“Daar moet hoop wees waaraan sy – en ek – kan vashou.”

0
22
toets.jpg

Die telefoon lui. Dis dáárdie gevreesde oproep. Jou kind was in ’n motorongeluk en jy moet jou soontoe haas. Laurika Bekker het al baie met trauma te doen gekry, maar niks kon haar voorberei op daardie aand nie …

Dis vreemd! Die twee fone lui feitlik tegelyk. Myne en dié van my man. Ek antwoord. Dis ons buurman. Maar hy bel nie vir ’n gewone geselsie nie. “Ek’s jammer, Laurika, daar was ’n ongeluk! Gert van Aarde het my laat weet … Hulle het daarop afgekom … Hy en sy vrou. Dis Berdine … Daar was beeste op die pad … ” 

Berdine? In ’n ongeluk? Maar hoe? Waar? Ek verstaan nie …

“Dis op die Coligny-pad. Julle moet dadelik soontoe. Gert-hulle wag daar by haar, totdat julle kom.”

Ek wil meer weet. Ek wil weet of my kind oukei is.

“Dis juis Gert van Aarde wat mý dieselfde tyd gebel het,” verduidelik my man, Frederick.

Eers later sou ek hoor dat Gert en sy vrou die malende beeste in die ligte van Berdine se motor gesien het. Die beeste het blykbaar uit ’n kamp losgebreek en om een of ander rede aan die hardloop gegaan. Gert-hulle het die slag gehoor toe Berdine se motor die eerste bees tref. Hulle het die skrikwekkende gesig beskryf van hoe beeste letterlik deur die lig “gevlieg” het. Hierdie woorde sou my lank bybly …

“Ek het aanvanklik nie vir Berdine herken nie, selfs al het sy voor ons grootgeword,” sou ons later by Gert hoor. “Haar voorkop, haar hele gesig, was ingeduik. Sy moes vir my sê wie sy is. Gelukkig kon sy. Ek wou dadelik bel, maar ek het nie julle telefoonnommer gehad nie, net jul buurman s’n. Maar toe Berdine hoor ek vra daarna, het sy die telefoonnommer vir my gegee. Dit was ook merkwaardig vir iemand wat só erg beseer is.”

Toe ek daardie aand die nuus van Berdine se ongeluk hoor, was ek genadiglik salig onbewus van die erns daarvan. Ek wou net so gou moontlik by my kind kom. Dis Frederick wat die mediese kaart gaan haal het, net vir ingeval …

Ek is ’n verpleegsuster en weet watter voorsorg om te tref. Daarom neem ek ’n kombers en ’n houer, net vir ingeval Berdine dalk langs die pad naar word. Sy’t mos net teen ’n bees vasgery, probeer ek myself troos. Dis nie so erg nie.

Maar hoekom was daar enigsins beeste op die pad? Dit hoort mos nie so nie. Daarby is dit ’n wonderwerk dat Gert-hulle vanaand daar verbygery het, besef ek. Anders het die kind alleen daar bly lê. Daardie pad is bedags besig, maar saans ry daar nooit ’n motor nie …

[pagebreak]

Ons was nie besonder bekommerd toe sy skemeraand by die huis weg is nie. “Ma, ek gaan ’n vriendin by ’n restaurant ontmoet.” Niks snaaks daaraan nie. Sy ry die pad gereeld wanneer sy naweke van die universiteit kom kuier. Ek en Frederick was rustig. Ons het Noot vir Noot gekyk, soos ons gewoonlik oor ’n naweek sou doen. Tot die telefone begin lui het …

Toe ons by die ongelukstoneel stilhou, kan ek nie gou genoeg uit die motor kom nie. Ek sien Berdine se motor staan. Ek sien hoe ingeduik die bakwerk is. Die histerie pak my beet. Ek skree. Skree terwyl ek op die motorwrak afstorm. My verstand staan stil.

As verpleegster behoort ek mos gewoond te wees aan trauma. Maar wanneer dit jou eie kind is, jou eie vlees en bloed, vervaag alles.

Dis ’n platterige motortjie en Berdine moes ónder die beeste ingery het. En wanneer ’n bees so voor jou motor beland, tref hy jou gewoonlik vol in die gesig. Die vrees verlam my. Dan sien ek haar. Sy sit op die voorste sitplek, haar bene na buite. Sy staan op en stap na my toe. “Ek is oukei, Ma,” sê sy. “Moenie worry nie.”

Ek is wonderlik verlig om haar stem te hoor. Sy praat! Sy leef én sy lyk oukei. Net op haar bors is daar ’n paar druppeltjies bloed. Maar ek wil doodseker maak daar is nie interne beserings nie. “Ek wil hê ons moet X-strale gaan neem,” sê ek.

Vir ’n oomblik twyfel ek oor wat om te doen. Moet ons vir ’n ambulans wag? Die naaste ambulans is meer as dertig kilometer ver. Kán ons vir hulle wag? Sal ons? Maar ek neem ’n besluit – ’n besluit waaroor ek later baie dankbaar sal wees.

“Kom ons laai haar in die motor,” stel ek voor. “Kom ons neem haar self hospitaal toe.”

Berdine klim self agter in. Ek skuif langs haar in. Sy lê in my arms. Frederick bestuur. Langs die pad sien ek die dooie beeste lê. Die karkasse van die grote diere waarteen my brose dogter gebots het en ek sidder. Ek praat met haar, praat en praat en praat, babbel eintlik.

“Wat het dan gebeur?” wil ek weet. “Hoekom was jy daar? Hoekom het jy teruggedraai plaas toe?” “Ek kon nie my vriendin ontmoet nie. Ons het mekaar misgeloop.”

Langs die pad raak sy skielik angstig. Sy begin skree. Ek probeer haar kalmeer. Probeer myself kalmeer.

Ek bel die dokter op die dorp. Vertel hom wat gebeur het. Hy wag by sy spreekkamer en kom aangeloop toe ons daar stilhou. Maar daar is nie veel wat hy vir haar kan doen nie. Net ’n kalmeerpilletjie onder haar tong. “Julle moet hospitaal toe. Daar sal hulle haar beter kan help.”

[pagebreak]

Nou is ek nie meer so gerus oor Berdine nie. Ons moet so gou moontlik by die hospitaal uitkom.

Ag, Vader, sal hulle my kind kan help? wonder ek bekommerd. Dis die hospitaal waar ek werk en ek weet daar is nie saans ’n dokter beskikbaar nie, net verpleegpersoneel. Die dokter moet gebel word wanneer dit nodig is.

Daar aangekom bring hulle ’n rolstoel nader. Verstommend genoeg slaag Berdine om self daarin te klim. Sy klim ook self op die bed. ’n Verdere wonderwerk wag op ons. ’n Dokter is vir ’n ander pasiënt ontbied en is dadelik beskikbaar om my kind te sien. Ons moet net ’n bietjie wag.

Skielik sê Berdine benoud: “Ma, ek kan nie meer sien nie.” “Toemaar,” troos ek, “dis omdat jou oë toegeswel is. Dit sal weer regkom. Hou maar net my hand vas.” Ek hou haar hand stewig in myne. Later praat sy nie meer nie. Sy druk net my hand. Toe begin haar greep op my hand ook verslap …

En ek weet! Ek weet! My kind het in ’n koma verval! Die dokter voel aan haar gesig. “Haar gesig is vergruis, dis ’n pappery,” sê hy. Ek is dadelik woedend. Dit wil ek nie hoor nie. Nog meer, ek wil nie hê Berdine moet dalk hierdie verdoemende woorde hoor nie. Daar moet hoop wees. Iets waaraan ons kan vashou.

“Ons moet ’n scan laat neem,” sê die dokter.

Ag, gee tog dat die uitslag positief is. Dat daar niks blywends verkeerd is nie. Berdine is besig met haar eksamen. Sy’s so jonk. Haar lewe begin nou eers!

Ons staan by toe sy by die scan-tonnel ingaan. Staan buite die deur terwyl die X-strale geneem word. Ons hoor die piep-piep van die monitors. En toe … skielik … is daar ’n stilte. Dis onheilspellend. Dis die stilte van die dood.

My kind het ophou asemhaal!

Nou geld geen reëls meer nie. Ek en Frederick storm in. Ons help die dokter en verpleegpersoneel om haar uit die tonnel te kry. Ons hardloop saam die gang af na die intensiewesorgeenheid. Daar help hulle haar om makliker asem te haal. Ons moet buite wag.

Net daar, buite die deur, sak ek op my knieë neer. Ek bid hardop. “Here, spaar asseblief my kind,” vra ek, smeek ek. Die radiografis kniel langs my en saam bid ons vir ’n wonderwerk. En so stuur die Here vir my die regte persoon, op die regte oomblik, om my te onderskraag.

Toe ek daar opstaan, vou ’n vrede oor my. Dis ’n vrede wat alle verstand te bowe gaan. Ek weet my kind gaan leef. Sy sal hier uitstap en huis toe gaan. Dankie! Dankie dat die dokter daar was. Sonder hom sou my kind dit nie gemaak het nie. Daar is so baie dinge waarvoor ek dankbaar kan wees. Maar die angstigheid bly.

Ons is alleen in die wagkamer, Frederick en ek.

Toe staan ons predikant daar om ons hande te vat.

En ons hoor dat Berdine gestabiliseer is …

En meer wonderwerke volg.

[pagebreak]

Berdine het ’n neuroloog nodig. Tot etlike maande gelede was daar nie een in Klerksdorp nie. Pasiënte moes Bloemfontein toe vir behandeling. Gelukkig het dokter Sarel, ’n neuroloog, onlangs ’n praktyk hier in Klerksdorp begin. Net betyds om my kind by te staan.

Sy moet geopereer word, maar die drukking op die brein is nog te groot. Ons moet wag. Wag en bid.

Maar toe sien ek dit … vog wat by haar ore uitloop. En by haar neus. “Die drukking raak te erg,” verduidelik die neuroloog. “Ons sal nóú moet opereer.”

Die operasie duur elf uur. Elf nimmereindigende ure waar ons buite die teaterdeure wag. Spanningsvol. Afwagtend om te hoor hoe dit met haar gaan. Berdine se gesig word van binne af opgebou. Die drukking op haar brein word verlig. Dis ure met my gedagtes in ’n warboel: Sal sy letsels oorhou? Gaan daar breinbeserings wees wat die res van haar lewe gaan beïnvloed? Wat lê daar vir my kind voor? Hoe lank moet ons nog wag?

Maar ook hier is daar vir ons genade. Elke uur kom iemand na ons toe. Elke nou en dan kry ons nuus oor wat agter daardie toe teaterdeure aangaan. Elke uur word ons bemoedig oor die uitkoms van die operasie.

En toe … uiteindelik word Berdine uitgestoot.

Sy is steeds in ’n koma, maar hierdie keer is dit ’n beheerde koma. Sy word verdoof om nie wakker te word nie. “Haar beserings is van so ’n aard dat haar oë nie vanself kan toemaak nie,” verduidelik die dokter, “daarom moet ons haar oë toehou sodat dit nie uitdroog nie.”

Dae lank waak ons by haar bed. Ons gaan slaap net snags by my ma wat hier in Klerksdorp bly.

Baie later ontvou die hele verhaal. Ek hoor dat my pragtige dogter se gesig aanvanklik heeltemal ingeduik was. Maar teen die tyd dat ek by die ongelukstoneel opgedaag het, het haar gesig begin opswel. Die Here het my oë toegemaak sodat ek nie die volle omvang van haar beserings kon besef het nie. As ek dit enigsins die aand van die ongeluk vermoed het, sou ek haar nie wou vervoer nie. Ek sou op die ambulans gewag het.

En dan, dit weet ek nou, sou dit te laat gewees het …

Berdine se broers daag op en sit ure lank langs haar bed. Hulle gesels met haar. Ons almal praat voortdurend met haar. Ons vertel haar wat gebeur het. Ons probeer haar gerusstel oor die dinge waaroor sy haar miskien sou bekommer as sy enigsins van haar omgewing bewus was. “Ek het met die universiteit gepraat,” verduidelik haar pa. “Hulle weet wat gebeur het en dat jy nie eksamen kan skryf nie, maar dis oukei.” “Moenie bekommerd wees nie. Die versekering het uitbetaal.” Ons herhaal dinge, want ons weet nie meer waaroor om te praat nie.

[pagebreak]

Die dag van haar mondigwording breek aan. Dis ’n dag wat ons eintlik so anders sou wou vier. Maar ons doen wat ons kan. Ons bring ballonne en tooi haar hospitaalbed daarmee.

Berdine maak geluide. Sy probeer iets sê, maar ek verstaan nie. Dis ontstellend om haar frustrasie te sien. Haar lippe beweeg, maar sy kan nie praat terwyl die pyp nog in haar keel is nie. Wat vra sy? Wat het sy nodig?

En toe, een oggend, stap ek die hospitaalkamer binne terwyl die verpleegster haar voer. “Toe Berdine,” moedig sy haar aan. “Groet jou ma.”

Sy kyk na my. “Hallo Ma,” sê sy.

Ek bars in trane uit. Sy kyk verbaas na my.

“Ek kon dit nie verstaan nie,” verduidelik sy later. “Want terwyl ek in ’n koma gehou is, het ek dan met julle gepraat. Ek het aangeneem julle hoor en verstaan my.”

Daardie dag is vir my ’n wonderskone dag, want my kind is terug. Daardie dag begin Berdine met haar lang pad na genesing. Dis nie altyd ’n maklike pad nie. Daar is baie teleurstellings. Maar daar is ook meer verrassings. En na nog drie weke gaan sy huis toe.

My kind het nie ongeskonde daarvan afgekom nie. Sy het die sig in haar regteroog verloor en sy kan nie meer ruik nie. Daar is ook ’n letsel van die operasie, maar haar blonde hare bedek dit. En op haar voorkop, wanneer sy haar kop op ’n sekere manier draai, sien jy ’n skroefie onder die vel.

Maar vandag is dit alles net blote herinneringe aan wat was, en hoe erg dit kon gewees het. En dit alles laat ons diep dankbaar: My kind leef en sy is pragtig! Sy is gelukkig getroud en die mamma van ’n pragtige klein seuntjie. En ons weet – die Groot Geneesheer laat steeds wonderwerke gebeur.