Daar is magtige vrede in laaste wees

Kyk, dit is nie hoe ons aanmekaar gesit is nie! Almal eis, wat is my regte? en wil alewig kompeteer om “bo uit te kom” met die erkenning en voordele wat dit aan jou bring.

Maar dan gebeur die lewe, en jy vind al te gou uit dat die beste talent, die hardste werk, die beste reputasie soms net nie goed genoeg is nie.  Die lewe is onregverdig en niemand gun jou enigiets nie!  En soos jy die Here leer ken in jou frustrasie, is jy effe verbaas dat die Een aan Wie alle rykdom en geleenthede behoort, se uitkyk op die lewe alweer heeltemal die teenoorgestelde is.

Ek leer by Hom, laaste wees is bevrydend!

Dit kom met vrede en die genot van gee… die hele tyd!

Dit is seker die mees hoopvolle plek wat enigiemand kan beleef.

Hoe so?

Dink net.

Daar ry jy op jou hoofweg en iemand agter jou is ongeduldig.  Jy is sommer dadelik omgekrap want wie dink hy is hy en jy ry sommer bietjie stadiger net om ‘n punt te maak.  Hy raak al hoe meer opgewerk, jy ook, en voila! Jou dag in sy maai in!

Of

Jy ry op die hoofweg en iemand agter jou is haastig.  Jy is ook.  Maar jy trek ewe gemaklik na die baan langsaan, hy ry vervaard verby en in vrede is jy terug in die vinnige baan, sonder enige … ENIGE stress.

Dink jou in, daar is ‘n pos oop en jy wil hom hê.  Die ou langsaan kwalifiseer ook en julle begin daarvoor wedywer.  Julle kuier met die regte mense, werk later, werk sigbaarder, is gestress elke aand na werk, raak kortaf met die kinders, sweet ‘n bak vol tydens die onderhoud, stress om te hoor of jy dit het en dan kry jy dit nie.  Of jy kry dit en daardie standaard van oorkompenseer is nou jou normaal.

Of

Jy doen wat die Here sê.  Promoveer die ander ou.  Doen jou werk tot eer van die Here, met jou gesin as prioriteit in plek.  Weet dat die Here vir jou veg en in elkgeval soeverein is.  So as dit Sy wil is, sal jy die werk kry maak nie saak wat jy doen of nie doen nie.  En jy gaan slaap lekker.  As jy dit kry, viva.  Hulle weet wat hulle in jou het, en jy kan jou beste verder lewer soos altyd.  As jy dit nie kry nie, dan is jy bly vir die ander ou.  Die Here weet wat Hy doen.

Konflik, ongeduld, disrespek… nie een van daardie goed wen as jy trots daarop is om laaste te wees nie.  En wat ookal jy kry, was nie jou toedoen nie, dit was direk uit die hand van die Here.

Vorige artikelSpanwerk
Volgende artikelClarice Pieterse
Blogger - Janine van Niekerk
Janine van Niekerk is 'n media evangelis, getroud met Cecil van Niekerk en ma van Paul en die tweeling, Elmien en Leilah. Sy is 'n gospelmusiekkundige, bestuurder van Retief Burger, omroeper by Radiokansel 657AM, betrokke by verskeie eenheidsbewegings en baie aktief in media; wat verskeie radiostasies, TV, skryfwerk en sosiale platforms insluit. Aangename Kennis, Here is deur haar gepen en sy het ook 'n hoogs suksesvolle uitreik CD, die StuurwielStories, anoniem opgeneem, waar die Agies basiese radikale Christenskap ontdek.