Daai engel op die klip

Ek was van Dag 1 af mal oor my ring. My verloof-cum-trouring.

Toe ek die eerste keer hierdie stukkie handewerk in so ‘n hoekwinkeltjie daar in Menlyn raaksien, kon ek net nie anders as om my kêrel (wat intussen my Gade geword het) te vergewis van hierdie ongelooflike, enig-in-sy-soort, kunswerk nie.

En jintelman wat hy is, het hy dadelik ingestem om te gaan kyk en na hy gekyk het, het hy ook allerhande kreatiewe planne gemaak om hierdie einste spesifieke ring vir sy aanstaande vroutjie te verseker.

Maar hierdie week verdwyn my droomring soos mis voor die son. Na 15 jaar. Die fibromialgie laat gereeld sulke swiss cheese gate in my korttermyngeheue, maar hierdie was seker een van die ergste ondervindings.

Al wat ek kan onthou is dat ek dit afgehaal het en sommer in die kombuis wou neersit, maar toe by myself dink: “Nee, gaan bêre dit op sy plek…”. En dit is al wat ek kan onthou.

Die hele kamer is omgedolwe. Die laaie wat ek nog wou uitsoek en deurkrap voor ons die land verlaat is toe sommer nét daar in die skedule ingewerk. Op my hande en knieë is ek onder die bed in en ploeg ek die langhaarmatjie deur en ek dink aan daardie weduwee en haar een goue munt.

Maar tevergeefs. En deur dit alles sê my liewe man niks. Hy help net soek en grou en idees uitdink van waar dit moontlik kan wees, maar nie een woord van verwyt nie. #reasonsilovehim

Die volgende dag is ek kort-kort deur dieselfde juwelekissie en laaie en moontlike bêreplekkie vir die soveelste keer. Steeds niks. En toe kom ek daar uit. Daai punt van aan die einde van jouself kom.

“Nou is dit net die Here wat weer my ring sal kry,” sê ek daardie aand vir hom.

‘n Dag gaan verby. Ek voel kort-kort in die dorp aan my leë vinger en wonder van voor af hoe dit menslik moontlik is.

Nog ‘n dag. En ek begin so stadigaan dink dat ek sal moet gewoond raak hieraan. Geld vir ‘n nuwe een is daar nie nou nie en buitendien – dit sal nooit weer dieselfde wees nie.

“Nou is dit net die Here wat weer my ring sal kry,” bely ek moedeloos teenoor my bestie, en daar is nog ‘n dag verby.

Die oggend vroeg begin ek yskaste leegmaak. Die nuwe kopers trek spoedig in ons huis in, en ons wil dit graag vir hulle ‘n lekker ervaring maak.

Toe ek dit sien. Daar, diep agterin die yskas (ja, die yskas), bo-op ‘n skyfie plastiekkaas… lê my ring.
Moenie vra nie. Ek kan daar niks van onthou nie.

Hierdie selfde week kom bevestig Nceba Mbangula net weer vir my:

“I’m reading the real Easter story (not this nonsensical myths with bunnies) in Matthew 28.
The detail that stood out for me this time around was that of “the Angel of the Lord.”

As I was reading this, I was rejoicing, felt I was being reassured again,
and challenged to see the story of Easter in a new light.

Matthew writes, “He came to the stone, rolled it away, and sat down on top of it” (verse 2b).

Who does that?

Do you see how relaxed and unhurried the “the Angel of the Lord” was?

Here’s my takeaway: The kingdom of God is not in trouble. Never was. Never will be.”

En ek besef: As deel van ‘n generasie wat nog in lettergrepe pakslae gekry het, behoort ek meer oplettend te wees.

Elke nuwe môre skryf Hy vir my in die mooiste kleure: “Die nag is verby. Ek bring vir jou ‘n nuwe dag.”
Elke keer as ek die kinders in die straat hoor speel, sê Hy my: “Ek het nog ‘n droom vir hierdie wêreld.”
Elke keer as dinge beter uitdraai as wat ek verwag het, is dit net nog ‘n lettergreep wat bevestig: “Ek is in beheer.”

“Eve was created while Adam slept.
God does some of His best work when we don’t interfere.”
– Charl Gambill

Maak asseblief saggies my hande los wat krampagtig aan die leisels van my lewe vashou, Here.
Leer my oorgee.
Gee my vrede.
Die vrede van daai engel op die klip.

Jou temalied vir die week: You cannot be stopped

Vorige artikelMevrou Doeminie se jong self
Volgende artikelSwaar reën en vloede – 17 wenke om veilig te bly
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!