Clarice Pieterse

0
865
  1. Wat is die belangrikste les wat die lewe jou geleer het?

Elke persoon wat ek ontmoet goud in hom/haar het. Ons is geneig om mense te gou weg te keer terwyl ons eintlik met elke hart wat ons ontmoet ʼn geleentheid het om die goud te gaan soek en dit uit te roep, dieselfde geld vir mense wat in my lewe inspraak lewer.

  1. Hoe sal jy graag onthou wil word?

As ʼn vrou wat lief was vir mense, een wat ʼn kamer kon oplig met Jesus se vreugde en wat vreesloos nagejaag het wat Jesus oor haar gedroom het. Ek sal wil onthou word as ʼn vrou wat haar lewe maklik neergelê het vir ander en wat altyd die beste in ander ge-celebrate het.

  1. Is daar ’n spesifieke Bybelvers waarvolgens jy leef? Wat is dit?

Psalm 37:4 sê verbly jouself in die Here en Hy sal vir jou gee die begeertes van jou hart. Ek het besef dat my blydskap in wie Jesus is my grootste sterkte in die lewe is, ek probeer daagliks Jesus se Vreugde in die klein goedjies vind, so word my kop en my hart opgelig.

  1. Hoe het jy die struikelblokke in jou pad oorkom?

Ek is baie dankbaar vir ʼn ongelooflike gesin wat baie ondersteunend is maar ek het besef deur die loop van my lewe dat Jesus my enigste konstante is. Ek bly deur elke uitdaging Hom vra dat ek die situasie uit Sy oogpunt sal sien, so lyk struikelblokke soos trappe na die uitsig waarheen Hy my volgende wil neem.

  1. Watter drie sleutelwoorde sal jy gebruik om jouself te beskryf?

Die Sleutelwoorde is werklik gebore uit soveel genade en ʼn journey tot nou. Die drie woorde wat my die beste beskryf sal ek sê is: braaf, rein en vreugdevol.

  1. Wat was die grootste uitdaging waarvoor jy nog te staan gekom het?

Ek dink een van die grootste uitdagings waarmee ek te staan gekom het, is identiteit. Om op ʼn plek te kom waar die samelewing nie noodwendig die standaard stel nie en jy jouself begin sien deur Jesus se oë. Dis waarvoor Hy gekom het. Dat ons Seuns en Dogters kan wees.

  1. Wie wil jy graag inspireer?

Ek probeer maar ʼn goue streep los waar ook al ek gaan, maar my hart lê grotendeels beslis by kinders en jong vroue. Ek wil sien hoe identiteit gestalte kry onder die nuwe generasie en hoe jong meisies hulle onmeetbare waarde besef en in dit begin loop.

  1. Hoe sal jy ’n wonderlike dag by die werk beskryf?

Ek werk tans vir myself wat regtig ʼn groot hartsbegeerte vir my was maar as ek ʼn wonderlike dag kan beskryf is dit as ek doen waarvoor ek geroep is.

  1. Wat doen jy as jy nie met werk besig is nie?

Ek dink ek het soms bietjie rooimiere, eks konstant besig om iets te soek om my besig te hou maar ek moet bysê die laaste jaar het Jesus my kom leer om uit rus te funksioneer. Ek geniet tyd saam met my familie en ek is seker op my gelukkigste as ek kan tee drink saam met my familie.

  1. Watter dinge wil jy nog doen voor jy doodgaan?

Ek is mal oor reis en die mooi plekke sien wat die Vader met een woord geskep het. Ek wil beslis die Northern lights gaan sien in Noorweë en dan wil ek in Indië gaan liefde uitdeel in Kinderhuise. Ek sal graag wil trou met die man wat Jesus vir my voorberei het en my kinders aan my wonderlike familie wil voorstel.