Daai pampoen skyn liefde

Dit was ‘n op-en-af week hierdie. In my gees voel ek opgetel, maar terselfdertyd ook verslae oor mense in my nabyheid se groot seer.

‘n Mens se hande voel so afgekap en as jy dink hoe groot die nood is en hoe skamel jou brode en vissies lyk, dan kan mens nie anders as om jou Krag op ‘n plek buite jouself te gaan soek nie.

Maar dit is as jy die Krag ken.
Vir die oningeligtes of onbelangstellendes of halfpad-daares is daar ‘n ander moontlikheid.
En dit is om self beheer te wil neem.

Op die kort duur pluk jy dalk die vrugte, maar op die lang duur verrot jou wortels en die vyeboom verlep.

“If you obey and do right,
a light will show you the way
and fill you with happiness.”
Psalm 97:11 CEV

Wanneer ek stop waarmee ek besig is en besluit om die Goeie Weg te volg, beteken dit nie my nag word nou skielik dag nie. Die vir wie ek lief is se siekte bly dalk ongeneeslik, my gestopte salaristjeks word nie sommer weer inbetaal nie, my skuld word nie sommer net afgeskryf nie en my pa is steeds dood.

Maar… daar verskyn ‘n Lig en ewe skielik het ek opsies. Waar ek vantevore bloot kon rondtas in die donker op soek na ‘n stewige lysie wat my gewig sou kon dra, het ek nou die keuse om die Lig te volg in blinde vertroue dat daar ‘n beter dag op my wag. Of dit nou hierdie kant van die hemel is, is eintlik nie ter sprake nie.

“We are annoyed at the beggar who comes again and again so hopefully,
because he has so often come successfully.
But God loves to bless those whom He has blessed before.
We may never think of Him as tiring of blessing.”

In my sondigheid moet ek erken dat ek ook al opgetrek geraak het met dieselfde mense wat oor-en-oor dieselfde gunsies en gawes van my verwag. Want ek vergeet so maklik dat ook ék die Lig verloor en lighoofdig met die lewe se laste al in ‘n donker kol ronddwaal totdat iets my weer ‘n keer laat vra: “Vader, help my.”

Hierdie week is dit Halloween hier in Engeland en in ‘n klomp lande die wêreld oor. Ons huis vier dit nie, maar dit behoort nie ‘n tyd van oordeel in my hart te wees nie.

Laat dit eerder vir my ‘n tyd wees van diepe dankbaarheid vir die Een wat my oë oopgemaak het vir die Lig en my uit die donker gelei het.

Laat dit vir my ‘n tyd wees om intens en met groot afhanklikheid in te tree vir hulle wat nog hulle harte verhard en weier om na die Lig te soek.

Laat hulle hierdie week van mý sê: “Daai pampoen skyn liefde.”

Jou temalied vir die week: Abide with me

Vorige artikelFassinerende Vreemdeling!
Volgende artikelGod wil he jy moet jou lewe geniet
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!