Daar is 3 mense in ons huwelik

0
52
elizma_theron_getroud.jpg

Al kry Elizma Theron en haar man, Nico, minder slaap, het hulle dogtertjie Eli-ze hulle huwelik op baie maniere verryk.

Watter verrassings het ouerskap vir julle verhouding ingehou?

Hierdie nuwe bondeltjie tussen ons het in ’n mate die skille van ons oë laat afval. Dit is nogal ’n kopskuif om te besef jou lewe draai nie net om een mens nie. Skielik verskuif jou fokus. Besige skedules en ’n loopbaan neem die tweede plek in. Die gesamentlike gevoel van verantwoordelikheid teenoor Eli-zé maak dat nuwe en kleiner dinge skielik saak maak. Ons is al twee rustiger, in onsself en met mekaar. Ons verhouding is verbasend ryker en voller. Dis asof ons beide besef ons is bestem om sáám hier ’n deurslaggewende verskil te maak in die lewe van ons dogtertjie.

Was daar skaafwerk en aanpassing nodig?

Vir seker! Kyk, die min slaap aan die begin is glad nie lekker nie. Dit verg skielik ook deeglike beplanning om tyd te kry vir mekaar. Ons sit nooit vas oor wie nie sy of haar kant bring nie – ons is al twee honderd persent in die ding. Kommunikasie was ook nog altyd ’n sterk punt in ons verhouding en ons praat frustrasies uit voordat dit te erg raak. Die haakplekke ontstaan gewoonlik wanneer ons êrens heen moet ry en die hele huis, behalwe die sitkamerstel, moet saam! Daar het ons ook maar geleer beplanning is alles.

Watter invloed het Eli-zé op julle verhouding?

“Ek het met verbasing besef dat ek nog liewer is vir my vrou as gevolg van ons babatjie! Ons verhouding is sterker; ons liefde dieper. Ons het egter al twee besef dat ons baie gou ons voetwerk sal moet regkry as ons mekaar nie in die proses wil misloop nie!” Dit was vir Elizma belangrik om Eli-zé in ’n roetine te kry van vroeg in die bed, sodat sy en Nico saans gehaltetyd saam kan hê. “Dan gesels ons oor die dag of lê sommer net in mekaar se arms.”

Het julle iets nuuts omtrent mekaar ontdek?

“Ek het altyd geweet Nico sal ’n wonderlike pa wees, maar dit het my verras om te sien hoe rustig, geduldig en kinderlik ‘mal’ hy met haar is. Eli-zé het my beslis meer lief vir en verlief op my man gemaak.”
“Dit is wonderlik om te sien hoe mawees Elizma se hart nog rooier en mooier gemaak het. Dis asof sy elke druppel liefde in die heelal raaksien. Ek het nie gedink dis moontlik dat my vrou breër kon glimlag as met ons troue nie, totdat sy vir Eli-zé gesien het. My lewe het skielik dubbeld soveel vreugde!”