Daardie alewige rusies oor geld!

0
546
baklei oor geld

Voel dit asof jy en jou man oor niks anders as geld baklei nie? Ons wys hoe julle die finansies saam kan bestuur as ’n span.

Jy stap vrolik by die voordeur in, net om die volgende oomblik oor leë bokse te struikel. Manlief het sowaar ’n nuwe rekenaar gekoop sonder om jou opinie te vra!

“Hoe kan jy so onverantwoordelik wees? Jy weet ons kan nie ’n rekenaar bekostig nie!” trek jy woedend los en gee hom geen kans om te verduidelik nie. Jy kan die teleurstelling op sy gesig sien. Hy is moeg van die gesukkel om julle finansies te laat klop, moeg vir al die beskuldigings en moeg omdat hy niks reg kan doen nie.

Geld is nie die oorsaak van die rusies nie

Dit klink dalk vreemd, maar geld is nie die sondaar nie – julle stry nie oor geld nie. Geld is maar net iets wat julle met mekaar deel en saam moet bestuur. Die probleem is dat julle verskillende waardes daaraan heg, verskillende prioriteite het oor dit wat gekoop moet word en op verskillende maniere spandeer.

Die probleem lê dus binne-in julle. Kry eerder ’n manier om julle finansies as ’n span te bestuur. Die oomblik wat elkeen sy eie kop volg asof julle nog twee aparte mense is wat nie saam ’n lewe het nie, sal konflik ontstaan.

’n Goeie manier is om dit met tennis te vergelyk. Julle is soos twee opponente aan weerskante van die net – op dieselfde baan en in dieselfde spel, maar teen mekaar. Al wat moet gebeur, is dat julle ’n gemengde dubbelspan moet word wat teen die opposisie (om finansies saam te bestuur) speel.

Erken dat julle verskillend dink en doen

Jy en jou man dink waarskynlik heeltemal anders oor geldsake. Julle het immers verskillende rolmodelle gehad en het verskillende behoeftes, prioriteite en drome oor geld. Wees dapper en erken dat jou manier net joune is en nie noodwendig die regte manier nie. Kies om jou man die reg te gee om homself te wees – selfs al bedreig dit jou aanvanklik.

Vra jou maat om jou te help om sy benadering tot die gebruik van geld te verstaan. Luister noukeurig na die vrese, wense, prioriteite en emosies wat daar in sy hart lê. Wanneer jy die hartklop agter sy gedrag beter verstaan, sal sy andersoortige optrede jou minder grief.

Erken aan mekaar dat julle manier van dink en doen noodwendig ’n effek op mekaar het. As jy suinig bestee, kan dit hom ingeperk laat voel en as hy spandabelrig is, kan dit jou laat voel dat hy geld verkwis. Buitendien is dit so dat wanneer een die geld gebruik om sy of haar behoeftes te bevredig, dit voorkom dat die ander een se behoeftes bevredig word.

Gaan sit en werk ’n goeie plan uit

Skep gereelde tye om oor julle finansies te gesels. Praat oor dinge soos die werklikheid van julle finansiële posisie, dit wat jy nog graag vir jouself wil koop of wat hy graag sou wou hê. Oop kommunikasie voorkom dat onbeplande aankope jou onverhoeds betrap, wat rusies gaan voorkom.

Werk saam aan ’n plan hoe julle julle geldsake gaan bestuur. Wees prakties. Beplan byvoorbeeld vooraf hoe die volgende bonus gebruik gaan word en hou by die ooreenkoms. Besluit ook saam op ’n bedrag wat elkeen aan sy eie behoeftes kan spandeer sonder die ander een se toestemming.

Moenie mekaar (of mekaar se ouers) blameer nie. As julle saamstaan teen die probleem en saam na oplossings soek, is die kanse beter om die spel te wen.

Sodra julle die afdeling van finansies onder die knie het, moet julle leer om op ’n soortgelyke manier ’n goeie span te word in die bestuur van ander dinge. Dit geld vir enigiets, soos die kinders, skoonouers en waar julle vakansie hou. Deur in spesifieke situasies maniere te vind om as span te funksioneer, sal julle ook ’n nuwe klomp lekkerkry in julle verhouding beleef.