Daardie nag het die vuur soos ’n veldbrand versprei

0
9
Nov'12-FINAAL-GESET-mystori.jpg

Op sy plaas het die sanger Chris Chameleon vrede gevind. Maar toe hy die vuurgloed sien, het hy gaan help en moes hy ’n skriknag trotseer omdat die brand alles wat voorkom sou verteer …

’n Skaap bly doodstil staan wanneer die vuur hom inhaal. Om ’n skaap te sien brand, is ’n gesig wat ’n mens nie vergeet nie.

Ek stap buitentoe om die vars aandlug diep in my longe in te asem. Ek is waar ek wil wees: tussen die berge en die beeste. Hier vind ek ’n vrede wat my in die stad ontwyk, hier is ek opnuut bewus van die natuurelemente, die grootsheid daarvan. Die weerlig wat verwoed oor die donker hemel blits, die kleurespel wat geen kunstenaar kan nadoen nie, die oorverdowende harde donderslae, skrikwekkend mooi en so tipies van hierdie wêreld.

Dis toe ek opkyk dat ek die rooi gloed in die verte sien en besef dat dit ’n veldbrand is … Dit word koud in my. ’n Veldbrand in die Vrystaat kan ’n onoorkomelike ramp wees vir enige van die boere hier rond.

Ek moet gaan help, besef ek dadelik. Dis wat die inwoners van die omgewing doen. Wanneer die veld begin brand, staan almal sy aan sy saam om dit te keer en om te red wat nog gered kan word. Want ons weet dat daar waarheid steek in die uitdrukking dat iets “soos ’n veldbrand” kan versprei. Ek soek my sleutels, spring vervaard in my bakkie en ry in die rigting van die gevaar.

Toe ek naderkom, sien ek dat die vuur in volle vaart is. Die wrede vlamme ongetem en amper hemelhoog. In hierdie stadium is mý plaas nie in gevaar nie, nie onmiddellik nie. Maar dis nie ter sake nie. Die tierende wind waai verwoed en kan enige oomblik draai. Die vyandige vlamtonge kan genadeloos voortspoed en ewe gulsig en vernietigend aan my grond begin lek. Tog is dit nie werklik waarom ek help nie; hier leef ons waarlik die gedagte van ubuntu uit. Ter wille van oorlewing en omdat ons wil. Wanneer ék die dag hulp nodig gaan kry, weet ek sal ek nie alleen staan nie.

Ek word getref deur ’n vreesaanjaende chaos die oomblik toe ek uit my bakkie klim. Die onnatuurlike hitte wat teen my lyf slaan, die onheilspellende kleur van die vuurvonke, die kakofoniese geraas om my – alles doemprofetiese voorspellings van dood en verwoesting.

[pagebreak]

Gelukkig is die gewasse al gestroop, dink ek in ’n vervlietende oomblik. Maar dis weiveld wat hier vernietig word, kos wat die boer wat hierdie grond huur, vir sy vee gaan nodig hê. Van hierdie wêreld gaan daar net swart verbrande stoppels oorbly.

Daar staan nóg ’n bakkie, sien ek. My buurman, Dirk van Niekerk, wat hom ook dadelik hierheen gehaas het. “Daar’s vee wat teen die grensdraad vasgekeer is!” roep hy bo die geknetter van die brandende takke uit. “Hulle gaan brand as ons nie iets doen nie!”

Ag hemel tog! Net nie dít nie. Die veld wat brand is erg genoeg, maar diere wat ook in die slag bly, is iets verskrikliks om te aanskou. Dis net ek en Dirk wat hier is, net ons twee wat iets kan doen om die diere te red. Daar is net een hoop – ons moet die draad sny, die vee uit die pad van die vlamme kry. Gelukkig het Dirk ’n tang in die bakkie.

Toe ek naderkom, hoor ek die gebulk van die beeste, die klaende geblêr van die skape. Daar is ’n ondertoon van onrustigheid onder die vee, maar natuurlik nie die volle bewustheid van die gevaar wat mý gedagtes teister nie.

Ek ken beeste. Ek weet teen die tyd hulle sal wel voor ’n vuur uitbeweeg, maar nog steeds hier en daar talm om aan ’n halmpie te kou. Eers wanneer die vlamme hul behoorlik oorval, sal hulle begin wild raak en kan dit op ’n algehele deurmekaarspul afstuur.

Skape reageer weer anders. ’n Skaap bly doodstil staan wanneer die vuur hom inhaal, staan amper gedweë so in die vlamme – totdat sy kop letterlik oopbars. Om ’n skaap te sien brand, is ’n gesig wat ’n mens nie maklik vergeet nie. Ek wil tog nie hê dit moet vanaand hier gebeur nie; daarom probeer ek lewe blaas in die vee wat verward om my saambondel.

Dis seker wat bedoel word met “stomme” diere; diere wat te dom is om sonder hulp gered te word. Die draad val plat toe Dirk dit geknip het en die weg na vryheid is oop. Al wat nou gedoen moet word, is om die vee so ver te kry om soontoe te beweeg.

Daar is baie diere, sien ek. Seker maklik ’n honderd skape, amper net soveel beeste. Dis amper tyd vir die koeie om te kalf, wat die skade nog groter sal maak as hulle iets oorkom. En as hulle bly waar hulle is, gaan hulle beslis doodbrand. Daar is nie ’n minuut te verspil nie.

Die plaaslewe het ’n groot verandering in my lewe gebring, maar ek sou my nie sommer hierdie situasie kon voorstel nie. Sommige dinge gebeur net met ’n mens, maar soms bevind jy jou in ’n posisie omdat jy gekies het om daar te wees. Ek is gelukkig hier op Verkykerskop tussen my Nguni-beeste. Ek wóú van die stad ontvlug en ek het uit vrye wil besluit om te kom boer. Naweke glip ek graag hierheen weg. Dis my stokperdjie én my lewe.

Dis hoe God ons bestem het om te bestaan, dink ek dikwels. Alles wat jy regtig nodig het, is hier. Alles vanuit die natuur. Hier op die plaas voel ek die naaste aan Hom. Die jare op landbouskool het sy stempel op my afgedruk en die veld het na my geroep, die veld wat nou hier om my in vlamme staan.

Meer van die boere van die omgewing daag op, almal bereid om te help waar hulle kan. Daardie nag kry ek nuwe bewondering vir die boere wat verantwoordelikheid neem om vure te blus. Daar is bakkies met watertenks, spanne brandslaners en die boere tree professioneel en doeltreffend op.

Daar is nie juis tyd vir praat nie. Ek skree my longe uit op die vee. “Wha! Sjoe! Soontoe. Move!” My stem raak weg in die geweldige wind en die honger vlamme wat genadeloos voortspoed. Daar woed chaos om my, diere wat verward rondmaal, die wind wat sonder ophou verwoestend waai, die helwarm gloed, die rook …

“Chris! Kom terug! Los, dis te gevaarlik!” hoor ek Dirk roep, maar ek kan nie, ek kan nie die diere aan hul lot oorlaat nie.

Die skape gedra hulle … wel, soos ’n trop skape. Die beeste is nie veel beter nie. Ek kry die eerste bees met groot moeite deur die opening anderkant toe, maar met die tweede een gaan dit makliker. Die derde een het nie veel aansporing nodig nie en die res volg vanself.

Ek kyk vlugtig oor my skouer. Die vlamme kom steeds met ’n spoed nader. Maar dan sien ek dit – daar is nog beeste in ’n aangrensende kamp. Ek klim oor die draad onder die indruk dat Dirk hier ook die grensdraad sal knip. Hierdie beeste moet tog ook uitgejaag word. Ek skree op die beeste. Ek hardloop om hulle, jaag hulle aan soos ’n skaaphond. Aanvanklik raak ek nie moedeloos nie. Daar is nie tyd vir bepeinsing, vir besluite neem nie, ek hou net aan, ek doen net wat ek kan om die diere na vryheid en veiligheid te bring.

[pagebreak]

Maar hierdie keer is dit nie so maklik nie. Ek raak vasgekeer tussen die diere en die verterende vlamme. Om my dwarrel die rook versmorend, die hitte so intens dat ek nie helder kan dink nie. Ek raak heeltemal rigtingbeduiweld. Ek is rook omgewe, kan niks sien nie, kan nie asem kry nie. My longe brand en om my kraak en raas dit. Die vlamme kruip nader. Ek jaag die beeste na waar ek vermoed die opening na veiligheid is, maar hulle gaan nie deur nie, bondel net saam, retireer.

Wat gaan aan? wonder ek, sonder om te besef dat die draad nie geknip is nie. Maar dan voel ek die hitte op my vel en besef ek beweeg nader aan die vuur, nie andersom nie. ’n Oomblik lank is ek heeltemal gedisoriënteerd, weet ek werklik nie waarheen om te gaan nie. Ek is vasgevang! dink ek doodsbenoud. Die paniek gryp my aan die keel, wurg my. Dis ’n verlammende besef – die wrede wete dat ek moontlik nie te voet vinniger as die vuur sal kan vlug nie, dat ek enige oomblik deur vlamme omhul kan word. Hulle sê dis ’n pyn soos geen ander, dat dit ’n verskriklike dood is …

Ek kyk op na die hemel – wat vuurrooi is. Maar dan skop my oorlewingsdrang in. Onlangs nog het ek as spreker by ’n kunsuitstalling van Juria le Roux filosofies geraak oor die dood. “Die dood,” het ek die gehoor tydens my toespraak herinner, “is een van die voorwaardes van die lewe, ’n onafskeidbare deel daarvan. Jy kan nie daarvan wegkom nie.”

Ek het uit 1 Korintiërs 15 vers 55 aangehaal: “Dood, waar is jou angel?” Geloof gee krag en ek glo dat die einde van ons lewe hier op aarde nog lank nie die finale einde is nie. Daarin lê ons troos en hoop. Tog is ’n mens se vrees vir die dood inherent deel van jou en jy vlug instinktief daarvan af weg met alles in jou. Ek moet my asem ophou en in aller yl voor die vlamme uitvlug, besef ek. Ek kan nie sien waar ek hardloop nie, kry nie asem nie, kan nie helder dink nie …

Met groot genade trap ek nie in ’n gat nie, struikel ek nie, of val ek my nie katswink sodat ek magteloos in die pad van die vlamme beland nie. Dan sien ek Dirk se bakkie voor my en spring in. Ek moes helaas die beeste in die tweede kamp aan hul lot oorlaat.

Later sou ek hoor dat Dirk, wat meer ervaring het, besef het dit raak lewensgevaarlik om langer daar te bly. Hy’t die veld ingejaag waar dit veiliger sou wees, op soek na my, sonder om te besef ek is terug om die tweede kamp vee te probeer uitjaag. Later is hy terug pad toe met sy bakkie, nog steeds sonder om te weet waar ek is. Dit was blote genade wat ons bymekaar uitgebring het. Vir ure daarna ry ons nog op en af met die pad, patrolleer ons nog die omgewing. ’n Vuur wat deur so ’n sterk wind aangejaag word, kan maklik oor ’n teerpad spring en verder verwoesting saai. Dit word ’n nag waarin ek waarlik beleef wat dit beteken om boer te wees.

“Is dit nie vreeslik eensaam op die plaas nie?” word ek soms gevra. Ek weet van alleenwees, maar nie regtig van eensaamheid nie. Ek ken die gevoel wanneer jy by iemand wil wees, maar nie kan nie. Soms is dit net nie moontlik nie – en soms wíl daardie persoon jou nie daar hê nie. Maar alleenwees-tyd is ook die tyd vir lees, skryf, musiek maak en vir dankbaarheid. In die relatiewe veiligheid van die bakkie oorspoel ’n gevoel van diepe dankbaarheid my nou – dankbaarheid dat die woede van die vuur my nie verswelg het nie.

Eers teen drieuur daardie oggend kan ons ’n sug van verligting slaak omdat die vuur nie oor die pad versprei het nie. Vir die eerste keer dring die werklikheid régtig na my toe deur en besef ek – ek kon vanaand doodgebrand het. Dit was my instink wat oorgeneem het, sonder dat ek ten volle bewus was van hoe lewensgevaarlik ’n veldbrand kan wees.

Daar het beeste doodgebrand, ja. In die helder sonskyn van die nuwe dag sal die verskroeide veld besaai lê van die karkasse, ’n ontstellende en hartseer gesig. Die reuk van die rook en die reuk van die dood sal in die lug hang. Getuienis van die ontsetting wat saam met so ’n veldbrand gaan, die donker spoor van die dood wat deur so ’n inferno nagelaat word. Die beeste wat nie dood is nie, sal staan en bulk van die pyn. Hulle sal uit hul lyding verlos moet word; ’n hartverskeurende taak vir enige boer. Die skade sal bereken word, maar hoe sit jy ’n prys op die smart wat daarmee saamgaan, die trauma vir mens en dier? Ek voel klein en magteloos teen die geweld om my, maar tog weet ek dat God in beheer is.

Ons het gedoen wat ons kon, troos ek myself. En ek, in my onkunde, het selfs meer gewaag as wat wys was. Ek sal dit weer doen – weer sonder huiwering gaan help waar ek kan. Hierdie keer net met meer ervaring en daarom versigtiger en met groter vrees vir die gevaar van ’n wegholbrand wat alles vreet wat voorkom en nie maklik gekeer kan word nie.

Gedurende daardie verskriklike nag kry ek opnuut respek vir die boere wat weet hoe om in ’n krisis soos hierdie op te tree. En ek leer iets by oor die plaaslewe – dat dit nie vir sissies is nie.