Daagliks mooier met minder moeite

0
110
amalia_uys_0.jpg

Wanneer Amalia Uys, met die vleklose vel, nie op stel is nie, hou sy by ’n eenvoudige mooimaakplan.

Vir my as aktrise is my voorkoms een van my belangrikste bates. My beroep vereis dat ek pal aan my voorkoms moet werk; daarom doen ek baie moeite om my vel en hare reg te behandel. Ek het ’n sensitiewe vel; dus ek hou by ’n eenvoudige skoonheidsroetine en gebruik produkte wat ek vertrou.

My driestapplan vir velsorg en grimering

My skoonheidsroetine op dae wanneer ek nie op stel is nie, is eenvoudig. Ek glo aan drie stappe: Ek was my gesig, ek gebruik ’n saamtrekmiddel en ek smeer bevogtiger aan. Ek probeer om op vry dae nie grimering te dra nie. As dit onvermydelik is, dra ek die minimum. Ek sal hoogstens BB-room aansmeer, ’n titsel blosser aanwend en laastens ’n lagie maskara aan my wimpers.

Hou ’n oop gemoed en probeer alternatiewe skoonheidsmiddels

Ek het onlangs by die werk speensalf ontdek. Dit bevat vitamien E en lanolien en is ’n heerlike ryk vogmiddel, veral noudat die winter met ons is. Een van die grimeerkunstenaars by Binnelanders glo vas daarin. Sy het die spotgoedkoop geel houertjie op ’n dag vir my aanbeveel. Ek het gedink dis vreemd, maar nou hou ek nogal daarvan. Hulle spot en noem dit sommer La Moo! ’n Mens kry dit blykbaar by Dis-Chem.

Werk met jou natuurlike haarskakering

’n Klompie jare gelede toe ek nog op skool was, was kuiwe wat in lae gesny is, hoogmode. Ek het my eie kuif probeer sny… Dit het aaklig gelyk, asof ’n rot aan my hare geknaag het! Ek het ook met haarkleur geëksperimenteer. Na talle probeerslae met skakerings van bruin het ek besef ek lyk die beste met my natuurlike rooi hare. My hare is nou donkerder, maar dis darem steeds rooi.

Spaar jou hare deur minder hitte te gebruik

Ek het eintlik verskriklik krullerige hare, maar die karakters wat ek vertolk, het meestal reguit hare. Dan raak die daaglikse strykery met ’n warm haaryster nogal rof. Daarom glo ek aan die Brasiliaanse keratienbehandeling. Dit is ’n salonbehandeling wat die kroes uit jou hare neem en dit mooi laat blink. ’n Mens doen dit elke drie tot vier maande. Jou hare is ook heelwat hanteerbaarder na so ’n sessie.

Het jy ’n sensitiewe vel? Hier is die truuks wat jy móét weet om jou vel te beskerm.