Daar is krag in woorde

0
1200

Is een van jou verhoudings al verwoes deur woorde? JOHAN SMIT leer ons dat as jy die regte dinge sê, jy die berge tussen julle kan versit.

“Ek is jammer”

Ons maak mekaar soms baie seer. Dan kom daar ’n oomblik dat die storm bedaar. Is jy bereid om die eerste een te wees wat met opregte berou om verskoning vra? Wees net bereid om te sê: “Ek is jammer.” En natuurlik moet jy dit bedoel. ’n Opregte “ekskuus” is sonder voorbehoude en onvoorwaardelik.

“Jy’s ’n ster!”

Waardering is iets waarvan almal graag meer sal wil hê, maar tog heeltemal te min uitdeel. Onthou dat ander mense ewe veel behoefte aan jou warmte het. Deel dit vryelik uit en jy sal ontdek hoe verrassend gou daar aan jou verwagtings voldoen sal word. Kom, sê dit ’n slag vir iemand wat dit nodig het!

“Ek bid vir jou”

Jy sê dit omdat dit die heel eerste, die heel belangrikste en die heel beste is wat jy vir jou vriendin kán doen. Wat beteken dit? Dit beteken dat jy vir daardie persoon ’n brug tussen hemel en aarde word. Jy dra haar pakkie saam met haar en sit dit saam voor Sy voete neer.

“Glo my, jy kán!”

Om in iemand te glo, selfs téén die natuurlike verloop van sake in, kan in daardie persoon se lewe ’n wêreld se verskil maak. Wees ’n vertroueling wat in ander glo en hulle eerlik aanmoedig. Kyk met realistiese oë na jou eie droom, maar ook met genoeg visie om die glinstering in jou oë te behou.

“Kan ek dalk help?”

As daar nou een ding is waarmee ons oneindig baie probleme het, is dit om vir mekaar daar te wees en om hulp te aanvaar. Onthou, dit gaan oor interaksie, dis nie eenrigtingverkeer nie. Vergeet vir eers van jou eie teleurstellings en swaarkry en gee vandag vir iemand anders hoop en ondersteuning. Dit help jou ook.

“Sonder jou kan ek nie”

Dit is al lank na jou troue en die jare het hulle tol geëis. Die euforie van jongmensliefde het plek gemaak vir die dieper ervaring van liefde en intimiteit. Veroudering mag nie verwydering bring nie, daar moet ’n verdieping kom. Dan kan jy nie anders nie as om vir hom te sê: “Sonder jou kan ek nie.”

“Dankie!”

Opregte dankbaarheid is ’n diep gevoel van waardering. Dis soos wanneer jy vir hemelse genade dankbaar is. Die belangrike saak is of ons ons dankies regtig bedoel. Daar moet ’n hartlikheid in jou woorde wees sodat mense kan agterkom dat dit wat hulle gedoen het, regtig ’n verskil in jou lewe gemaak het.

“Jy is ’n staatmaker!”

’n Mens se integriteit word gesien in die getrouheid waarmee jy ander help. Jy bewys dit ook in die kwaliteit van die sleurwerkies wat jy doen. Integriteit beteken onder andere dat jy vir die mense om jou en vir God ’n staatmaker sal wees; jou ja moet jou ja wees. Ons kan maar almal daaraan werk!

“Ek vergewe jou”

Om te vergewe is nie maklik nie. Dit gebeur ook nie altyd eensklaps, uit en gedaan, nie. Só maklik laat die duiwel ons nie toe om van bitterheid en die gevoel van verontregting ontslae te raak nie. Wat as ons Here ons sondes weer en weer sou oprakel? Hy vergewe volkome, en ons moet ook!

“Jy maak my dag!”

Ons is so afhanklik van ander se aanvaarding en waardering. Die rede lê opgesluit in God se doel met die skepping van die mens. Hy het ons geskep as mense wat met mekaar in ’n verhouding moet leef. Probeer ’n slag meer waardering toon en minder kritiek lewer. Dit maak ’n oneindige verskil!