Daardie stereotipe

Vir baie vroue is dit belangrik om die regte haarkapster te vind. Veral in die geval, soos by my, waar jou wonderlike haarkapster-moeder jou hare altyd gedoen het net soos jy daarvan hou, en dit was boonop verniet ook nog.

Toe ek en my man van Alberton na Pretoria verhuis het, en my moedertjie as haarkapster afgetree het, moes ek ‘n nuwe (betroubare) haarkapster vind. Ek hou maar van verwysings, en hoor toe van een wat blykbaar oulik is, met billike pryse daarby.

Die dag toe ek daar instap plaas ek haar dadelik in die stereotipe-haarkapster boks in my gedagtes, sy het bloedrooi hare in ‘n vreemde styl gesny en lyk sommer net soos iemand wat daarvan hou om dalk ‘n skinderpraatjie of twee te deel, en dalk nog ‘n aandjie uit ‘n bietjie té veel te geniet. Maar, o my wêreld, was ek verkeerd!

Ons raak toe aan die gesels, soos wat dit mos maar by die salon gaan, sy vra my uit oor waar ek vandaan kom en waar ek werk, en en en… Ek vertel vir haar dat ons van Alberton na Pretoria verhuis het omdat ek by Radiokansel begin werk het, en net daar stop sy my in my woorde-spoor. Sy begin vir my vertel van hoe die Here daardie oggend met haar gepraat het, hoe Hy ‘n vers vir haar gegee het wat nog heeldag in haar gedagtes maal. Net daar tik die Here my oor die vingers en leer my om nie te vinnig te oordeel nie. Hoe lekker het ek en sy daardie dag gesels!

Tot vandag gaan dit so, ons gesels land en sand oor die lekker dinge en hoe goed die Here vir ons is.

Mag jy vandag met nuwe oë na mense kyk en stadig wees om hulle in ‘n stereotipe boksie te plaas.

Seënwense,

Stephanie