Coq Au Vin

0
39
Coq_Au_Vin.jpg

Wat is beter in koue weer as ’n heerlike tradisionele winterdis? Smul aan hierdie Coq Au Vin-gereg.

Genoeg vir 6
Tyd: 1 uur 10 minute

BESTANDDELE
60 ml koekmeel
8 hoenderstukke
15 ml olyfolie
2 uie, in skyfies gesny
1 wortel, geskil en opgesny
2 knoffelhuisies, fyngemaak
250 g spek, in blokkies gesny
500 ml droë rooiwyn of hoenderaftreksel
410 g-blik heel, geskilde tamaties, in die sap fyngemaak
30 ml tamatiepasta
310 ml hoenderaftreksel
1 bouquet garni (sien wenk)
15 ml mielieblom
250 g knopiesampioene
handvol pietersielie, gekap
gaar basmatirys vir opdiening

METODE
1. Geur die meel en bedek die hoender daarmee. Verhit die olie oor matige tot hoë hitte en verbruin die hoender. Geur en plaas eenkant.
2. Braai die uie, wortel, knoffel en spek vir 10 minute. Plaas die hoender terug in die kastrol saam met die wyn (of aftreksel), tamaties, tamatiepasta, aftreksel en bouquet garni. Bring tot kookpunt en verlaag dan die hitte. Bedek en laat ongeveer 45 minute prut tot gaar.
3. Verwyder die bouquet garni en verdik die sous met mielieblom indien nodig. Voeg die sampioene by en kook vir 5 minute. Meng die pietersielie by en sit saam met die basmatirys voor.

Wenk: ’n Bouquet garni is ’n bossie kruie wat met tou vasgebind is. Dit bestaan gewoonlik uit tiemie en lourierblare, maar jy kan jou gunstelingkruie gebruik.

Resep met die komplimente van Food & Home Entertaining en Your Family