D A N K B A A R H E I D

2735

Jy het dalk onlangs jou werk verloor, miskien is die finansies knap of dinge werk net nie uit soos jy gehoop het nie.

Maak nie saak wat dit is nie, ons almal het iets om voor dankbaar te wees.  Paulus het alle rede gehad om nie dankbaar te wees nie.  Hy was onskuldig in ‘n tronk gestop, vêr van sy familie en vriende af en sleg mishandel.

Tog het hy geskryf in Efesiërs 5:19,20 “sing saam psalms en lofgesange en geestelike liedere. Sing en jubel met julle hele hart tot eer van die Here”.  Ek glo Paulus het geweet dat ‘n dankbare gesindheid baie kragtig is.

Niks maak ons so bitter en selfsugtig soos ondankbaarheid nie en niks kan dit genees soos ‘n opregte, dankbare hart nie.  ‘n Ondankbare hart is ‘n hart wat koud is teenoor God, ‘n hart wat vergeet hoe afhanklik ons van God is.

Hoekom moet ons dankbaar wees?  Want God het ons geseën en daarvoor moet ons elke dag dankie sê.  Wat my vreeslik help is om elke nou en dan ‘n fisiese lys te maak van gebede wat God die afgelope tyd beantwoord het.  Ek kry skaam as ek dink hoeveel van daardie antwoorde ek al vergeet het!

Dan is ek weer opreg dankbaar en my geloof meteens versterk!

  1. Dank God vir jou materiële seëninge. Daar sal altyd iemand wees wat meer as jy het,  maar daar sal ook altyd iemand wees wat minder as jy het.
  2. Dank God vir die mense in jou lewe. Hou op kla oor wat jou man of kinders nié doen nie en sê vir hulle dankie vir wat hulle juís doen. Wys dat jy hulle waardeer.
  3. Dank God te midde jou omstandighede. Ek weet nie waardeur jy gaan nie, maar God weet en Hy belowe om jou nooit alleen te los nie.
  4. Dank God vir Sy redding deur Jesus Christus.  Net dít behoort genoeg rede te wees om ‘n dankbare hart te hê!