbaar geword het. Daar word nie regtig méér geskinder in klein dorpies as in die stad nie. In ’n stad waar alles groter is, is jy dalk net meer daarteen verskans. Maar leuens en ’n geskinder is deel van die mensdom. Hoe gouer jy leer om dit te hanteer, hoe beter.

Vir my is eerlikheid een van die mooiste en seldsaamste eienskappe, en iets waarna ek elke dag streef: om so deursigtig moontlik te leef teenoor myself en ander mense. Daarom sal jy altyd weet waar jy met my staan.

Om eerlik te leef is nie altyd maklik nie. Dit dwing jou om jou ware self in die oë te kyk. Soos ’n kompas wat jou wys hoe jy vaar.
Waaraan moet ek werk en wat begin ek bemeester?

My kompas wys my dat ek ’n intense, sensitiewe mens is.
Iemand wat baie empatie het met ander, wat diep geraak word deur mense se gevoelens en die dinge waardeur hulle gaan. Ek raak soms so verdwaal in ander se ervarings, pyn en emosies dat ek eers weer moet terugkom na myself toe. Na ’n plek waar ek weer onthou wat my uitdagings is en wat ek geniet.

Ek is mal oor die natuur; dit bruis van lewe. Vir my is dit ’n plek om weer jou siel te vind.

Avontuur laat ook my hart vinniger klop. Dis my missie om elke dag nuwe dinge te leer en te beleef. Om in die oggend te kan opstaan en dankbaar en gelukkig te wees met die lewe wat ek vir myself gekies het.

Soms loop dinge verkeerd –’n vrotsige oudisie of ’n droomrol wat vir iemand anders gegee word – maar dit maak nie saak nie.
Dis belangriker om deur alles te bly vashou aan wat goed is – om om te gee vir mense en lief te wees vir my feilbare self.

Selfliefde beteken nie om ’n grootkop te hê nie, maar om vir jouself om te gee. Om seker te maak jy is oukei. Eers dan kan jy uitreik en die wêreld red. ’n Gebroke mens kan nie ander help nie.

En help wíl ek help. Dis vir my belangrik om te veg vir wat reg is, ondanks die prys.

Op die speelgrond by die skool was daar ’n groep kinders wat ’n ander, weerlose kind gespot het. As klein dogtertjie het my hart vir haar gebreek, en klein soos ek was, het ek die boelies op hulle neuse laat kyk. Ons twee het maatjies geword, maar my eie vriende het niks daarvan gehou nie en my ook begin spot.

“Julle moet maar lekker terg,” het ek besluit en my braaf gehou, en toe al besef: Soms is dit beter om te doen wat reg is as om te doen wat gerieflik is.

Vandag veg ek steeds vir die underdog; mense wat nie ’n “stem” het nie – want ek kan daardie stem vir hulle wees.

Beroemdheid of ’n lewe in die kollig staan my nie eintlik aan nie – dis ’n baie oppervlakkige manier van bestaan – maar die een ding wat dit my gee, is die kans om ander mense te laat sien en te laat hoor.

Dis ’n platform om iets groters te vermag. As ek dit nie reg gebruik nie, wat beteken dit dan alles? Wat is die doel daarvan om ’n openbare beeld te hê, maar om dan oor ongeregtigheid en onregverdigheid stil te bly?

Ek veg ook graag vir my familie – my ouers, Cecile en Abrie, en my ouer suster, Lucile. Destyds het ons nuut in die dorp gekom.
Dit was vreeslik moeilik om aan te pas. Baie stories is oor ons vertel, soms deur maatjies as gevolg van my. Dit het my egter geleer om baie lojaal te bly teenoor my hartsmense, veral omdat hulle deur alles so lojaal was teenoor my. Ons het ’n hegte eenheid geword wat saamstaan, tot vandag toe.

Sonder lojaliteit is geen verhouding die moeite werd nie. Namate ek ouer word, raak my vriendekring ook al hoe kleiner, want tyd en ervaring maak jou versigtiger in die kies van vriende. Jy word soos die mense met wie jy jouself omring.

Daarom skaar ek my graag by mense wat my aanmoedig om myself te wees. Sonder moets of maars. My ma het my nou die dag uitgedaag om ’n swart sak aan te trek na een van die rooitapytfunksies toe – “dan kyk ons wat maak die mense”. Dalk probeer ek dit nog eendag.

Dis hoe ’n mens moet leef. Ek wil kaalvoet in die reën kan hardloop as ek lus voel. Die kuns bemeester om myself te wees, en gelukkig daarby.

Weereens dank aan my familie wat my so mooi bystaan en my altyd herinner om terug te kom na wie ek is – veral in die vermaaklikheidsbedryf, wat jou so maklik kan insluk en êrens langs die pad uitspoeg.

Ek veg ook vir my geloof en sal nie nee sê vir ’n goeie debat daaroor nie. Baie mense het ’n probleem met die woord Christenskap, maar vir my bring dit liefde, vreugde en vrede.

My pa is ’n prediker, so, ek het van kleins af al ’n goeie basis gehad. Tog het my ouers my steeds aangemoedig om ondersoek in te stel en self te besluit wat die waarheid is. Ek sal hulle ewig dankbaar wees daarvoor.

Dit het my telkemale laat teruggekeer na my kleintyd-glo, want niks anders maak vir my sin nie.

Omdat ek emosioneel en sensitief is, raak dinge my intens aan. Die grootste een van almal was die dag toe ek besluit het om gedoop te word. Dit het my lewe totaal en al verander, op ’n goeie manier. Soveel nuwe deure het oopgegaan. En wanneer dit moeilik gaan, het ek iets rotsvas om op terug te val.

Want foute is daar baie. Om ’n intense mens te wees, beteken dat as ek kwaad word, is dit baie kwaad. Net so, as ek hartseer of gelukkig voel – is dit gewoonlik in die oortreffende trap.

As kunstenaar gaan my kreatiewe brein soms ’n bietjie mal. Buiten my passie vir geloof, die natuur en my gesin, het ek onlangs teruggekeer na my eerste passie as kind: musiek. Dis ongelooflik lekker om te reis deur woorde, stories en melodieë. Om liedjies te skryf wat iemand iets laat vóél.

Ek kan ook lekker ongeduldig raak en het somtyds nogal ’n redelike humeur. Dis nie noodwendig altyd ’n slegte ding nie. Dit gee ’n mens die moed om op te staan vir dit waarin jy glo.

Daar is baie goed wat my kwaad maak. Soos mense wat op ander trap om te kom waar hulle wil wees. Of mense wat hulle eie leuens en persepsies glo.

’n Waar sêding is: “Moenie alles glo wat jy dink nie.” Ek haat dit as iemand ’n opinie lewer, maar dis op niks gegrond nie. Of as jy nie eens bereid is om na die ander kant van ’n saak te luister nie.
Dit frustreer my.

Die teendeel is ook waar. Mense wat bereid is om te leer, maak dat ek ’n beter mens wil wees. Elke enkele persoon het iets wat jou kan inspireer, jy moet hulle net toelaat om dit vir jou te wys.

Bo alles raak ek die heel kwaadste wanneer ek myself teleurstel. Tipies perfeksionis, en met ’n ekstreme persoonlikheid soos myne, gebeur dit nogal gereeld.

Soms reageer ek sonder om twee keer te dink. Of neig na die teenoorgestelde kant toe en oordink dinge. “Wat het ek verkeerd gedoen? Het ek nie goed genoeg voorberei nie? Is ek nie goed genoeg nie?”

Soms probeer jy so hard om nie dieselfde foute te herhaal nie, dat dit presies is wat gebeur.

Eers ’n rukkie later sal ek besef: Dis eintlik goed so, want nou kan die eerlike vrae gevra word: “Wat leer ek hieruit? Hoe kan ek deur my mislukkings groei? Waaraan kan ek werk?”

Wat mense dalk sal verbaas, is dat groot groepe mense my nogal angstig maak. Dis een ding om sosiaal te wees en ander se geselskap te geniet, maar ’n ander ding om dit in ’n groot groep te doen. Dit laat my ongemaklik voel, so effens uit plek uit.

Ek funksioneer baie beter een-tot-een en geniet dit om mense se stories te hoor. Om iemand in die oë kyk en te hoor wat hy of sy te sê het.

Nog iets wat my frustreer, is die gejaag na geld. Ons kan so vasgevang raak in die idee dat ons nie geld het nie, dat ons vergeet om die lewe te geniet.

Iemand het my nou die dag die vraag gevra, en ek kon nie dit antwoord nie: “Wat geniet jy en hoekom geniet jy dit?” Gaan doen dan meer daarvan.

Daar is baie dinge om te geniet, sonder om te voel mens moet ’n miljoenêr wees om jouself ’n sukses te kan noem. Soos om te leef met ’n dankbare hart, die skepping te geniet, goeie menseverhoudings te bou en die beste te maak met wat vandag vir jou bied.

Ek dink ons vergeet soms om op vandag te fokus en dit voluit te doen. Ons leef vir naweke, en selfs dit gaan te vinnig verby. Dan, wanneer jy eendag terugkyk, wonder jy: Wat het ek met my lewe gedoen?

Daar is ’n tatoe op my arm wat sê: Courage over fear. Iets om elke dag te onthou. Die dinge wat my bang maak, is om alleen te wees en dat mense my nie sal aanvaar nie. Soms is ek bang om my sê te sê, of bang dat ek nie genoeg is nie.

My grootste innerlike vrees is dat my tyd hier op aarde op onbenullighede verkwis sal word, op dinge wat nie regtig saak maak nie. Ek is bang dat die kanse wat vir my gegun word, sal verbyglip. Dat die geleenthede om ander mense se lewens aan te raak, misgeloop sal word.

Daar is baie dinge wat ek nog wil beleef, sien, voel. Soveel opwinding in elke dag. Ek is regtig bang ek mis dit. “Fokus op die hier en nou,” is my innerlike refrein.

My strewe is om die beste weergawe van myself te wees. Jy kan net dáár uitkom as jy geloof, hoop en liefde het, omring deur mense wat jou daarin steun.

My strewe is om ’n gee-mens te wees. Iemand wat ’n positiewe verskil maak. Liefdevol, passievol, maar bowenal oop, eerlik en opreg.